Tuesday 2 December 2014

Toe kry ek my kind se plakkie in 'n ander vrou se handsak - deur Anton Brink

Ek moes eendag lekker lag vir die chaos wat 'n ou klein frats brandertjie op die strand by Blouberg kom saai het.

Dit was 'n lekker warm Sondagmiddag en ek, my vrou en ons twee kinders sit af see toe met ons strandsambreel, swem handdoeke en sonbrandolie om die dag by die see deur te bring.

Die kinders het dit natuurlik baie geniet en het mekaar op die sand rond gejaag terwyl ek en vroulief lekker in die skaduwee van die sambreel (wat ek diep in die sand geanker het) gesit en hulle dopgehou het.

Daar waar ons 'n plekkie op die strand gekry het, was die sand effe nat en het ek toe sommer al ons waardevolle items soos my vrou se handsak met die selfone en kamera in boaan die sonsambreel gehak sodat dit hoog en droog uit almal se pad kon hang en nie op die natterige sand hoef te staan nie.

Die res van ons goed soos die handdoeke, plakkies ens. het maar so rond en bont onder die sambreel gelê en pla mos in elk geval vir niemand nie.

Sonder waarskuwing.

Ewe skielik so uit die bloute hoor ek vrouens en kinders gil asof hulle lewens daarvan afhang en toe ek opkyk sien ek net 'n klomp water wat reguit op ons afpyl.

'n Groot golf het met baie krag op die strand gebreek en sy water het vêr teen die sand en tussendeur al die mense wat daar lê opgespoel.

Almal het verwoed rondgehardloop om te probeer gryp en red wat te red is. Ek was nét betyds om ons handdoeke en my plakkies op te tel maar die pak tjips was daarmee heen.

My dogtertjie se een skoen was heeltemal weg maar ons sou dit toe darem later (amper per ongeluk) in 'n wildvreemde vrou wat vêr agter ons gesit het se handsak kry.

Toe alles bedaar en die water weer teruggetrek het die see-in het ek gestaan en rondkyk na dié deurmekaar toneel wat hom voor my afspeel. Jy kon sien dat baie mense het waardevolle items verloor omdat hulle dit op die sand binne-in hulle hemde toegedraai het en dit toe nat geword het of heeltemal weggespoel het.

In die middel van al hierdie chaos het óns sonsambreel egter nog net so pen orent bly staan met die sak waarin ons waardevolle items was wat nog net so hoog en droog daaraan hang soos toe ek dit daaraan vasgesit het.

Wanneer die storms kom.

Ons sien nie altyd die frats branders in ons lewens aankom nie. Baie keer is dit heeltemal onverwags en kom dit so vinnig op ons afgepyl dat ons min of geen tyd het om te probeer red wat daar te red is nie. Voor ons weer sien spoel dit die dinge wat vir ons die kosbaarste is weg en kry ons dit dalk nooit weer terug nie.

Een ding is seker.

Die sonsambreel daardie dag was soos om geloof in God as ons Vader te hê en die sak met ons waardevolle items wat ek daaraan gehak het, is soos die kosbare dinge ons lewens.

Wanneer ons daardie kosbare dinge, ons huwelik, ons kinders, werk, toekoms ens. aan ons vaste geloof in God haak kan dit nie anders as om ook as’t ware hoog en droog te bly nie en kan die vyand dit nie sommer beetkry nie.

As jy dalk in so 'n situasie sit waar so 'n frats brander jou dalk onkant betrap het onthou dan dat God staan Sy kinders by in enige situasie en dat Hy jou altyd sal uitred as jy Hom daarvoor vra.

In Psalm 121: 1 – 2 staan daar geskryf: “Ek soek oral rondom my na iemand om my te help. Ek wonder dan: “Wie sal my nou regtig help?” Die Here sal my help. Hy het alles in die wêreld gemaak. Jy sal niks oorkom nie. God pas jou op.”

Skep moed. Haak dit wat vir jou waardevol is vas aan jou geloof in God sodat dit daar hoog en droog kan bly hang waar die vyand dit nie kan bykom nie.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader ek bring vandag alles wat vir my kosbaar is, my huwelik, my werk, my kinders en elkeen se toekoms en ek kom gee dit vir U, ek haak dit aan by my geloof en my vertroue in U en ek wil hê dat U dit asb. vir my sal bewaar en weghou uit die kloue van die vyand wat kom om te vernietig. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment