Jy onthou seker die verhaal van die drie varkies wat ons as kinders so
graag na geluister het en hoe elkeen van hulle 'n huis gebou het om in
te woon?
Boumateriaal.
Die eerste een se huis was van strooi gebou, die tweede een sin van
hout en die derde en laaste varkie se huis van bakstene met 'n goeie en
sterk dak en ook ’n stewige fondasie. Jy onthou mos darem seker wat in
die verhaal gebeur?
Hy kan probeer so hard hy wil.
Die wolf kom en blaas die eerste twee varkies se huise sommer net so
onderstebo máár wanneer hy by die derde vark se ordentlik geboude en
stewige baksteenhuis aankom kan hy daar net mooi níks regkry nie.
Alles oor.
Uiteindelik probeer hy (die wolf) dan op die dak van dié baksteenhuis
klim sodat hy sommer deur die skoorsteen kan kruip en sodoende dan by
die varkies kan uit kom om hulle op te eet. Dié varkies is egter
slaggereed vir hom en die wolf beland dan in 'n pot kokende warm water
en so kom hy dan aan sy einde.
Dis met ons ook so.
Op
'n manier lewe elkeen van ons elke dag hierdie verhaal van die drie
varkies uit en afhangende van hoe stewig jóú geestelike huis is, sal dit
bepalend wees van of die “wolf” dit gaan regkry om by jóú uit te kom en
of hy jóú ook gaan vang en opeet.
Wees sterk in die Here.
Onthou dat die “wolf”, of in ons geval die duiwel, kan regtig eintlik
nie veel meer aan jou en my doen as om net te hoes en te proes nie. Dit
is slegs wanneer ons geestelike lewens nie is waar dit veronderstel is
om te wees nie en ons sodoende as’t ware ’n oop of swak mure in ons
lewens het dat hy (die duiwel) by ons kan uitkom en ons verskeur.
Wees op jou hoede.
Hoe maak jy seker dat jy veilig is? Wel, om mee te begin móét jy 'n
lewende en opregte verhouding met God hê deur die Here Jesus as
verlosser te ken en Hom met jou mond as jou Saligmaker te bely.
Jy kan nie daarsonder nie.
Hierdie lewende, opregte en intieme verhouding met God gaan jy net
bereik wanneer jy kwaliteit tyd in gebed by die Here spandeer,
daarsonder woon jy eintlik maar in 'n geestelike huis van strooi wat
maklik deur die vyand omgeblaas kan word. 'n Sterk gebed lewe is
krities belangrik.
Weerstaan die duiwel.
Tweedens. Jy
moet moeite doen daarmee om te sorg dat jy géén doelbewuste sonde in
jou lewe het nie, onthou, God soek een honderd persent van jou, Hy wil
alles van jou hê nie net ’n bietjie nie. Moenie vir Hom 99 % gee nie.
As jy wel iemand is wat tans doelbewuste sonde in jou lewe het onthou
asb. net dat God sal nou nie verwerp a.g.v. daarvan nie. Hy is lief vir
ons nét soos wat ons is máár Hy is gelukkig tog té lief vir ons om ons
te los soos wat ons is.
Enige iets in jou lewe, gewoontesonde
ens. wat vir jou belangriker is as God noem Hy 'n afgod en verstaan
mooi, Hy is nie bereid om jou te deel nie, nie nou nie, nie ooit nie.
As jy 'n redelik toegewyde gelowige is maar nog altyd meestal jou eie
kop volg en wat steeds ook nie kan of wil breek met sonde in jou lewe
nie, ten spyte daarvan dat jy wéét God praat met jou daaroor, is jy soos
die varkie in die hout huis.
Jy staan wel 'n bietjie
stewiger a.g.v. van jou redelik toegewyde verhouding met die Here maar
met net so 'n klein bietjie meer “effort” sal die wolf jou plekkie
uiteindelik óók omblaas.
Doelbewuste sonde laat ongelukkig ’n
oop deur in jou lewe vir die vyand en gee dit hom eintlik wettige
grondgebied in jou lewe waardeur hy jou kan aanval en seermaak. Laat
dus liewer toe dat die Here jou van daardie sonde help vrymaak. Dit
gaan ongelukkig nie gebeur as jy nie eers gewilliglik daartoe instem nie
so maak daai keuse vandag
Derdens. Dis die huis van bakstene
met die sterk dak en fondasies. Jy is veilig geanker in jou verhouding
met God deur gebed, aanbidding en die woord van die Here wat jy daagliks
inneem om jou gees mee te voed. Jy maak moeite om te bid en by die
Here se voete te gaan sit en jy het gebreek met jou doelbewuste sonde in
jou lewe en jy streef daarna om, en doen ook, elke dag die wil van God
soos jy ervaar Hy jou deur die Heilige Gees lei en leer.
Jy
het jou offers van die vlees gebring en dit (jou vlees) gekruisig en
begeer om meer van die Here in jou lewe te hê. By hierdie huis sal die
duiwel dit baie moeilik vind om in te kom, eintlik amper onmoontlik maar
dit gaan hom beslis nie keer om nog steeds te probeer nie. Hy sal
enige iets uitdink en ook enige mense of enige situasie gebruik om jou
te probeer vernietig.
Dit is wanneer ons gereed moet wees met
'n plan. Ek sê altyd, die woord van God leer vir ons dat as enige een
van ons wysheid kortkom moet ons dit van God bid en dan sál Hy dit vir
ons gee. Wanneer jy dus ervaar dat die duiwel wel besig is om deur jou
stewige huis se skoorsteen te probeer glip vra dan God vir daardie
wysheid om te weet hoe jy moet optree of wat jy moet doen sodat dié
duiwel in jou lewe ook in daai pot kokende warm water sal beland en so
aan sy einde sal kom.
Ander mense word daardeur geraak.
'n Laaste ding wat vir my uitstaan omtrent die derde varkie is die feit
dat die ander twee onverantwoordelike varkies sáám met die derde een op
die ou end in dié (die verantwoordelike varkie) se huis was. M.a.w. my
en jou gehoorsaamheid aan God kan 'n beskutting, 'n veilige hawe ook
vir ander mense beteken. Net so kan ons ongehoorsaamheid ongelukkig ook
die teenoorgestelde effek hê en ander mense se seer en ondergang
beteken.
’n Voorbeeld.
'n Pa wat elke oggend vroeg
opstaan en bid vir sy vrou en kinders en wat nie toelaat dat sonde deel
van sy lewe is nie skep beslis daardie veilige huis vir sy gesin en die
seën en beskerming van God rus gevolglik nie net op hom nie maar ook op
sy gesin. Hulle is dus veilig omdat hulle Pa verantwoordelik en
gehoorsaam is.
In Matheus 7: 24 – 27 staan daar geskryf,
“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan
vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het.
Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie
huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want
die fondament was op rots. En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en
nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis
op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom,
winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het
ingestort en is heeltemal verwoes.”
Bou van vandag af jou
geestelike huis op ’n vaste fondasie en met daardie stewige mure en dak
sodat die vyand jou nie sal kan verwoes nie.
Sterkte!
Kom
ons bid. Here help my om meer te bid, help my om meer tyd by U te
spandeer sodat ek ook in 'n geestelike sterk huis sal kan woon en ook
aan my familie en vriende die veilige hawe kan bid wat hulle verdien.
Here gee asb. vir my wysheid om die aanslae van die vyand raak te sien
en effektief teen te staan. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus.
Amen.
No comments:
Post a Comment