Monday, 2 February 2015

Niemand maar niemand: - deur Anton Brink

Die Bybel is baie duidelik oor die feit dat niemand tot die Vader kan kom en die ewige lewe kan beërwe behalwe deur die Here Jesus as persoonlike verlosser te aanvaar nie.



In Johannes 14: 6 staan daar geskryf: “Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”

Verlossing en vryspraak van sonde is eksklusief gereserveer vir dié wat aanvaar het wat Christus vir hom of haar aan die Kruis gedoen het en niemand anders nie.

Ek nooi jou dus om vandag die onderstaande gebed te doen en jou hart en lewe vir God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees te gee. Bely hardop met jou mond dat jy glo Jesus het die prys namens jou betaal het aan die Kruis van Golgota en dan sál Hy jou red.

As jy dit klaar gedoen het, kontak dan asb. ons gebed vriende by Tygerberg 104fm en sê vir hulle wat jy besluit het en laat toe dat hulle jou verder leiding gee omtrent wat jou nou te doen staan.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 3: 17

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


Friday, 30 January 2015

'n Bruinbrood en 2L Melk - deur Anton Brink

Eergister namiddag vra my vrou my om asb. gou na die winkel toe te gaan om 'n bruinbrood en melk te gaan koop. Die kafee is nie vêr nie, net af in die straat van my huis om die waarheid te sê en ek stap gewoonlik sommer daarheen eerder as om te ry.


My 6 jarige dogtertjie is baie lief daarvoor om saam te loop en toe ek die voordeur oopmaak hoor ek hoe roep sy agter my aan en vra dat ek asb. vir haar moet wag want sy wil ook winkeltjie toe gaan vir 'n lekkertjie.

So gesê so gedaan en ek en sy sit toe hand aan hand af na die kafee toe.

Ons het seker net so 'n 100 meter vêr geloop toe ek oplet dat vier mans wat net 'n entjie weg van ons af in die straat in 'n wit dubbelkajuit bakkie by die vier rigting stop oor die kruising ry skielik in die middel van die pad stop. Hulle het vir my baie verdag gelyk.

Al vier van hulle kyk op in die straat na my en my kind wat aangestap kom. Stadig “reverse” die bestuurder die voertuig en draai na regs, reguit in ons rigting en kom aangery.

Ek het dadelik agterdogtig begin raak en allerhande dinge het deur my kop gegaan. Dinge soos dalk wil hulle my kind gryp en ontvoer of miskien will hulle my beroof, ek het nie geweet wat om te verwag nie.

Die volgende oomblik soos hulle aangery kom gaan die voorste passasiers venster oop en kom die bakkie al hoe nader tot hy uiteindelik reg langs my stop. Al waaraan ek kon dink was my kind se veiligheid en ek het my reggemaak om vir haar te sê om te hardloop so vinnig as wat haar beentjies haar kon dra.

Die uiteinde was dat dié vier mans verdwaal het en hulle het rigting aanwysings by my gevra oor hoe om by 'n sekere plek uit te kom. Ek was baie verlig maar dit het my tog laat dink aan hoe die wêreld oor die afgelope jare verander het.

Dat 'n mens nou al tot bang en versigtig moet wees net om na die winkeltjie op die hoek van jou straat toe te stap, dis bitter hartseer. Ek kan nie onthou dat dit vroeër so was nie?

Tog, ten spyte van al hierdie dinge moet ek en jy wat die Here ken nie angstig raak nie. God het nie van ons vergeet nie. Hy het ons tog eintlik lank gelede alreeds gewaarsku dat daar baie bose dinge in die laaste dae sal gebeur en dat dit óns verantwoordelikheid is om daarteen te waak en bid.

Laat ons dus moed skep in die wete dat ons verlosser leef en dat Hy is naby aan elkeen van ons wat glo en dat Hy ons altyd en in alles sal bystaan.

In Psalm 121: 5 – 8 staan daar geskrywe: “Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare. Bedags sal die son jou nie steek nie en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd.”

Neem hierdie skrifgedeelte vandag saam met jou en bêre dit in jou hart vir wanneer jy dalk angstig voel.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader beskerm my en my gesin asb. vandag. Hou ons veilig Here en gee asb. U engele opdrag aangaande ons om ons te bewaar maak nie saak waar ons reis, werk of studeer nie. Hou die bose asb. van elkeen van ons af weg. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Thursday, 29 January 2015

Wie dink jy is jy? - deur Anton Brink


Ek besef dat party mense dink sekerlik hopeloos te veel van hulle self maar die feit van die saak is dat 'n baie groter persentasie van mense dink weer hopeloos te min van hulle self!
 
As ons almal dit tog maar net kon regkry om 'n goeie, gesonde en gebalanseerde dink van ons self te kon hê dan sou daar veel minder probleme in hierdie wêreld gewees het en ek vermoed dat die arme sielkundiges en psigiaters sou dalk seker amper sonder werk gesit het omdat almal okei is.

Ek wil jou graag vandag 'n paar voorbeelde uit die Bybel gee van karakters wat volgens ons menslike standaarde ook eintlik nie goed genoeg is nie:

1. Noag was dronk
2. Abraham en sy vrou was te oud
3. Isak was amper vermoor en geoffer deur sy eie Pa
4. Jacob was 'n leuenaar
5. Leah was nie baie mooi nie
6. Joseph is deur sy eie broers mishandel
7. Moses het gehakkel
8. Gideon was bang
9. Simson se hare was lank
10. Jeremiah en Timoteus was albei te jonk
11. Dawid het 'n buit egtelike verhouding gehad én hy was 'n moordenaar
12. Elia wou liewer dood gaan
13. Jesaja was sonder klere
14. Jona het van God af weggehardloop
15. Naomi was 'n weduwee
16. Job was bankrot
17. Petrus het gesê dat hy Jesus nie ken nie
18. Die dissipels het aan die slaap geraak toe hulle eintlik moes bid
19. Martha was oor alles bekommerd
20. Die Samaritaanse vrou was al van meer as een man geskei
21. Saggeüs was te kort
22. Paulus het eers Christene vervolg en laat stenig
23. En Lazarus... wel, hy was dood

Elkeen van hierdie mense het swakhede gehad net soos ek en jy. Onthou wat staan geskryf in 2 Korintiërs 12: 9: “Toe sê die Here uiteindelik vir my, “My goedheid is vir jou genoeg. Dit is al wat jy nodig het. My groot krag word sigbaar in jou lewe wanneer jy swak en hulpeloos is.”

Ons kan elkeen allerlei verskoning gebruik om te probeer bewys en om ander mense en God te oortuig waarom ons nie iets in die lewe kan regkry of vir God iets kan beteken nie. Die Here kom egter en Hy gebruik daardie einste tekortkominge van jou om dan daarmee Sy eie naam te verheerlik en ander mense van Sy goedheid en genade te vertel.

Watter verskonings gee ek en jy daagliks wat ons miskien al vir jare lank gebruik om nie ons volle Godgegewe potensiaal uit te leef nie? Miskien was of is jy ook bankrot, dalk was of word jy mishandel, miskien is jy baie siek of dalk het jy geen heenkome nie. God kan en sal selfs jou grootste vernedering of tekortkoming gebruik tot jou eie voordeel en tot Sy eie verheerliking as jy Hom net toelaat om so te doen.

