Vrydagoggend het ons almal wat by Tygerberg 104fm betrokke is oudergewoonte in die kafeteria bymekaargekom.
Soos gewoonlik kon ons luister na ’n getuienis, het ons saam gesing en
ook saam gebid. Die bekende kunstenaar Neville D was hierdie keer daar
en dit was besonders lekker om te hoor waar hy vandaan kom en hoe die
Here hom gebring het tot waar hy vandag is.
Na alles verby is
en ons al amper op die punt gestaan het om af te sluit het ons hoof
uitvoerende beampte, Hardus Zevenster, ook eers met ons gesels. Hy het
gepraat oor die vakansietyd wat voorlê en het gesê dat ons almal ’n
welverdiende ruskans verdien en dat ons die af tyd saam met ons
geliefdes baie moet geniet.
Hy het ook gepraat oor die afgelope
jaar wat verby is en met trots verwys na al die dinge wat ons as ’n
span kon regkry en hoe hierdie dinge werklik ’n groot impak ten goede op
die gemeenskap in die Kaap maak.
Hy noem toe ook ’n paar
interessante statistieke oor Tygerberg 104fm vir die afgelope 12 maande
wat my behoorlik stom geslaan het net om dit by ons tuis te bring wat
dié radiostasie eintlik vir mense beteken.
Wat vir my die
kosbaarste was, was die feit dat Hardus vir ons vertel het dat ons oor
die afgelope jaar gemiddeld 13 oorgawes per dag by Tygerberg 104fm gehad
het. M.a.w. elke dag van die afgelope jaar wat verby is, was daar
dertien mense wat hulle harte vir die eerste keer vir die Here Jesus
gegee het en sodoende dus tot bekering gekom het. Is dit nie wonderlik
nie?!
Behalwe die oorgawes het ons beraders en gebedsvriende
ook gemiddeld 48 gebedsversoeke elke dag hanteer. Dit is interessant om
op te let dat die meeste van daardie versoeke gehandel het oor
verhoudings of huwelike wat verbrokkel en finansies. Elkeen van hierdie
gebedsversoeke is hanteer en aan die Here opgedra.
Ek en al
die ander mense wat by Tygerberg 104fm betrokke is kon net weer vir die
Here dankie sê dat ons by hierdie wonderlike werk kon betrokke wees, dit
is inderdaad ’n voorreg.
Behalwe hierdie wonderlike statistieke wat ek met jou wil deel vandag wil ek ook graag ’n uitnodiging aan jou rig.
As jy iemand is wat nog nie die Here Jesus leer ken het as jou eie
persoonlike Saligmaker nie dan gee ek jou nou vandag hier die kans. Jy
sal sien aan die onderkant van hierdie boodskap is daar ’n gebed. Ek
nooi jou om dit hardop saam te bid terwyl jy dit lees en maak vandag vir
Jesus die Koning van jou hart en lewe.
As jy dit klaar gedoen
het gee ons asb. ’n luitjie by Tygerberg 104fm. Vra om met een van ons
beraders te praat en vertel vir hulle dat jy ’n besluit geneem het om
die Here Jesus as verlosser te aanvaar. Hulle sal vir jou verder hulp
en raad gee.
Sterkte!
Kom ons bid. Hemelse Vader,
vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde,
oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek
besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade
of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.
Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die
derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die
regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die
Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.
Dankie
Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in
die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en
Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die
Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 3: 17
Ek dank U dat ek nou in
’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en
daaglikse Trooster en metgesel het. Amen
No comments:
Post a Comment