Lank gelede was daar 'n kulkunstenaar wat gereeld op Suid-Afrikaanse
televisie te siene was. Sy naam was Mario en hy kon altyd met die
allervreemdste dinge vorendag kom om goed sommerso voor mense se oë te
laat verskyn of verdwyn.
Die arme man by die padstal.
Ek sal nooit vergeet hoe hy (Mario) eenkeer in een van Leon Schuster se
flieks gespeel het nie. In dié spesifieke toneel het Mario 'n padstal
besoek en het hy toe vir hom daar 'n lekker sappige spanspek gekoop om
te eet.
Vir die doel van hierdie kulkuns toertjie en om die
nodige aandag van die padstal eienaar te trek, sny hy toe sy spanspek
sommer net daar oop. Terwyl die kameras rol, en duidelik vir die
padstal eienaar om te sien, ontdek Mario dan kamstig 'n opgevoude
R20-noot reg in die middel van dié einste spanspek wat hy oop gesny het.
Mario is vreeslik verbaas en jy kan sien die padstal eienaar is omtrent
stom. Mario gryp dan nog 'n spanspek en dan nóg een en nóg een en elke
keer is daar geld in.
Skielik.
Die padstal eienaar
kyk dan na res van die spanspekke wat nog net so op die rak lê en die
volgende oomblik raak hy hewig omgekrap en beduie dan met groot gebare
aan Mario dat geen spanspekke verder te koop is nie.
Hy gaan mos darem nie geld groeiende spanspekke sommer net so onder sy neus laat uitverkoop nie, my wêreld.
Kom kyk.
Die manr roep dan haastig sy vrou nader en vertel vir haar wat gebeur
het. Een vir een begin hulle die spanspekke oopsny op soek na die geld
daar binne-in maar, natuurlik, kry hulle niks. Elke spanspek is net vol
pitte en lekker soet spanspek vleis.
Uiteindelik.
Na
'n tydjie en met 'n padstal eienaar wat erg omgekrap is kom Mario dan
weer op die toneel en verduidelik vir hom dat hulle eintlik besig is om
'n fliek te maak waarin hulle mense uitvang en dat hy een van die mense
is van wie hulle nou 'n lekker gek gemaak het.
Op die ou einde lag hulle lekker saam vir dié lawwigheid.
In 2 Korintiërs 11 vers 14 staan daar geskryf: “En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as 'n engel van die lig.”
Die duiwel sal homself altyd aan jou voorhou as een wat eintlik goed is
en die dinge wat hy bereid is om vir jou te gee of te doen lyk baie
keer wonderlik en reg maar eintlik is hy besig om jou ’n rat voor die oë
te draai.
Is jy dalk iemand met wie dit al gebeur het?
Geleenthede wat vir jou net te goed lyk om waar te wees het hulle
skielik voorgedoen en jy wou graag in jou hart glo dat hierdie kans wat
jy kry is van die Here af omdat dit so fantasies lyk?
Nie alles wat skitter is goud nie.
Kyk weer na daardie skrifgedeelte. Dit sê dat die duiwel doen hom self
voor as 'n engel van die lig. M.a.w. hy het ten doel om jou te kul om
en om jou te laat dink dat wat hy vir jou aanbied is die ware Jacob
terwyl dit eintlik glad nie is nie.
Moenie elke geleentheid
wat jou pad langs kom sommer net gryp nie. Hoor eers by die Here of dit
werklik van Hom af is en of dit Sy plan vir jou is.
Al wat jou
gaan help om te onderskei is om elke dag die wapenrusting van God aan
te trek en om seker te maak dat jou kennis en veral jou insig van God se
Woord groei. Spandeer ook tyd by die Here sodat jou verhouding met
Hom sterk word en sal bly sodat jy nie om elke hoek en draai om die bos
gelei en verkul word nie.
Sterkte!
Kom ons bid. Vader
ek wil nie gekul word deur die duiwel nie. Gee my asb. wysheid, kennis
en insig uit U Woord en maak my geestelik sterk om te onderskei tussen
die nagemaakte engel van die lig en die ware God van lig. Ek vra dit in
die naam van Jesus Christus. Amen.
No comments:
Post a Comment