Wednesday 3 December 2014

Weet jou kinders hiervan? - deur Anton Brink

Wanneer kinders nie van kleintyd af reg geleer en ordentlik grootgemaak word nie word hulle ongelukkig groot en het hulle later hulle eie kinders wat dan dieselfde slegte maniere as hulle het.


So verander dit dan in ’n bose kringloop van mense wat vir geslagte lank nie weet hoe om reg te leef of hoe om reg op te tree nie. Een van die eerste dinge wat gewoonlik in die slag bly is ongelukkig respek.

Respek vir mense wat ouer as jy is, respek vir mense wat bo jou aangestel is, respek vir jou medemens en respek vir die samelewing oor die algemeen soos bv. vir die gesag van staatsorgane wat (veronderstel is om) wet en orde te handhaaf.

Dis erg.

Ek gesels eenkeer met ’n jong vrou saam met wie ek gewerk het oor haar wedervaringe in Londen, Engeland. Sy het vir ’n paar jaar daar gewoon en werk. Sy het soos baie ander mense ook maar altyd die bus of die ondergrondse trein gebruik om haar van plek tot plek te kry.

Raserige jong manne.

Eendag terwyl sy op die bus sit op pad werk toe kom daar ’n groep jong seuns en klim ook op. Hulle was in hulle tiener jare en baie luidrugtig. Hulle het kliphard allerlei ongeskikte aanmerkings gemaak oor die mense wat op die bus gesit het en het ook graag kru taal gebruik.

Toe praat die ou oom hulle aan.

Toe die een bejaarde man wat ook op die bus was en seker alreeds meer as tagtig jaar oud was dit toe durf waag om hierdie gespuis aan te praat oor hulle onopgevoede en ongeskikte optrede het hierdie tiener seuns vir geen oomblik geskroom om dié arme ou man nét daar en dan en ten aanskoue van al die passasiers te gryp, aan te rand en van die bus af te gooi dat hy hard op die sypaadjie land nie.

Die meisie wat vir my die storie vertel het, het gesê dat sy net vreeslik gehuil het oor dit wat hulle gedoen het, sy het die ou oom só jammer gekry. Sy het gehuil omdat haar Ma en Pa haar ordentlik grootgemaak het anders sou sy haar waarskynlik nie veel daaraan gesteur het nie.

In Spreuke 22: 6 staan daar geskryf: “Gee leiding aan 'n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.”

Die mensdom het ’n sondige natuur.

Om te dink dat ’n mens uit sy eie uit reg sal optree, die regte besluite sal maak en liewer die regte ding as die verkeerde ding sal doen in ongelukkig vêrgesog. ’n Mens se natuur is van so ’n aard dat om verkeerd te doen meer spontaan kom as om reg te doen.

Kyk maar na ’n kind. As jy vir ’n kind ’n halwe kans gee gáán hy aanjaag, veral as dit ’n seuntjie is. Om verkeerd te doen, is dus baie meer natuurlik of spontaan as om gehoorsaam te wees.

As kinders dus nie van kleintyd af goeie leiding ontvang nie dra hulle daardie wangedrag oor na hulle tiener en uiteindelik hulle volwasse jare en kry jy mettertyd ’n scenario waar verkeerd dan reg genoem word omdat dit is hoe hulle gewoond is om op te tree.

Ons moet dus, nie net terwille van ons self en ons kinders nie maar ook vir die geslagte wat lank na ons gaan kom seker maak dat ons kinders goeie maniere aanleer, goeie opvoeding en raad by ons kry en dat hulle weet hoe om reg en mooi op te tree.

Glo my, dit begin by iets so eenvoudig soos om hulle te leer om asseblief en dankie te sê en om hulle te leer om op te staan as grootmense by die vertrek instap en dat hulle dan dié grootmense ordentlik groet.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader ek is baie lief vir my kinders en ek wil nie sien dat hulle verlore gaan nie. Sal U my asb. help om hulle van kleins af te leer om reg op te tree, om goeie maniere te hê en om respek te hê vir ouer mense sowel as mense in gesagsposisies. Help my ook Here om hulle te leer om reg van verkeerd te onderskei sodat hulle sal weet wanneer so ’n iemand sy posisie oor hulle misbruik en dat hulle dan ook dienooreenkomstig sal optree. Ek wil hê my kinders moet floreer en grootword om honderd persent mense te wees wat bydra tot ’n beter en gesonder samelewing. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



No comments:

Post a Comment