Kom ons bid. Vader, U noem my kind en erfgenaam. U woord sê dat ek is duur gekoop en kosbaar vir U en dat U my vergewe en met oop arms ontvang. U beskryf my as die kroon van U skepping. Tog Vader voel ek die meeste van die tyd nie so nie. Maak asb. my geestelike oë oop om te verstaan en te aanvaar hoe U oor my dink en voel sodat ek ook my volle Godgegewe potensiaal kan besef en uitleef tot U verheerliking. Help my om oor my self te dink en voel soos wat U oor my dink en voel. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.
 
 
 

Wednesday, 28 January 2015

Niks soene vir jou nie - deur Anton Brink

Ek weet mense sê altyd vir jou dat kinders word so gou groot maar jy verstaan dit nie regtig voor jy dit nie self ervaar nie.
Gister was só 'n dag vir my vrou gewees. Sy het een van daardie “my kind word nou vinnig groot” oomblikke met ons seuntjie Léhan (8) beleef toe sy hom by die skool gaan aflaai het.

Toe sy die motor stop sien hy dat daar van die meisies wat in sy graad 3 klassie is op die sypaadjie langs die kar staan en gesels. Hy vat sy tas en lê so oor na sy Ma se kant toe om vir haar 'n drukkie te gee en sê toe vir haar baai net voor hy begin uitklim.

My vrou vra toe vir hom waar haar soentjie dan vanoggend is. Die kyk wat hy haar gegee het, was genoeg om haar te laat verstaan dat sy maar liewer nie nou verder met hom daaroor moet praat nie en dat hy maar net sy tas moet vat om by die skool in te gaan.

Haar hart was so-effe seer maar gelukkig weet sy darem dat hierdie tipe ding is mos maar deel van die lewe.

Dit was destyds dieselfde met my ook. Ek weet nie of dit met seuns meer die geval is as met dogtertjies nie maar ek onthou goed hoe ek ook op 'n sekere ouderdom gekom het en toe net niks meer daarvan gehou het as my Ma voor my maats vir my 'n drukkie of 'n soen wou gee nie.

Om een of ander rede begin kinders net op 'n stadium skaam voel vir hulle ouers. Ma en Pa is net skielik nie meer “cool” nie...

Hierdie hele oulike en snaakse petalje met ons seun het my so baie laat dink aan ons as Christene en die feit dat daar nog gelowiges is wie hulle skaam oor die Evangelie van Jesus Christus terwyl ons glad nie enigsins skaam hoef te wees daaroor nie.

In Romeine 1: 16 staan daar geskrywe: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is 'n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.”

God het ons kom red deur toe te laat dat Sy seun Jesus Christus aan die Kruis names ons vir ons sondes sterf, of hoef ons nie te skaam daaroor nie, inteendeel, ons moet bly wees en die goeie nuus deel waar en wanneer ons kan.

Jesus wil ook nie hê dat ons moet skaam wees nie.

In Lukas 9: 26 staan daar geskrywe: “Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele.”

Ek weet nie van jou nie maar ek wil beslis nie hê die Here Jesus moet eendag rede hê om skaam te wees oor my omdat ek nie bereid was om Hom as my verlosser te erken nie.

Ek het dit eenkeer beleef.

Ek het verby 'n motorhawe gestap en 'n groep mans wat so in hulle laat twintigs was gesien wat met mekaar gestaan en gesels het. Ek het dadelik die een herken as iemand wat 'n paar jaar vantevore by dieselfde gemeente as ek betrokke was.

Ek stap toe nader om hom te groet en vra hom toe na watter kerk toe hy nou gaan. Die ander ouens het vir hom begin lag en het spottend vir hom gevra van wanneer af gaan hy dan kerk toe. Ek kon in sy gesig sien hoe skaam hy kry dat hulle dit moes hoor.

Toe skielik maak hy asof hy nie weet waarvan ek praat nie en sê vir my dat ek misgis hom seker met iemand anders. Ek het dadelik besef dat hy hom skaam vir die Here Jesus en vir die Evangelie omdat hy bang was vir wat sy “pelle” van hom sou dink. Ek het hom nie verder daaroor uitgevra nie.

Wat van jou, wat sal jou antwoord wees as jou vriende of dalk vreemde mense vir jou vra of jy 'n gelowige is, sal jy openlik en eerlik ja antwoord of sal jy dit wegsteek of ontken?

Ek hoop dat jy nie daaroor skaam sal wees nie!

Sterkte!

Kom ons bid. Vader help my om altyd openlik en vrylik te erken dat ek verlos is deur die bloed van Jesus Christus. Gee my die krag en oortuiging om my verhouding met U so uit te leef dat mense dit sommer sal kan sien nog voor ek daaroor praat. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Monday, 26 January 2015

Oestyd - deur Anton Brink

Dit is weer Maandag. 'n Nuwe dag, 'n nuwe week. Ek hoop dat jy 'n aangename naweek agter die rug het en dat die week wat voorlê vir ’n jou wonderlike een sal wees.

Vandag wil ek jou herinner aan wat in Mattheus 9: 37 geskryf staan: “Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.”

Daar is baie mense wat nog nie ’n persoonlike verhouding met die Here Jesus het nie en wat op hierdie oomblik op pad is hel toe. Ons wat reeds glo moet ons bes doen om aan sulkes te vertel wat Jesus vir ons aan die Kruis kom doen het, nie noodwendig met ’n gepreek nie maar dalk met die onvoorwaardelike liefde wat jy bewys in jou dade en optrede teenoor hulle.

Wie weet, dalk is jy een van hulle wat vandag nie met sekerheid kan sê waar jy die ewigheid eendag gaan deurbring nie.

Indien dit wel die geval is nooi ek jou om asb. nou die onderstaande gebed hardop te bid en die Here Jesus met jou mond as persoonlike verlosser en Saligmaker te bely.

Wanneer jy klaar is, moet jy asb. so gou moontlik met ons beraders by Tygerberg 104fm in kontak kom sodat hulle vir jou verder raad en leiding kan gee. Ons kontak nommer is 0861 104 104. Skakel ook by ander gelowiges in sodat jy deel van die liggaam van Christus kan wees en groei in jou geloof en jou verhouding met God.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 3: 17

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


Friday, 23 January 2015

Gee vir Hans 'n kans - deur Anton Brink

Woensdagoggend was die paaie rondom die skole iets verskrikliks.

Daar was hordes mense wat almal graag hulle kindertjies by die skool wou gaan afsien op hulle eerste dag en al wat ’n Ma en Pa, Ouma en Oupa is was daar om foto’s te neem van die kleingoed sodat hulle almal eendag kan Oooo en Ahhh oor daardie mooi herinneringe.

Natuurlik na alles verby is en die drukkies en soene klaar uitgedeel is, is almal terug na hulle motors om die dag se werk te begin en tóé begin die chaos éérs.

Almal wil op eenslag ry en niemand wil vir iemand ’n kans gee nie.

So staan ek toe ook en wag vir ’n beurt om in die pad in te draai. Die een motor na die ander een kruip teen ’n stadig slakke pas, buffer teen buffer voor my verby en niemand wil vir my ’n geleentheid gee om voor hom of haar in te draai sodat ek tog net ook ’n beurt kan kry om in die stadig vloeiende verkeer te kan inkom nie.

Almal ignoreer my. Ek kan sommer sien hoe die klomp verskillende motoriste doelbewus nié in my rigting wil kyk nie net sodat hulle die situasie kan probeer vermy waar hulle vir my moet stop sodat ek kan inkom.

Na ’n vreeslike lang gewag het een vriendelike Pa met so ’n rooi City Gholf toe darem glimlaggend vriendelik gestop en vir my beduie dat ek maar kan ry. As dit nie vir hom was nie het ek seker nog ’n halfuur daar gestaan.

