Tuesday 9 December 2014

Haas das se nuus kas - deur Anton Brink

Hier 'n bietjie daar 'n bietjie.
 
 .













Dís hoe dit vir my voel as dit by ons elektrisiteit en die standhoudende voorsiening daarvan kom. 'n Mens moet deesdae so mooi beplan as dit by alledaagse dinge van die lewe kom, dinge wat vroeër baie eenvoudig was.

Deesdae, net om nie koue of rou kos te hê vir middag of aandete nie moet jy eers die Eskom skedule gaan raadpleeg om te sien of jy darem ten minste krag in die huis gaan hê voordat jy dit begin voorberei. Om net 'n koppie tee of koffie te maak is skielik nie meer so eenvoudig nie.

Hulle moet hulle sokkies optrek.

Ons hét rede om te kla en kla sál ons kla. Ons is immers belastingbetalers en ons dra almal baie geld by vir ’n ordentlike diens om aan ons gelewer te word so as ’n verbruiker is dit nie net ons reg nie maar ons plig om ons stemme dik te maak.

Vandag se stukkie gaan egter nie daaroor (om te kla) nie.

Daar kan vele dae verbygaan terwyl ons aanhoudend oor hierdie dinge praat en ons onsself al meer daaroor opwerk maar op die ou end kan nie ek of jy nóú op hierdie oomblik veel aan dié onaangename situasie doen behalwe om maar liewer net te probeer om die beste van 'n slegte saak te probeer maak nie.

So sit ek toe mos oor die naweek rustig by die huis. My kinders ís maar daar in die omtrek voor die TV en in die kamer en my vrou is besig in die kombuis. Skielik gaan die krag af en vir 'n oomblik daal daar 'n doodse stilte in ons huis neer.

Oomblikke van te vore het die TV nog geblêr en het die klitser in die kombuis lawaai gemaak maar nou is daar niks. Dis asof die hele wêreld net skielik tot stilstand gekom het.

Wat nou?

Dit was vir my interessant om op te let na wat net na die krag afgegaan het gebeur het. Behalwe die heerlike kalmte wat daar was, het die kinders se belangstelling amper oombliklik van die televisie af na ander (beter) dinge verskuif.

Speel-speel in en om die huis.

Hulle het mekaar sommer so spontaan begin rondjaag en het lekker begin speel. My vrou moes dadelik (op aandrang van dié twee) hulle maatjies se Mamma’s bel om te hoor of hulle kan kom kuier om te swem, puzzle te bou en bord speletjies te speel.

Later.

Selfs nadat die krag lankal weer aangegaan het, het die kinders steeds gespeel dat die sweet hulle behoorlik afgetap het. Op 'n manier het ek so stil-stil by myself gewens dat dit eintlik maar elke dag so kon wees.

Ek onthou immers nog hoe dit was toe ek ’n kind was. Ons was behoorlik huilerig as dit begin donker word en dit tyd was om huis toe te gaan.

Daardie dae was daar nie iets soos TV deur die dag kyk nie. Jy moes maar wag vir half ses die aand en dan was dit in elk geval ook net omtrent vir “Haas das se nuus kas” wat op die kassie was. Die res van die tyd het jy maar fietsgery, kleilat gegooi, op jou Ma se senuwees gewerk of albaster gespeel.

Lekker tye.

Wanneer die krag so afgaan dan onthou mens en waardeer jy weer die waarde van vriende en familie. Daar is min dinge so rustig, gesellig en intiem soos om by kerslig of buite om 'n braaivleis vuur saam met mense vir wie jy lief is en omgee te kuier en tyd te spandeer.

Ons vergeet so gou hoe belangrik dit is om soms al die geraas soos die TV, rekenaar en selfoon af te skakel en om dan weer ’n slag op mekaar te fokus eerder as op al die klomp dinge rondom ons wat elke dag ons aandag so maklik kan aftrek.

So, volgende keer as die krag weer afgaan kyk dan ’n bietjie rondom jou. Wié is daar wat jy weer ’n slag kan kontak, lekker mee saamspeel en lag of sommer net lang geselsies maak. Probeer vergeet van die werk wat jy nog moet klaarmaak of die kos wat jy moet voorberei en probeer om liewer die beste van ’n slegte saak te maak.

Laat ons doen wat in Kolossense 3: 15 – 16 geskryf staan: “Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.”

Sterkte!

Kom ons bid. Vader help my asb. om die beste van elke slegte situasie in my lewe te maak sodat selfs die slegte dinge op die ou end U naam verheerlik. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment