Wednesday 26 November 2014

Hiervan kan jy seker wees - deur Anton Brink

Daar is 'n baie ou Engelse gesegde wat die sê: “There are only two things certain in life, death and taxes.”



Ek wil egter 'n derde een hierby voeg en dit is die feit dat behalwe dood en belasting sál jy ook van dag tot dag allerlei probleme of uitdagings hê. Net omdat jy 'n gelowige is beteken dit nie dat jy van lewens storms gevrywaar is nie.

Die Here Jesus maak egter 'n baie belangrike stelling in die Bybel rakende hierdie kwessie wanneer Hy in Johannes 6: 33 die volgende punt aanraak: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

God wil hê dat ek en jy rustig moet wees wanneer onvermydelike probleme, frustrasies en uitdagings opduik en dat ons eintlik maar op 'n manier moet aanvaar dat dit gáán kom of ons dit soek of nie.

Wanneer moeilikheid dan wel ons padlangs kom, moet ons nie angstig raak en verward rondkyk nie maar liewer ons self herinner dat Jesus dié stelling gemaak het en dat ons maar gerus vrede in Hom kan hê a.g.v. daarvan want Hy is in beheer en daar is niks wat Hom onkant kan betrap nie.

Ek weet dit is moeilik en 'n mens voel meeste van die tyd nie asof jy daardie vrede van God ervaar nie maar probeer ten minste begin met 'n keuse. 'n Keuse wat jy maak om te kies en te glo dat jy is in veilige hande.

Hoe bery jy jou self voor op moeilikheid en teenkanting? Deur naby aan die Here te bly in jou verhouding met Hom en in jou hart werklik te glo dat Sy beloftes waar is wanneer Hy sê dat Hy jou nooit sal begewe of verlaat nie, al gebeur wat ook al.

As jy dus iemand is wat vandag so bietjie sukkel met 'n probleem wat jou moedeloos of angstig maak onthou dan dat as jy 'n gelowige is dan ís God naby aan jou en Hy sal jou veilig deurdra tot aan die ander kant.

Onthou dat die Here sê ons kan moed hou want Hy het hierdie wêreld klaar oorwin. Ek hoop dat jy vandag daardie moed sal kan skep soos Hy van jou vra.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader help my om anders na situasies te kyk. Help my om te sien soos U sien en om nie net in my probleme en teenkanting vas te kyk nie maar om te onthou dat U het dit klaar oorwin. Help my om deur te druk en om met 'n verwagting te kyk na die deurbrake wat U gaan bring. Ek vra dit in Jesus se naam. Amen.


No comments:

Post a Comment