So is dit maar in die lewe. Meeste van ons het van kleintyd af daardie elke man vir hom self tipe mentaliteit en dit is beslis ’n jammerte. Ons sal waarskynlik meer in die lewe gedoen kry as ons mekaar net so nou en dan ’n bietjie wil help en bystaan.

Daar is ’n goeie voorbeeld uit God se Woord wat pragtig beskrywend is van hoe twee mans iemand anders se behoefte raakgesien het en toe hulle hom help het hulle nie net vir hom en hulle self nie maar ook ’n hele volk help red.

Ons lees dit in Eksodus 17 vanaf vers tien tot dertien. Daar staan geskrywe: “Josua het toe gedoen wat Moses vir hom gesê het en hy het teen die Amalekiete gaan veg. Moses, Aäron en Hur het tot op die top van die heuwel uitgeklim.

Solank Moses sy hand opgehou het, was Israel die sterkste, en wanneer sy hand gesak het, die Amalekiete. Maar Moses se arms het begin moeg word. Hulle het toe 'n klip gevat en dit agter hom neergesit sodat hy daarop kon gaan sit.

Aäron en Hur het sy arms van weerskante af ondersteun sodat sy arms regop gebly het tot sononder. Josua het die Amalekiete heeltemal verslaan.”

Wat dink jy sou gebeur het as Aäron en Hur doelbewus weggekyk het en ook net diep gesug het en sag by hulle self gedink het dat hulle nie lus is om heeldag dáár te moet staan om vir Moses se arms in die lug te hou nie?

Onthou dit was waarskynlik ook nie vir hulle maklik om heeldag daar in die warm son te moes staan nie maar hulle het. Die antwoord is eenvoudig, die Amalekiete sou hulle almal verslaan en doodgemaak het.

Daar is ’n belangrike les om in hierdie verhaal te leer.

Ons moet in ’n gewoonte kom waar ons bereid is om ander mense se hande sterk te maak. Elkeen van ons kom op een of ander stadium op ’n plek waar ons te swak en uitgeput voel (net soos Moses daar op die heuwel) om aan te hou. Wanneer dit met jou gebeur hoop ek regtig daar is mense langs jou wat jou ook sal bystaan en sal help om enduit aan te hou.

Dis interessant om op te let - Moses was ’n man van God. Dit wat hy daardie dag daar op die heuwel gedoen het, was in opdrag van God en tog ten spyte daarvan kon hy dit nie regkry om tot die son sak sy arms omhoog te hou sonder die hulp van ander nie. Hy was net ’n mens.

Is jy so iemand, het die Here vir jou dalk ’n roeping of ’n opdrag gegee maar jy het moeg en oorweldig geword sodat jy later nie meer kon aanhou nie? Dit is waarskynlik omdat jy dit alleen probeer doen het terwyl jy eintlik veronderstel was om andere toe te laat om jou by te staan.

Kyk om jou rond. Sien ander mense se behoeftes raak en help waar jy kan.

Sterkte!

Kom ons bid. Here ek is jammer dat ek meer geneig is om selfsugtig te wees en eerder net na my eie behoeftes om te sien as wat ek bereid is om ander mense by te staan. Vergewe my asb. daarvoor maar help my ook om te verander en van nou af ten spyte daarvan dat dit soms ongerieflik kan wees ander mense te help soos en waar ek kan. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen


Thursday, 22 January 2015

Bewaar jou hart - deur Anton Brink

Meeste dinge in die lewe wat die moeite werd is, is gewoonlik ook nie maklik om te doen of in die hande te kry nie.
Dit vat soms maar redelike “effort” om die dinge wat jy as waardevol ag te bekom. Dit is dalk ook goed dat dit so is want ons ken mos darem die spreekwoord wat sê “easy come, easy go”. M.a.w. as jy dinge té maklik kry dan waardeer jy dit nie noodwendig altyd nie en doen jy ook nie moeite om dit be behou nie.

Die voorbeelde wat genoem kan word oor dinge waarvoor mense bereid is om te baklei is sekerlik eindeloos maar daar is een ding wat ek vandag wil uitlig as een van die belangrikstes en dit word so maklik agterweë gelaat. Dit is om te baklei vir jou eie hart en wat jy toelaat om daar binne-in aan te gaan.

Nee, hierdie is darem nou nie 'n vinnige mediese gesondheids wenk oor hoe baie jy moet draf en hoe gesond jy moet eet nie, maar dit is eerder 'n geestelike gesondheids wenk oor hoe om dit wat binne-in jou hart aangaan gesond te hou.

Ons mensdom is ongelukkig gebore met 'n sondige natuur en a.g.v. hiervan is ons geneig om veel makliker die verkeerde as die regte dinge te doen. Daar is natuurlik verskeie sulke voorbeelde van verkeerde dinge of keuses wat ons doen waaroor 'n mens kan gesels soos immoraliteit, oneerlikheid ens. wat alles uit jou hart vloei, maar die een wat sekerlik die mees negatiewe gevolge vir ons het is om onvergewensgesind te wees.

Ons almal kry maar op een of ander tyd van ons lewe daarmee te doen. Wanneer ons seerkry, teleurgestel of te nagekom word, is die eerste ding wat baie keer by ons opkom om te vergeld en om ons self te laat geld.

Dit gebeur en niemand is van sulke negatiewe gevoelens of gedagtes gevrywaar nie. Die probleem is net dat sou jy vergelding en onvergewensgesindheid aanhoudend koester sal jy uiteindelik in 'n baie bitter en haatdraende persoon verander en sal die wêreld vir jou baie onaangenaam raak.

Op die ou einde sal daardie gif van vergelding en onvergewensgesindheid nie net jou eie lewe ontsuur en stadig doodmaak nie maar sal dit ook al hoe moeiliker vir jou word om gesonde verhoudings met die mense in jou huis of by die werk te hê.

Die negatiewe gevolg van jou besluit om nie te vergewe nie en bitter te wees word uiteindelik soos daardie sneeubal wat net aanhou rol, groter word en alles in sy pad verswelg.

Is dit hoe hoe jy wil wees, wil jy regtig so leef, bitter, knorrig en moeilik, of wil jy eerder vry wees? Om vry te kom begin by ’n keuse wat jy moet maak, niemand kan dit vír of namens jou doen nie, net jy kan.

Onthou, jy mag eerlik met die Here wees oor wat met jou gebeur het, gaan kla gerus by Hom as jy voel dat jy verontreg of te nagekom is, stort jou hart voor Hom uit soos wat koning Dawid so graag gedoen het.
Hy sal wel weet wat om daarmee te maak. Wanneer jy dit klaar gedoen het sê dan met jou mond dat jy die betrokkenes vergewe en vryspreek en los dit daar by God om met jou petisie te doen soos Hy goeddink, selfs al is die uitkoms nie wat jy gedink of gehoop het dit sal wees nie.

In Matheus 6: 14 – 15 staan geskryf: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

Die besluit om vry te wees is joune en net joune alleen.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader ek wil vergewe maar dit is vir my baie moeilik en dit voel of ek vasgevang is in lelike en haatdraende gedagtes waarvan ek nie kan loskom nie. Kom maak my asb. vandag waarlik vry om weg te stap, te vergewe en vry te spreek al voel dit vir my ek kan nie. Help my asb. Heilige Gees om nou daardie keuse te maak en dit te doen wat ek weet ek moet. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

Tuesday, 20 January 2015

Hoop vir die rokers - deur Anton Brink


in Jesaja 42: 3 staan daar geskryf: “'n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, 'n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie. Hy sal my wil bekend maak soos dit is.”

