Tuesday 25 November 2014

Glo is sien! - deur Anton Brink

Toe ons kinders was, het ons altyd vir mekaar gesê, “tóé, wys... sien is glo”.



Dit laat my eintlik lekker lag as ek nou weer daaraan terugdink. Min het ons geweet dat die teenoorgestelde eintlik die waarheid is, om te gló is om te sien.

In Hebreërs 11: 6 lees ons, “As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.”

Let op dat die bogenoemde skrifgedeelte sê dit is onmoontlik om te doen wat God wil as jy nie glo nie. Daar is dus geen ruimte wat vir twyfel gelaat word nie.

Gelowiges moet begryp hoe belangrik dit is om waarlik te glo, om waarlik in jou hart oortuig te wees dat God sál doen wat Hy gesê het Hy sal, selfs al is presies die teenoorgestelde besig om te gebeur of al lyk iets ook vir jou hóé onmoontlik. As die Here gesê het dit sal wees dan sál dit wees kom wat wou.

Ek kan aan 'n keer of twee dink waar ek in geloof amper hardkoppig voet by stuk moes hou oor wat ek geglo het die Here vir my belowe het. Een keer spesifiek staan vir my uit. Dit was toe ek vir 'n werk aansoek gedoen het. Ek het geglo dat die Here het vir my belowe dat die posisie myne sou wees en ek het verwag dat die enigste korrespondensie van dié betrokke maatskappy sou 'n brief of telefoonoproep wees wat sê dat ek aangestel is.

Groot was my verbasing.

Toe ek my oë uitvee kry iemand anders die werk. Kan jy glo, dié einste posisie waarvoor ek aansoek gedoen het en wat ek geglo het die Here gesê het myne sal wees gaan staan en gee hulle toe vir iemand anders?! Ek het vir 'n paar oomblikke erg verward gestaan en wonder of ek dalk verkeerd gehoor het.

Wat gaan aan?

Ek het so bietjie angstig geraak en vir die Here gevra om vir my te verduidelik wat besig was om te gebeur en om seker te maak dat ek wel reg gehoor het. Sag en getrou soos altyd antwoord Hy toe en sê dat ek maar rustig kan wees, dit ís my werk, selfs al het iemand anders dit gekry.

Ek verstaan nie maar ons gaan maar aan.

Ek het gekies om dit wat God vir my sê onvoorwaardelik te glo en het ek besluit om my by Sy antwoord vir my te berus. Ek het nog 'n stappie verder gegaan en het as bewys van my geloof in God en my vertroue in Sy belofte aan my het ek glad nie vir enige ander poste aansoek gedoen nie. Ek het net rustig op Hom gewag.

Is jy nog beskikbaar?

Daar het seker so drie weke verbygegaan en toe, een oggend vroeg, kry ek 'n telefoonoproep. Ek antwoord en hoor ek toe die bekende stem van dieselfde man wat vantevore die onderhoud met my gevoer het tydens my aansoek by die betrokke maatskappy. “Stel jy nog belang in die werk?” vra hy my, “Ja, beslis” antwoord ek en, “Wanneer kan jy begin?” is sy volgende vraag.

God het gedoen wat Hy gesê het Hy sal selfs toe dit onmoontlik lyk en selfs toe presies die teenoorgestelde gebeur van ek geglo het Hy gesê het, sal.

Ek sou later uitvind dat hulle my eintlik reg van die begin af wóú aanstel máár dat daar het 'n ander man vir dieselfde pos aansoek gedoen en sy omstandighede was van so 'n aard dat hulle hom jammer gekry het en gevoel het dat hy het die werk meer nodig as ek. Na drie weke het hulle egter besef dat hulle 'n groot fout gemaak het.

As ek nie vas bly staan en bly glo het aan God se belofte vir my nie sou ek heel moontlik Sy plan en belofte vir my lewe gemis het. Gelukkig hét ek toe nie getwyfel nie en kon ek 'n fantastiese wonderwerk sien gebeur. Dis 'n baie lekker gevoel van versekering wat 'n mens kry wanneer jy God se hand so in jou lewe sien beweeg.

Dit stel 'n mens gerus dat al Sy ander beloftes in die Bybel óók waar is.

Is daar iets wat God aan jou beloof het en omdat jy dit nie gesien gebeur het, het jy kwaad of gefrustreerd geword en jou rug op Hom gedraai en toe op die ou einde net eenvoudig jou eie ding begin doen?

Moontlik is vandag jou geleentheid om dit voor die Here te erken en te vra dat Hy jou vir jou ongehoorsaamheid sal vergewe. Vertrou God se beloftes vir jou met jou hele hart en jy sal sien dat Hy hy jou nie sal teleurstel nie.

Kom ons bid. Vader ek is jammer dat ek begin twyfel het. Ek is jammer dat ek kwaad geword het en opgehou glo het. Vergewe my asb. Here en herstel my om weer 100 % binne U wil te leef. Help my om met my geestelike oë en ore te sien en daarmee te hoor eerder as met my fisiese oë en ore. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



No comments:

Post a Comment