Friday 21 November 2014

Mnr. Smit - deur Anton Brink

Ek het 'n tyd gelede 'n baie mooi beskrywende verhaal gelees wat handel oor 'n silwer Smit, miskien ken jy dit?

Dit gaan oor 'n man wat 'n stuk silwer oor en oor in 'n baie warm oond druk. Die uniekheid van hierdie verhaal is die feit dat, vir die doeleindes van hierdie storie en die beginsel daar agter, kan hierdie stuk silwer praat asof dit lewe.

Meeste van ons weet seker dat om 'n edel metaal soos silwer 100 % skoon en suiwer te kry, moet jy dit smelt in 'n vreeslike warm oond. Om silwer ordentlik te smelt het jy 'n temperatuur van so net 'n rapsie onder 1 000 grade Celsius nodig.

Wanneer die silwer Smit dan aanhoudend dié pratende edelmetaal weer en weer in die warm oond druk, roep dit (die silwer) uit en vra die man hoekom hy dit doen. Die oond is tog so vreeslik warm en dit is glad nie lekker om daar in te wees nie.

Hoe lank nog?

Op 'n stadium roep die silwer uit in pure frustrasie en moedeloosheid en vra vir die Smit hoe lank die warm oond en smelt proses dan nog gaan aanhou waarop die man dan antwoord en sê: “Tot ek my eie refleksie in jou kan sien.”

Hoe werk dit?

Dit is regtig so, die beste manier om te sien of silwer, goud ens. heeltemal skoon en suiwer is en of al die vuiligheid daar uit gebrand is, is wanneer die een wat die smeltwerk doen sy eie beeld of refleksie daar in kan sien. Slegs dán is dié edel metaal gereed om gebruik te word en in 'n pragtige juwelier stuk soos 'n ring of 'n halssnoer gegiet te word.

Benoud en angstig.

Die vraag is, is jy iemand wat kan getuig daarvan dat dit op die oomblik vir jou voel asof jý in daardie oond is. Ervaar jy die benoudheid, angs en spanning van 'n situasie wat vir jou só moeilik is dat jy twyfel of jy dit sal kan hanteer en wonder jy ook en wil jy ook vir die silwer Smit vra hoekom, waarom en wanneer hou dit op?

Hou goeie moed. Die silwer Smit, die Here is besig met jou. Hy sal jou nie vernietig nie. Hy is net besig om al daardie onsuiwerhede uit jou te haal sodat Hy en die wêreld vir Hom binne-in jou kan sien.

In Jakobus 1: 2 – 4 staan daar geskryf: “My liewe mede Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees. Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef. Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil. So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie re op te tree.”

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader gee my asb. die krag en wysheid om die beproewinge in my lewe deur te staan. Beskerm my asb. in hierdie tyd Here dat ek sal aanhou en uithou totdat U en die mense rondom my vir U binne-in my kan sien en sodat U my sal kan gebruik tot U eer. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen



No comments:

Post a Comment