'n Paar maande gelede het ek besluit om die tuin by my en my vrou se huis so 'n bietjie op te knap en in stand te hou nadat die man wat dit gewoonlik oor naweke vir ons gedoen het nie meer opgedaag het nie.

Ek is nou nie juis die wêreld se beste tuinier nie en is ek dus nie aldag seker wat moet uitgetrek word as onkruid en wat moet bly nie, maar, so op my manier kry ek dit darem reg om die plek na iets te laat lyk.

Om een of ander rede (gelukkig tog) bly meeste van ons plante heeljaar mooi groen en hoef ek die tuin dus nie elke aand te staan en water gee nie. Ek moet sê dit maak darem die werk net baie makliker.

Tog ten spyte van al die groenigheid het ek 'n paar weker gelede agtergekom dat daar ís wel een boom of bossie tussen al die ander is wat net glad nie lyk of dit wil groei nie. Om die waarheid te sê, as jy ’n entjie weg staan lyk dit of dié plant eintlik morsdood is.

Al wat jy kan sien (of ten minste so lyk dit op ’n afstand) is net 'n klomp dooie en dor bruin takkies. Dit lyk soos een of ander geraamte.

Op 'n dag besluit ek dat dié boompie maar liewer moet uit omdat dit die res van my mooi groen tuin ontsuur en omdat dié klomp dooie takke pla my.

In 'n japtrap gryp ek die graaf uit die motorhuis en stap ek flink nader om rondom die plant te begin spit sodat ek hom wortel en tak kan uittrek. Net so voordat ek wil begin grawe vang iets my oog en ek let toe iets snaaks op wat ek nie vroeër raakgesien het nie. As jy mooi kyk, op die boompie se takke, sit die kleinste en fynste ou groen blaartjies wat lyk of hulle net wil-wil uitkom.

Toe ek deeglik begin ondersoek instel kon ek sien dat daar toe eintlik sommer baie sulke blaartjies oraloor dié boom was. Omdat ek nooit van naderby en so deeglik gekyk het nie, het ek nie opgelet dat die arme plant eintlik sy bes probeer om te groei nie.

Omdat hy tussen 'n klomp plante staan wat altyd groen is, het ek nie of kon ek nie verstaan hoekom hy nie ook mooi groen is nie. Ek het nie besef dat dié ou boompie het eintlik spesiale aandag nodig nie, spesiale aandag in die vorm van ekstra water.

Gou-gou neem ek toe die tuinslang en begin hom ordentlik natmaak. Ook nie net een keer nie maar sommer vir ’n paar weke lank elke tweede of derde aand. Om die waarheid te sê, ek het op die ou einde meer aandag aan daardie verwelkte boompie gegee as aan enige ander deel van my tuin net omdat ek so graag wou sien dat hy moet groei.

Dit was ook nie lank nie of die lewe het weer begin bruis deur die takkies van daardie boompie. Die mooiste groen blare het oraloor uitgekom, sommer duisende van hulle en boonop het die allerpragtigste pers blommetjies ook hulle verskyning gemaak.

Dié ou boompie het nog nooit so deftig gelyk nie.

So is dit ook met gelowiges. Party van ons voel ook so, soos daardie droë of verwelkte boompie wat nie gegroei kan kry nie of soos die rokerige ou lamppit wat maar baie dof skyn. Jy dink dat jy is van min nut vir die Here en dat Hy jou dalk selfs nie eens raaksien nie. Dit is nie die waarheid nie, Hy weet van jou en al jou behoeftes.

Net soos ek met daardie boompie in my tuin sal die Here vir jou ook daardie ekstra aandag gee wat jy nodig het net om jou weer gesond en aan die groei te kry. Hy wil en sal jou nie vernietig nie al is jy nou ook soos daardie geknakte riet of die dowwe en rokerige lamppit. Hy wil jou help en nié sien sukkel nie.

Vra vandag die Here om vir jou ook daardie ekstra aandag te gee, vra vir Hom om jou weer nat te maak met Sy lewende water sodat jy sal groei of om Sy Heilige Gees olie by jou lamp te voeg sodat jou rokerige en dowwe lamppit weer helder sal brand. Vra Hom nou.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader ek kom na U toe in die naam van Jesus Christus en ek vra dat U my asb. sal help. Here ek voel soos daardie geknakte riet of die rokerige dowwe lamppit wat nie meer sy lig gee soos dit moet nie. Sal U asb. vandag ook aan my spesiale aandag gee, sal U my asb. vandag oplig en restoureer sodat ek weer kan wees wat U wil hê ek moet wees. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

Thursday, 18 December 2014

Here help ons! - deur Anton Brink

Die Bybel waarsku ons daar wag ellende op die mense wat dít wat verkeerd is reg noem en wat reg is verkeerd.

 
Jesaja.

Hierdie skrifgedeelte kry ons in Jesaja 5: 20. Daar staan geskryf: “Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter.”

By 'n parade.

Ek kyk eenkeer na selfoon beeldmateriaal op die internet van 'n insident wat in Amerika plaasgevind het, dit is afgeneem tydens 'n optog. Op dié beeldmateriaal kan jy sien dat daar 'n hele paar honderd bymekaar is en dat hulle deur die strate loop met baniere.

Hulle het dié optog gehou om fokus te plaas op die pleidooi van die gay gemeenskap in daardie stad en hulle vra dat die gemeenskap in die breë meer verdraagsaam moet wees teenoor mense wat homoseksueel is en dat daar nie teen hulle gediskrimineer moet word nie.

Straat predikante.

Op die video kan jy sien dat eenkant, op hulle eie, staan daar twee jong mans ook met baniere. Hulle het stil-stil probeer aandag trek na dít waarin hulle weer op hulle beurt glo.

Die een banier het net gesê “bekeer julle” en die ander een “die wie sterf sonder Christus kan nie die ewige lewe beërwe nie.” Hulle het m.a.w. die duidelike en ondubbelsinnige waarheid van die Evangelie verkondig.

Vuiste klap.

Skielik kan jy op hierdie video sien hoe 'n man én 'n vrou op hierdie twee Christene afstorm en hulle begin vloek, skel en dreig. Uiteindelik toe hulle sien dat hierdie twee jong mans nie van plan is om weg te gaan nie het hulle gewelddadig geword en hulle aangerand beslis met die doel om hulle ernstig te beseer.

Dubbele standaarde.

Selfs toe dié twee weerlose gelowiges al op die grond lê, het hulle aangehou om hulle te skop en te slaan. Dít alles gebeur by 'n optog waar mense deur dié einste optoggangers gevra word om verdraagsaam te wees, hoe maak dit sin?

Dit gebeur al vir duisende jare.

Moenie verbaas wees as jy deur die wêreld vir hierdie dinge veroordeel word nie. Dit was dieselfde met Jesus se dissipels gewees, van hulle het gereeld in die tronk geslaap en dit nét omdat hulle die waarheid gepraat en verkondig het.

Staan sterk en moenie bang wees nie. God sal jou nié verlaat nie.

Sterkte!

