In Efesiërs 6: 12 staan daar geskryf: “Ons stryd is nie teen vlees en
bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor
hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.”
Wanneer ons
na hierdie skrif kyk verstaan ons en word dit baie duidelik dat daar
nie 'n wapen op hierdie aarde bestaan wat weerstand kan bied teen die
vyand wat ons elke dag aanval nie.
Neem kennis.
Daar
is net een wáre oorlog wat saak maak en daardie oorlog woed daagliks
rondom ons. Ongelukkig is dit ook so dat dié stryd vir baie mense
ongesiens verbygaan. Die stryd of oorlog waarna ek verwys is natuurlik
'n geestelike een, die stryd tussen die duisternis en die lig.
Moenie moed verloor nie.
Vir my en jou is die oorlog eintlik al klaar gewen. Jesus het dit aan
die Kruis kom doen. Wanneer ons die Here Jesus as persoonlike verlosser
en Saligmaker aanvaar en ons erken en bely Hom as sodanig kan ons gerus
wees daarin dat ons ís gered en ons ís Sy kinders.
Dit
beteken egter nie dat ons nou maar ongeërg oor ons geestelike lewens kan
wees nie. Om die waarheid te sê moet ons nou juis oplet loop vir
aanvalle van die duiwel.
Ek kyk graag (wanneer ek tyd het) na
programme op TV oor insidente wat in die regte lewe gebeur het.
Insidente wat bv. op kringtelevisie kameras vasgevang is waar
misdadigers uitgevang en vasgevat is deur gewone mense of dalk deur die
polisie.
Hy kom om te steel.
So kyk ek nou die dag na
beeldmateriaal wat op einste so 'n kringtelevisie kamera vasgevang is.
Dit is afgeneem in 'n tipe van superette. Op die kamera kan jy duidelik
sien hoe 'n jong man agter die toonbank by die kasregister staan.
Hy is besig om op sy selfoon te praat. Die volgende oomblik en soos
blits storm 'n ander jong man by dié winkel se deur in met 'n pistool in
sy hand gereed om die winkel te beroof.
’n Skoot klap.
Die skurk was nog nie eens by die toonbank waar die kasregister staan
nie of 'n skoot gaan af en tref hom reg in die kakebeen. Hy sak net daar
in mekaar en lê op die grond terwyl hy krul van die pyn. Nie lank
daarna nie ís hy toe darem hospitaal toe geneem en het volkome herstel.
Hy is later 'n baie swaar vonnis in 'n kriminele hof voor ’n regter
opgelê.
Vinnige reaksie.
Die rede waarom die jong man
wat in die winkel werk so vreeslik vinnig kon reageer op die rower se
aanval was omdat hy 100 % daarop voorbereid was. Agter die toonbank net
links van die kasregister het hy sy eie vuurwapen gehad wat daar gelê
het, gereed vir ingeval iets soos dié dalk sou gebeur.
Toe die
winkel se voordeur dus oopgaan en hy die dief met die geweer in die
hand sien instap was hy blitsvinnig om sy eie wapen te gryp en die skelm
net daar in sy spore te stuit.
Ons moet reg wees, nes daai winkelklerk.
Ek en jy wat in Jesus glo moet ook elke dag op ons hoede wees. Ons
moet geestelik fiks en flink wees om die aanvalle van die vyand vinnig
raak te sien en ons teen hom teen te sit.
Ons moet as’t ware
soos atlete wees wat elke dag in ons blokke sak, gereed vir die wedloop
of die stryd wat voorlê. Wanneer die ou lewe dan langs die kantlyn skree
op julle merke, gereed, weg, dan moet ons dadelik kan reageer.
Wat van jou?
Hoe lyk jou geestelike gereedheid, sal jy gereed wees vir wanneer die
vyand skielik by die voordeur van jou lewe inbars of gaan hy jou onkant
betrap en dit regkry om jou te besteel?
Die skrifgedeelte in
Efesiërs 6 wat ons vroeër gelees het verwys ook ’n paar verse verder na
die wapenrusting van God wat elke gelowige daagliks moet aantrek. As jy
jouself nie daarmee gaan beklee nie gaan dit vir die duiwel baie maklik
wees om 'n slagoffer van jou te maak.
Bly biddend en soek God
Sy aangesig soveel as moontlik. Vra dat die Heilige Gees daagliks jou
metgesel sal wees en maak seker dat jy vir die Here vra om vir jou
wysheid te gee. Hy sal.
Sterkte!
Kom ons bid. Vader
God ek trek vandag die borswapen aan as vryspraak, ek omgord my heupe
met die waarheid, ek neem as skoene aan my voete die bereidheid om die
Evangelie van Jesus Christus te verkondig, ek plaas die helm van
verlossing om my hoof en ek neem die swaard van die gees dis die kennis
van die Bybel en die skild van geloof op om my teen die vurige aanvalle
van die duiwel te beskerm. Here help my om wakker en gereed te wees vir
wanneer die duiwel my aanval sodat hy nie by my sal kán steel en my lewe
sal kan verwoes nie. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.
No comments:
Post a Comment