Monday 1 December 2014

Ek sien jou aan die ander kant - deur Anton Brink

Mense wat die Here Jesus nie ken as verlosser en Saligmaker nie sal nie verstaan watter geweldige gemoedsrus daar in is wanneer jy met persoonlike oortuig die woorde kan sê: “Ek sien jou aan die ander kant.”


Daar is ’n vrede wat met redding gepaardgaan wat alle ander dinge in die lewe oortref. Ja, ons het ook maar ons alledaagse uitdagings soos enige mens op hierdie aarde maar daar is ’n wete, ’n rustigheid wat hier binne-in jou met jou praat en sê dat jy hoef jou nie oor jou ewige bestemming te bekommer nie omdat Christus het dit klaar deur die Kruis vir jou gereserveer.

As jy nog nie met daardie oortuiging kan sê dat jy weet waarheen jy op pad is nie, dat jy weet waar jy die ewigheid gaan deurbring nie dan is hier vandag vir jou ’n geleentheid om seker te maak.

Jou word van ganser harte genooi om die onderstaande gebed hardop te lees en saam te bid om dan sodoende jou hart en lewe aan die Here Jesus Christus te gee tot ewige verlossing van jou siel.

Soos altyd nooi ek dan weer diegene wat vandag wel vandag hierdie keuse doen om met ons beraders en gebed vriende by Tygerberg 104fm in kontak te kom sodat hulle jou vêrder van hulp kan wees. Die kontak nommer is 0861 104 104.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 3: 17

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


No comments:

Post a Comment