Kom ons bid. Here Jesus help my om altyd U nie veroordelende liefde met ’n verloregaande wêreld te deel. Help my Vader om altyd U ondubbelsinnige waarheid te praat maar om dit nooit maar nooit op ’n liefdelose manier te doen nie. Ek wil hê álle mense moet U leer ken as hulle verlosser maak nie saak wie of wat hulle is of wat hulle gedoen het nie. Mag dit so wees Here. Beskerm my en elke ander gelowige wat standpunt inneem vir U waarheid. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Wednesday, 17 December 2014

Die vark in die verhaal - deur Anton Brink

Jy onthou seker die verhaal van die drie varkies wat ons as kinders so graag na geluister het en hoe elkeen van hulle 'n huis gebou het om in te woon?


Boumateriaal.

Die eerste een se huis was van strooi gebou, die tweede een sin van hout en die derde en laaste varkie se huis van bakstene met 'n goeie en sterk dak en ook ’n stewige fondasie. Jy onthou mos darem seker wat in die verhaal gebeur?

Hy kan probeer so hard hy wil.

Die wolf kom en blaas die eerste twee varkies se huise sommer net so onderstebo máár wanneer hy by die derde vark se ordentlik geboude en stewige baksteenhuis aankom kan hy daar net mooi níks regkry nie.

Alles oor.

Uiteindelik probeer hy (die wolf) dan op die dak van dié baksteenhuis klim sodat hy sommer deur die skoorsteen kan kruip en sodoende dan by die varkies kan uit kom om hulle op te eet. Dié varkies is egter slaggereed vir hom en die wolf beland dan in 'n pot kokende warm water en so kom hy dan aan sy einde.

Dis met ons ook so.

Op 'n manier lewe elkeen van ons elke dag hierdie verhaal van die drie varkies uit en afhangende van hoe stewig jóú geestelike huis is, sal dit bepalend wees van of die “wolf” dit gaan regkry om by jóú uit te kom en of hy jóú ook gaan vang en opeet.

Wees sterk in die Here.

Onthou dat die “wolf”, of in ons geval die duiwel, kan regtig eintlik nie veel meer aan jou en my doen as om net te hoes en te proes nie. Dit is slegs wanneer ons geestelike lewens nie is waar dit veronderstel is om te wees nie en ons sodoende as’t ware ’n oop of swak mure in ons lewens het dat hy (die duiwel) by ons kan uitkom en ons verskeur.

Wees op jou hoede.

Hoe maak jy seker dat jy veilig is? Wel, om mee te begin móét jy 'n lewende en opregte verhouding met God hê deur die Here Jesus as verlosser te ken en Hom met jou mond as jou Saligmaker te bely.

Jy kan nie daarsonder nie.

Hierdie lewende, opregte en intieme verhouding met God gaan jy net bereik wanneer jy kwaliteit tyd in gebed by die Here spandeer, daarsonder woon jy eintlik maar in 'n geestelike huis van strooi wat maklik deur die vyand omgeblaas kan word. 'n Sterk gebed lewe is krities belangrik.

Weerstaan die duiwel.

Tweedens. Jy moet moeite doen daarmee om te sorg dat jy géén doelbewuste sonde in jou lewe het nie, onthou, God soek een honderd persent van jou, Hy wil alles van jou hê nie net ’n bietjie nie. Moenie vir Hom 99 % gee nie. As jy wel iemand is wat tans doelbewuste sonde in jou lewe het onthou asb. net dat God sal nou nie verwerp a.g.v. daarvan nie. Hy is lief vir ons nét soos wat ons is máár Hy is gelukkig tog té lief vir ons om ons te los soos wat ons is.

Enige iets in jou lewe, gewoontesonde ens. wat vir jou belangriker is as God noem Hy 'n afgod en verstaan mooi, Hy is nie bereid om jou te deel nie, nie nou nie, nie ooit nie. As jy 'n redelik toegewyde gelowige is maar nog altyd meestal jou eie kop volg en wat steeds ook nie kan of wil breek met sonde in jou lewe nie, ten spyte daarvan dat jy wéét God praat met jou daaroor, is jy soos die varkie in die hout huis.

Jy staan wel 'n bietjie stewiger a.g.v. van jou redelik toegewyde verhouding met die Here maar met net so 'n klein bietjie meer “effort” sal die wolf jou plekkie uiteindelik óók omblaas.

Doelbewuste sonde laat ongelukkig ’n oop deur in jou lewe vir die vyand en gee dit hom eintlik wettige grondgebied in jou lewe waardeur hy jou kan aanval en seermaak. Laat dus liewer toe dat die Here jou van daardie sonde help vrymaak. Dit gaan ongelukkig nie gebeur as jy nie eers gewilliglik daartoe instem nie so maak daai keuse vandag

Derdens. Dis die huis van bakstene met die sterk dak en fondasies. Jy is veilig geanker in jou verhouding met God deur gebed, aanbidding en die woord van die Here wat jy daagliks inneem om jou gees mee te voed. Jy maak moeite om te bid en by die Here se voete te gaan sit en jy het gebreek met jou doelbewuste sonde in jou lewe en jy streef daarna om, en doen ook, elke dag die wil van God soos jy ervaar Hy jou deur die Heilige Gees lei en leer.

Jy het jou offers van die vlees gebring en dit (jou vlees) gekruisig en begeer om meer van die Here in jou lewe te hê. By hierdie huis sal die duiwel dit baie moeilik vind om in te kom, eintlik amper onmoontlik maar dit gaan hom beslis nie keer om nog steeds te probeer nie. Hy sal enige iets uitdink en ook enige mense of enige situasie gebruik om jou te probeer vernietig.

Dit is wanneer ons gereed moet wees met 'n plan. Ek sê altyd, die woord van God leer vir ons dat as enige een van ons wysheid kortkom moet ons dit van God bid en dan sál Hy dit vir ons gee. Wanneer jy dus ervaar dat die duiwel wel besig is om deur jou stewige huis se skoorsteen te probeer glip vra dan God vir daardie wysheid om te weet hoe jy moet optree of wat jy moet doen sodat dié duiwel in jou lewe ook in daai pot kokende warm water sal beland en so aan sy einde sal kom.

Ander mense word daardeur geraak.

'n Laaste ding wat vir my uitstaan omtrent die derde varkie is die feit dat die ander twee onverantwoordelike varkies sáám met die derde een op die ou end in dié (die verantwoordelike varkie) se huis was. M.a.w. my en jou gehoorsaamheid aan God kan 'n beskutting, 'n veilige hawe ook vir ander mense beteken. Net so kan ons ongehoorsaamheid ongelukkig ook die teenoorgestelde effek hê en ander mense se seer en ondergang beteken.

’n Voorbeeld.

'n Pa wat elke oggend vroeg opstaan en bid vir sy vrou en kinders en wat nie toelaat dat sonde deel van sy lewe is nie skep beslis daardie veilige huis vir sy gesin en die seën en beskerming van God rus gevolglik nie net op hom nie maar ook op sy gesin. Hulle is dus veilig omdat hulle Pa verantwoordelik en gehoorsaam is.

In Matheus 7: 24 – 27 staan daar geskryf, “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

Bou van vandag af jou geestelike huis op ’n vaste fondasie en met daardie stewige mure en dak sodat die vyand jou nie sal kan verwoes nie.

