Thursday 18 December 2014

Here help ons! - deur Anton Brink

Die Bybel waarsku ons daar wag ellende op die mense wat dít wat verkeerd is reg noem en wat reg is verkeerd.

 
Jesaja.

Hierdie skrifgedeelte kry ons in Jesaja 5: 20. Daar staan geskryf: “Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter.”

By 'n parade.

Ek kyk eenkeer na selfoon beeldmateriaal op die internet van 'n insident wat in Amerika plaasgevind het, dit is afgeneem tydens 'n optog. Op dié beeldmateriaal kan jy sien dat daar 'n hele paar honderd bymekaar is en dat hulle deur die strate loop met baniere.

Hulle het dié optog gehou om fokus te plaas op die pleidooi van die gay gemeenskap in daardie stad en hulle vra dat die gemeenskap in die breë meer verdraagsaam moet wees teenoor mense wat homoseksueel is en dat daar nie teen hulle gediskrimineer moet word nie.

Straat predikante.

Op die video kan jy sien dat eenkant, op hulle eie, staan daar twee jong mans ook met baniere. Hulle het stil-stil probeer aandag trek na dít waarin hulle weer op hulle beurt glo.

Die een banier het net gesê “bekeer julle” en die ander een “die wie sterf sonder Christus kan nie die ewige lewe beërwe nie.” Hulle het m.a.w. die duidelike en ondubbelsinnige waarheid van die Evangelie verkondig.

Vuiste klap.

Skielik kan jy op hierdie video sien hoe 'n man én 'n vrou op hierdie twee Christene afstorm en hulle begin vloek, skel en dreig. Uiteindelik toe hulle sien dat hierdie twee jong mans nie van plan is om weg te gaan nie het hulle gewelddadig geword en hulle aangerand beslis met die doel om hulle ernstig te beseer.

Dubbele standaarde.

Selfs toe dié twee weerlose gelowiges al op die grond lê, het hulle aangehou om hulle te skop en te slaan. Dít alles gebeur by 'n optog waar mense deur dié einste optoggangers gevra word om verdraagsaam te wees, hoe maak dit sin?

Dit gebeur al vir duisende jare.

Moenie verbaas wees as jy deur die wêreld vir hierdie dinge veroordeel word nie. Dit was dieselfde met Jesus se dissipels gewees, van hulle het gereeld in die tronk geslaap en dit nét omdat hulle die waarheid gepraat en verkondig het.

Staan sterk en moenie bang wees nie. God sal jou nié verlaat nie.

Sterkte!

Kom ons bid. Here Jesus help my om altyd U nie veroordelende liefde met ’n verloregaande wêreld te deel. Help my Vader om altyd U ondubbelsinnige waarheid te praat maar om dit nooit maar nooit op ’n liefdelose manier te doen nie. Ek wil hê álle mense moet U leer ken as hulle verlosser maak nie saak wie of wat hulle is of wat hulle gedoen het nie. Mag dit so wees Here. Beskerm my en elke ander gelowige wat standpunt inneem vir U waarheid. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment