God is nie 'n mens nie en dus redeneer Hy ook nie soos ene nie, gelukkig tog dáárvoor!
Die Here maak nie besluite wat op wispelturige emosies gebaseer is nie.
As dit so was, sou ek en jy regtig groot probleme gehad het. Kan jy
jou indink hoe dit sou wees as God die een oomblik van plan is om jou by
te staan om dan die volgende oomblik skielik van plan te verander net
omdat Hy kwaad is vir jou?
Nee, God se manier van dink en
besluite neem hang nie af van hoe Hy op enige gegewe oomblik voel nie
maar eerder van wat Hy gekies het om te doen of nie te doen nie.
God ervaar emosie.
Moenie dink dat God nie emosie ervaar nie, dit is nie die waarheid nie.
Hy ervaar gevoel of emosie net soos ons. Ons lees in Genesis 1: 27
dat ons is na Sy beeld geskape. Ons kan dus aanvaar dat ons emosies
ervaar omdat Hy dit ervaar, die verskil is dat anders as ons, Hy nie
deur Sy emosies gelei word nie.
God kan kwaad word.
Kwaad word, dis is 'n emosie, en as daar nou een iemand vir wie jy nié
wil kwaad maak nie dan is dit nou God. Ons lees van God se toorn in die
Bybel en ons weet ook dat daar sal 'n dag kom wanneer Sy genadetyd oor
hierdie wêreld en elke mens wat Hom verwerp gaan uitloop.
Wanneer daardie dag kom, sal Sy oordeel of toorn op elke mens val wat
Hom nie wou ken nie. Om maar net één gedeelte uit die Bybel te sien wat
praat oor God wat kwaad word gaan lees Romeine 1: 18.
God kan hartseer word.
Ons lees in Efesiërs 4: 30 dat ons aangemoedig word om nie die Heilige
Gees te bedroef nie, m.a.w. om Hom nie hartseer te maak nie. Ons kán
deur ons sonde en ongehoorsaamheid vir God, die skepper van die hemel en
die aarde hartseer maak. Sy hart breek oor my en jou ongeregtigheid.
God hou van lag en blydskap.
Jy kan net iets vir iemand gee as jy dit self het. In Job 8: 21 staan
daar geskryf: “Job, Hy sal jou weer laat lag en uitroep van blydskap.”
Dit is God wat lag en blydskap vir Job sal gee.
Ons kan vir ure aangaan.
Emosies is volop en ons kan nog heeldag daaroor gesels en vir ure
aaneen daaroor praat. Die feit is God ervaar emosie net soos ons máár
met dié verskil, dit bepaal nie sy doen en late nie. Dit bepaal nie of
Hy by jou gaan bly of nie, of Hy aan jou getrou gaan wees of nie.
As jy aan Hom behoort bly Hy by jou deur dik en dun, maak nie saak wat
nie. Sy emosies bepaal nie Sy getrouheid nie, Hy kies om dit te doen,
daarom doen Hy dit wat Hy gesê het Hy sal.
In Eksodus 20: 6
staan daar geskryf: “Ek bly getrou en my liefde bly altyd staan vir
duisende geslagte lank vir almal wat lief is vir My en aan My gehoorsaam
is.”
Jy sal oplet dat daardie skrifgedeelte nié lees: “Ek bly
getrou wanneer ek 'n lekker dag het, goed voel en Ek lus is daarvoor en
My liefde bly altyd staan vir solank Ek so voel vir duisende geslagte
lank vir almal wat lief is vir My en aan My gehoorsaam is.” Hy bly
getrou al voel Hy hartseer, kwaad of teleurgesteld. Dankie tog!
Vir gelowiges.
Onthou dat hierdie voorreg waar God belowe om jou nooit te begewe en
nooit te verlaat nie is op gelowiges van toepassing. God bly aan my en
jou getrou omdat ons aan Hom behoort, dit geld nié vir ongelowiges nie.
Om die waarheid te sê God beloof in Sy woord dat Hy met hulle
(ongelowiges) gaan afreken en dit klink vir mý maar baie onaangenaam.
So, as jy iemand is wat die Here Jesus ken as verlosser wees dan vandag
gerus en weet verseker dat God jou nooit maar nooit sal los, vergeet,
verstoot of alleen los om self aan te sukkel of uit die moeilikheid uit
te kom nie.
Hy sal by jou bly staan, deur dik en dun.
Kom ons bid. Here ek is so ongelooflik dankbaar dat U aan my getrou
bly selfs al is ek nie. Dankie, Vader dat ek vandag kan wéét staan by
my deur dik en dun al gebeur wat ook al. Sal U my asb. altyd herinner
dat U by en saam met my is elke dag en in elke situasie. Ek vra dit in
die naam van Jesus Christus. Amen.
No comments:
Post a Comment