Sterkte!
Kom ons bid. Here help my om meer te bid, help my om meer tyd by U te spandeer sodat ek ook in 'n geestelike sterk huis sal kan woon en ook aan my familie en vriende die veilige hawe kan bid wat hulle verdien. Here gee asb. vir my wysheid om die aanslae van die vyand raak te sien en effektief teen te staan. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Monday, 15 December 2014

13 Per dag - deur Anton Brink

Vrydagoggend het ons almal wat by Tygerberg 104fm betrokke is oudergewoonte in die kafeteria bymekaargekom.
Soos gewoonlik kon ons luister na ’n getuienis, het ons saam gesing en ook saam gebid. Die bekende kunstenaar Neville D was hierdie keer daar en dit was besonders lekker om te hoor waar hy vandaan kom en hoe die Here hom gebring het tot waar hy vandag is.

Na alles verby is en ons al amper op die punt gestaan het om af te sluit het ons hoof uitvoerende beampte, Hardus Zevenster, ook eers met ons gesels. Hy het gepraat oor die vakansietyd wat voorlê en het gesê dat ons almal ’n welverdiende ruskans verdien en dat ons die af tyd saam met ons geliefdes baie moet geniet.

Hy het ook gepraat oor die afgelope jaar wat verby is en met trots verwys na al die dinge wat ons as ’n span kon regkry en hoe hierdie dinge werklik ’n groot impak ten goede op die gemeenskap in die Kaap maak.

Hy noem toe ook ’n paar interessante statistieke oor Tygerberg 104fm vir die afgelope 12 maande wat my behoorlik stom geslaan het net om dit by ons tuis te bring wat dié radiostasie eintlik vir mense beteken.

Wat vir my die kosbaarste was, was die feit dat Hardus vir ons vertel het dat ons oor die afgelope jaar gemiddeld 13 oorgawes per dag by Tygerberg 104fm gehad het. M.a.w. elke dag van die afgelope jaar wat verby is, was daar dertien mense wat hulle harte vir die eerste keer vir die Here Jesus gegee het en sodoende dus tot bekering gekom het. Is dit nie wonderlik nie?!

Behalwe die oorgawes het ons beraders en gebedsvriende ook gemiddeld 48 gebedsversoeke elke dag hanteer. Dit is interessant om op te let dat die meeste van daardie versoeke gehandel het oor verhoudings of huwelike wat verbrokkel en finansies. Elkeen van hierdie gebedsversoeke is hanteer en aan die Here opgedra.

Ek en al die ander mense wat by Tygerberg 104fm betrokke is kon net weer vir die Here dankie sê dat ons by hierdie wonderlike werk kon betrokke wees, dit is inderdaad ’n voorreg.

Behalwe hierdie wonderlike statistieke wat ek met jou wil deel vandag wil ek ook graag ’n uitnodiging aan jou rig.

As jy iemand is wat nog nie die Here Jesus leer ken het as jou eie persoonlike Saligmaker nie dan gee ek jou nou vandag hier die kans. Jy sal sien aan die onderkant van hierdie boodskap is daar ’n gebed. Ek nooi jou om dit hardop saam te bid terwyl jy dit lees en maak vandag vir Jesus die Koning van jou hart en lewe.

As jy dit klaar gedoen het gee ons asb. ’n luitjie by Tygerberg 104fm. Vra om met een van ons beraders te praat en vertel vir hulle dat jy ’n besluit geneem het om die Here Jesus as verlosser te aanvaar. Hulle sal vir jou verder hulp en raad gee.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 3: 17

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen



Friday, 12 December 2014

Op julle merke - deur Anton Brink

In Efesiërs 6: 12 staan daar geskryf: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.”



Wanneer ons na hierdie skrif kyk verstaan ons en word dit baie duidelik dat daar nie 'n wapen op hierdie aarde bestaan wat weerstand kan bied teen die vyand wat ons elke dag aanval nie.

Neem kennis.

Daar is net een wáre oorlog wat saak maak en daardie oorlog woed daagliks rondom ons. Ongelukkig is dit ook so dat dié stryd vir baie mense ongesiens verbygaan. Die stryd of oorlog waarna ek verwys is natuurlik 'n geestelike een, die stryd tussen die duisternis en die lig.

Moenie moed verloor nie.

Vir my en jou is die oorlog eintlik al klaar gewen. Jesus het dit aan die Kruis kom doen. Wanneer ons die Here Jesus as persoonlike verlosser en Saligmaker aanvaar en ons erken en bely Hom as sodanig kan ons gerus wees daarin dat ons ís gered en ons ís Sy kinders.

Dit beteken egter nie dat ons nou maar ongeërg oor ons geestelike lewens kan wees nie. Om die waarheid te sê moet ons nou juis oplet loop vir aanvalle van die duiwel.

Ek kyk graag (wanneer ek tyd het) na programme op TV oor insidente wat in die regte lewe gebeur het. Insidente wat bv. op kringtelevisie kameras vasgevang is waar misdadigers uitgevang en vasgevat is deur gewone mense of dalk deur die polisie.

Hy kom om te steel.

So kyk ek nou die dag na beeldmateriaal wat op einste so 'n kringtelevisie kamera vasgevang is. Dit is afgeneem in 'n tipe van superette. Op die kamera kan jy duidelik sien hoe 'n jong man agter die toonbank by die kasregister staan.

Hy is besig om op sy selfoon te praat. Die volgende oomblik en soos blits storm 'n ander jong man by dié winkel se deur in met 'n pistool in sy hand gereed om die winkel te beroof.

’n Skoot klap.

Die skurk was nog nie eens by die toonbank waar die kasregister staan nie of 'n skoot gaan af en tref hom reg in die kakebeen. Hy sak net daar in mekaar en lê op die grond terwyl hy krul van die pyn. Nie lank daarna nie ís hy toe darem hospitaal toe geneem en het volkome herstel. Hy is later 'n baie swaar vonnis in 'n kriminele hof voor ’n regter opgelê.

Vinnige reaksie.

Die rede waarom die jong man wat in die winkel werk so vreeslik vinnig kon reageer op die rower se aanval was omdat hy 100 % daarop voorbereid was. Agter die toonbank net links van die kasregister het hy sy eie vuurwapen gehad wat daar gelê het, gereed vir ingeval iets soos dié dalk sou gebeur.

Toe die winkel se voordeur dus oopgaan en hy die dief met die geweer in die hand sien instap was hy blitsvinnig om sy eie wapen te gryp en die skelm net daar in sy spore te stuit.

Ons moet reg wees, nes daai winkelklerk.

Ek en jy wat in Jesus glo moet ook elke dag op ons hoede wees. Ons moet geestelik fiks en flink wees om die aanvalle van die vyand vinnig raak te sien en ons teen hom teen te sit.

Ons moet as’t ware soos atlete wees wat elke dag in ons blokke sak, gereed vir die wedloop of die stryd wat voorlê. Wanneer die ou lewe dan langs die kantlyn skree op julle merke, gereed, weg, dan moet ons dadelik kan reageer.

Wat van jou?

Hoe lyk jou geestelike gereedheid, sal jy gereed wees vir wanneer die vyand skielik by die voordeur van jou lewe inbars of gaan hy jou onkant betrap en dit regkry om jou te besteel?

Die skrifgedeelte in Efesiërs 6 wat ons vroeër gelees het verwys ook ’n paar verse verder na die wapenrusting van God wat elke gelowige daagliks moet aantrek. As jy jouself nie daarmee gaan beklee nie gaan dit vir die duiwel baie maklik wees om 'n slagoffer van jou te maak.

