Monday 24 November 2014

Die polisieman, die handsak en die Pa - deur Anton Brink

'n Paar weke gelede moes ek en my vrou 'n saak van diefstal by die Polisie gaan aanmeld.

Dit was niks vreeslik ernstigs nie, ons het net ons motor by 'n plek laat was en een van die personeellede daar het toe gevoel dat die pak vol kinder DVD’s wat agter onder die sitplek gelê het eintlik aan haar behoort en toe vat sy dit.

Versekering.

Vir ons om 'n eis in te sit om te probeer om die waarde van die DVD’s terug te kry met 'n versekering uitbetaling moes ons noodgedwonge 'n klag by die polisie gaan lê sodat ons 'n saak nommer kon kry. Op die ou einde het die versekering toe ook nie eens uitbetaal nie maar dit is nie nou die onderwerp hier ter sprake nie.

Versigtig met haar woorde.

Terwyl ek en my vrou by die polisiebeampte sit en 'n verklaring gee van wat presies gebeur het sien ek hoe beantwoord 'n ander beampte 'n telefoonoproep. Ek kon duidelik hoor wat sy alles sê omdat sy net 'n klein entjie weg van my gesit het. Ek kon agterkom dat sy oomblikke later met hierdie telefoniese gesprek haar woorde behoorlik begin tel en dat sy nie té veel wou sê nie.

Na 'n rukkie het sy vir die persoon wat gebel het verduidelik dat sy nie oor die telefoon verder kón praat nie en dat hy maar liewer moet inkom na die polisiekantoor sodat hulle daar van aangesig tot aangesig dinge kan bespreek.

'n Groterige vaal handsak.

Toe die polisiebeampte die telefoon neersit draai sy na haar kollega en sê vir haar dat dié man wat nou gebel het, wou 'n jong vrou as vermis aangee. Toe sy egter mooi na die beskrywing van die meisie, die klere wat sy aangehad het asook die groot vaal kleurige handsak wat sy saam met haar gedra het luister, het sy besef dat dit presiés dieselfde beskrywing is van 'n jong vrou wat net die vorige aand van 'n brug afgespring het tot op die snelweg en sodoende haar eie lewe geneem het.

Dit was haar Pa.

Protokol by SAPS vereis dat sulke tragiese nuus nie sommer oor 'n telefoon met 'n naasbestaande gedeel moet word nie en dit is waarom sy die man wat gebel het (die meisie se Pa) toe gevra het om liefs na die polisiekantoor toe te kom sodat hulle in persoon die nuus kon oordra.

Na 'n rukkie.

Nie vreeslik lank daarna nie het 'n man en vrou, beide seker in hulle vyftigs, amper versigtig by die polisiekantoor ingestap. Ek kon sien dat hulle verwag die ergste en dit was ook so.

Die polisiebeampte het die handsak wat hulle in die kluis gehad het uitgehaal en aan die man en vrou gewys. Hulle het bevestig dat dit wel hulle dogter sin was waarna die diens offisier hulle toe na 'n kantoor iewers anders in die gebou vergesel het om die nuus met hulle te deel dat hulle dogter dood is.

Dis erg.

Ek kon my nie en wóú my eintlik nie indink hoe vreeslik erg dit vir daardie Pa en Ma moes wees om sulke nuus te moes hoor nie. Ek het hulle jammer gekry en sag by my self gebid dat die Here vir hulle sal onderneem.

Op pad huis toe.

Ek het daardie man en vrou nie weer gesien nie. Later toe ek en my vrou huis toe ry het ons weer daaroor gepraat en kon ek nie help om hardop te dink en te sê dat ek wonder of hierdie jong meisie wat selfmoord gepleeg het, en maar nét 19 jaar oud was, se saak met die Here reg was nie. Die feit is dat as sy die Here Jesus nie as verlosser en Saligmaker geken het nie sal sy nie die ewige lewe saam met Hom beërwe nie.

Ek weet daar is mense wat negatiewe kommentaar sal lewer en sal sê dat 'n gelowige sou in die eerste plek nie selfmoord gepleeg het nie en dat daardie meisie dus nie een kón wees nie maar dit is ongelukkig nie die realiteit nie. Daar is baie gelowiges wat so 'n drastiese stap oorweeg of selfs al probeer het. Die antwoord en reaksie daarop is dus nie so eenvoudig nie.

Dit eers daargelaat.

Of gelowiges so iets sou doen of nie maak nie nou saak nie. Wat ek wel by jou wil weet is of ken jy die Here Jesus Christus as verlosser en het die verlossing en vryspraak by die Kuis al aanvaar? Indien nie, moedig ek jou aan om vandag jou besluit te maak en sekerheid te kry oor waarheen jy op pad is.

Lees asb. die onderstaande gebed hardop saam en gee jou hart en lewe aan Jesus. Asb. wanneer jy dit dan gedoen het maak met ons kontak by Tygerberg 104fm en praat met ons beraders en gebed vriende sodat hulle jou kan help en raad gee. Ons nommer is 0861 104 104.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 17: 3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


No comments:

Post a Comment