Bly biddend en soek God Sy aangesig soveel as moontlik. Vra dat die Heilige Gees daagliks jou metgesel sal wees en maak seker dat jy vir die Here vra om vir jou wysheid te gee. Hy sal.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader God ek trek vandag die borswapen aan as vryspraak, ek omgord my heupe met die waarheid, ek neem as skoene aan my voete die bereidheid om die Evangelie van Jesus Christus te verkondig, ek plaas die helm van verlossing om my hoof en ek neem die swaard van die gees dis die kennis van die Bybel en die skild van geloof op om my teen die vurige aanvalle van die duiwel te beskerm. Here help my om wakker en gereed te wees vir wanneer die duiwel my aanval sodat hy nie by my sal kán steel en my lewe sal kan verwoes nie. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Thursday, 11 December 2014

Een-twee-drie - deur Anton Brink


As jy nooit weer 'n dag in jou lewe wil werk nie doen dan dit waarvoor jy lief is, dié dinge wat vir jou spontaan (waarskynlik al van kleins af) kom.



 
Sy is deur.

Net gisteroggend sit ek met iemand en gesels. Sy het pas gehoor dat haar kind graad 11 geslaag het. Sy en haar man is met reg baie trots daarop. Volgende jaar is dit matriek en dan lê die grootmens wêreld vir hulle dogter voor.

Ek vra toe vir haar of hulle al gedink het aan 'n loopbaan keuse vir haar. Sy sê toe dat hulle hét maar dat hulle glad nie seker is oor wat die beste vir haar sal wees nie.

Haar Wiskunde punte is ook nie so goed as wat hulle dit graag sou wou hê nie en dit bekommer haar omdat dit hulle opsies verminder wanneer dit kom by die kursusse waaruit gekies kan word en dan ook natuurlik die loopbaan waarvoor sy haar self kan beywer beïnvloed.

Dit is tóé dat ons begin gesels oor die talente wat God vir elke mens gee.

Ek vra toe vir haar of sy kan dink aan iets waarin dié dogter van haar goed is. Ek wou weet of daar iets is wat die kind dalk al van kleintyd af doen wat vir haar sonder moeite gekom het, iets wat sy gedoen het wat dit laat lyk het asof sy gebore is daarvoor.

Ja.

Om te sing en musiek te maak, dít was haar antwoord. Hierdie 17 jarige meisiekind is gek na musiek en sy het al selfs die hoogste verering gekry vir die instrumente wat sy bespeel in die musiekskool waar sy betrokke is.

Natuurlik was my volgende vraag toe gewees hoekom hulle dan nie vir haar help met 'n loopbaan in musiek en sang nie. Sou dit dan nie die logies keuse wees nie aangesien dit duidelik is wat die Here vir haar as talent gegee het?

Onseker.

Sy sê toe dat hulle hét dit al vir hulle dogter voorgestel maar dat dié nie wil nie omdat iemand vir haar gesê het dat daar nie juis 'n toekoms daarin is nie omdat kunstenaars in meeste gevalle vir baie jare vreeslik sukkel om suksesvol te wees en dat hulle baie keer maar met min geld moet klaarkom.

God se plan.

Al wat ek vir haar kon sê is dat wanneer dit God is wat vir jou die opdrag gee, sal Hy ook dit voorsien wat jy nodig het. As hulle dus saam met hulle dogter dié se toekoms na die Here toe neem en hulle is oortuig dat dit die Here is wat haar gelei het om 'n liefde vir musiek en sang te hê én dat dit wel Sy plan vir haar is, kan hulle maar gerus wees en weet dat Hy die res vir haar ook sal byvoeg.

In Mattheus 25: 14 – 19 staan daar geskryf: “Verder gaan dit soos met 'n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan. Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en 'n wins gemaak van nog vyf. So ook die een wat twee gekry het: hy het 'n wins gemaak van nog twee. Maar die slaaf wat een gekry het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek. Na 'n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra.”

Hy wil hê ons moet.

God verwag van ons om met ons talente te woeker selfs al het jy nét een gekry. Hierdie talente wat Hy aan ons toevertrou is eerstens om eer aan Hom te bring, om Hom daarmee te verheerlik máár God is ook baie prakties wat dit aanbetref.

Hy gee vir ons talente sodat ons 'n lewe, 'n bestaan daaruit kan maak. M.a.w. om geld daaruit te verdien sodat ons daardie nodige inkomste sal hê om aan ons alle daagse behoeftes te voorsien en dit dan te bevredig.

Wat het jy?
Het jy iets waarin jy weet jy goed is, iets wat jy al van kindsbeen af doen, iets wat spontaan vir jou kom en wat jy regtig baie geniet om te doen? Die kanse is baie waarskynlik dat dit die talent is wat die Here aan jou gegee het en wat Hy wil jy moet gebruik.

Jy kan nog.

Dit is nog nie te laat nie. Al werk jy al jare in 'n ander rigting as dit wat jy eintlik wóú doen vra dan die Here om vir jou die deure oop te maak sodat jy dit kan begin doen. Ek is seker Hy sal jou versoek eer.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse God en Vader ek bring vandag weer aan U al die lof en aanbidding wat U toekom. Ek wil graag 'n sukses van my lewe maak en ek wil weet dat dit wat ek doen was U keuse vir my. Wys my asb. en gee asb. vir my geleenthede om dit te begin doen en help my om asb. 'n groot sukses daarvan te maak. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

Wednesday, 10 December 2014

Kul jou hier kul jou daar - deur Anton Brink

Lank gelede was daar 'n kulkunstenaar wat gereeld op Suid-Afrikaanse televisie te siene was. Sy naam was Mario en hy kon altyd met die allervreemdste dinge vorendag kom om goed sommerso voor mense se oë te laat verskyn of verdwyn.
Die arme man by die padstal.

Ek sal nooit vergeet hoe hy (Mario) eenkeer in een van Leon Schuster se flieks gespeel het nie. In dié spesifieke toneel het Mario 'n padstal besoek en het hy toe vir hom daar 'n lekker sappige spanspek gekoop om te eet.

Vir die doel van hierdie kulkuns toertjie en om die nodige aandag van die padstal eienaar te trek, sny hy toe sy spanspek sommer net daar oop. Terwyl die kameras rol, en duidelik vir die padstal eienaar om te sien, ontdek Mario dan kamstig 'n opgevoude R20-noot reg in die middel van dié einste spanspek wat hy oop gesny het.

Mario is vreeslik verbaas en jy kan sien die padstal eienaar is omtrent stom. Mario gryp dan nog 'n spanspek en dan nóg een en nóg een en elke keer is daar geld in.

Skielik.

Die padstal eienaar kyk dan na res van die spanspekke wat nog net so op die rak lê en die volgende oomblik raak hy hewig omgekrap en beduie dan met groot gebare aan Mario dat geen spanspekke verder te koop is nie.

Hy gaan mos darem nie geld groeiende spanspekke sommer net so onder sy neus laat uitverkoop nie, my wêreld.

Kom kyk.

Die manr roep dan haastig sy vrou nader en vertel vir haar wat gebeur het. Een vir een begin hulle die spanspekke oopsny op soek na die geld daar binne-in maar, natuurlik, kry hulle niks. Elke spanspek is net vol pitte en lekker soet spanspek vleis.

Uiteindelik.

Na 'n tydjie en met 'n padstal eienaar wat erg omgekrap is kom Mario dan weer op die toneel en verduidelik vir hom dat hulle eintlik besig is om 'n fliek te maak waarin hulle mense uitvang en dat hy een van die mense is van wie hulle nou 'n lekker gek gemaak het.

Op die ou einde lag hulle lekker saam vir dié lawwigheid.

In 2 Korintiërs 11 vers 14 staan daar geskryf: “En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as 'n engel van die lig.”

Die duiwel sal homself altyd aan jou voorhou as een wat eintlik goed is en die dinge wat hy bereid is om vir jou te gee of te doen lyk baie keer wonderlik en reg maar eintlik is hy besig om jou ’n rat voor die oë te draai.

Is jy dalk iemand met wie dit al gebeur het? Geleenthede wat vir jou net te goed lyk om waar te wees het hulle skielik voorgedoen en jy wou graag in jou hart glo dat hierdie kans wat jy kry is van die Here af omdat dit so fantasies lyk?

Nie alles wat skitter is goud nie.

Kyk weer na daardie skrifgedeelte. Dit sê dat die duiwel doen hom self voor as 'n engel van die lig. M.a.w. hy het ten doel om jou te kul om en om jou te laat dink dat wat hy vir jou aanbied is die ware Jacob terwyl dit eintlik glad nie is nie.

Moenie elke geleentheid wat jou pad langs kom sommer net gryp nie. Hoor eers by die Here of dit werklik van Hom af is en of dit Sy plan vir jou is.

Al wat jou gaan help om te onderskei is om elke dag die wapenrusting van God aan te trek en om seker te maak dat jou kennis en veral jou insig van God se Woord groei. Spandeer ook tyd by die Here sodat jou verhouding met Hom sterk word en sal bly sodat jy nie om elke hoek en draai om die bos gelei en verkul word nie.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader ek wil nie gekul word deur die duiwel nie. Gee my asb. wysheid, kennis en insig uit U Woord en maak my geestelik sterk om te onderskei tussen die nagemaakte engel van die lig en die ware God van lig. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Tuesday, 9 December 2014

Haas das se nuus kas - deur Anton Brink

Hier 'n bietjie daar 'n bietjie.
 
 .













Dís hoe dit vir my voel as dit by ons elektrisiteit en die standhoudende voorsiening daarvan kom. 'n Mens moet deesdae so mooi beplan as dit by alledaagse dinge van die lewe kom, dinge wat vroeër baie eenvoudig was.

Deesdae, net om nie koue of rou kos te hê vir middag of aandete nie moet jy eers die Eskom skedule gaan raadpleeg om te sien of jy darem ten minste krag in die huis gaan hê voordat jy dit begin voorberei. Om net 'n koppie tee of koffie te maak is skielik nie meer so eenvoudig nie.

Hulle moet hulle sokkies optrek.

Ons hét rede om te kla en kla sál ons kla. Ons is immers belastingbetalers en ons dra almal baie geld by vir ’n ordentlike diens om aan ons gelewer te word so as ’n verbruiker is dit nie net ons reg nie maar ons plig om ons stemme dik te maak.

Vandag se stukkie gaan egter nie daaroor (om te kla) nie.

Daar kan vele dae verbygaan terwyl ons aanhoudend oor hierdie dinge praat en ons onsself al meer daaroor opwerk maar op die ou end kan nie ek of jy nóú op hierdie oomblik veel aan dié onaangename situasie doen behalwe om maar liewer net te probeer om die beste van 'n slegte saak te probeer maak nie.

So sit ek toe mos oor die naweek rustig by die huis. My kinders ís maar daar in die omtrek voor die TV en in die kamer en my vrou is besig in die kombuis. Skielik gaan die krag af en vir 'n oomblik daal daar 'n doodse stilte in ons huis neer.

Oomblikke van te vore het die TV nog geblêr en het die klitser in die kombuis lawaai gemaak maar nou is daar niks. Dis asof die hele wêreld net skielik tot stilstand gekom het.

Wat nou?

Dit was vir my interessant om op te let na wat net na die krag afgegaan het gebeur het. Behalwe die heerlike kalmte wat daar was, het die kinders se belangstelling amper oombliklik van die televisie af na ander (beter) dinge verskuif.

Speel-speel in en om die huis.

Hulle het mekaar sommer so spontaan begin rondjaag en het lekker begin speel. My vrou moes dadelik (op aandrang van dié twee) hulle maatjies se Mamma’s bel om te hoor of hulle kan kom kuier om te swem, puzzle te bou en bord speletjies te speel.

Later.

Selfs nadat die krag lankal weer aangegaan het, het die kinders steeds gespeel dat die sweet hulle behoorlik afgetap het. Op 'n manier het ek so stil-stil by myself gewens dat dit eintlik maar elke dag so kon wees.

Ek onthou immers nog hoe dit was toe ek ’n kind was. Ons was behoorlik huilerig as dit begin donker word en dit tyd was om huis toe te gaan.

Daardie dae was daar nie iets soos TV deur die dag kyk nie. Jy moes maar wag vir half ses die aand en dan was dit in elk geval ook net omtrent vir “Haas das se nuus kas” wat op die kassie was. Die res van die tyd het jy maar fietsgery, kleilat gegooi, op jou Ma se senuwees gewerk of albaster gespeel.

Lekker tye.

Wanneer die krag so afgaan dan onthou mens en waardeer jy weer die waarde van vriende en familie. Daar is min dinge so rustig, gesellig en intiem soos om by kerslig of buite om 'n braaivleis vuur saam met mense vir wie jy lief is en omgee te kuier en tyd te spandeer.

Ons vergeet so gou hoe belangrik dit is om soms al die geraas soos die TV, rekenaar en selfoon af te skakel en om dan weer ’n slag op mekaar te fokus eerder as op al die klomp dinge rondom ons wat elke dag ons aandag so maklik kan aftrek.

So, volgende keer as die krag weer afgaan kyk dan ’n bietjie rondom jou. Wié is daar wat jy weer ’n slag kan kontak, lekker mee saamspeel en lag of sommer net lang geselsies maak. Probeer vergeet van die werk wat jy nog moet klaarmaak of die kos wat jy moet voorberei en probeer om liewer die beste van ’n slegte saak te maak.

Laat ons doen wat in Kolossense 3: 15 – 16 geskryf staan: “Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.”

Sterkte!

Kom ons bid. Vader help my asb. om die beste van elke slegte situasie in my lewe te maak sodat selfs die slegte dinge op die ou end U naam verheerlik. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Monday, 8 December 2014

Die Heiland is gebore - deur Anton Brink

Ek let die afgelope tyd op dat daar baie gesprekke of debatte die wêreld heen gevoer word oor Jesus Christus as God.

Daar is dié mense wat hulle beywer daarvoor om die publiek te probeer oortuig dat Jesus nooit regtig gekruisig was nie en dat Hy, volgens hulle, vrygelaat is of dalk ontsnap het.

Dan is daar weer ’n ander groep wat argumenteer dat die Here Jesus in die eerste plek nooit regtig bestaan het nie, dat so ’n persoon nooit gebore was om mee te begin nie en dat die Evangelie is eintlik maar net ’n tipe van sprokie wat deur miljoene mense as die waarheid geglo word.

Ek wil my nie vreeslik oor hierdie dinge uitlaat nie en ek dink in elk geval dit is ’n mors van tyd om daarna te sit en luister. Dit is baie moeilik om sulke intellektuele mense met allerhande argumente van God se waarheid te probeer oortuig. Ek glo op die ou end is dit maar net die Heilige Gees wat werklik met sulkes kan werk om ’n verandering in hulle harte te weeg te bring.

Ons moet die Here vertrou om met hulle bemoeienis te maak sodat hulle Hom sal ontmoet en leer ken as Saligmaker.

Wat vir my belangrik is, is dat jy wat vandag hierdie stukkie lees seker is van jou saak en dat jy sal verstaan dat wanneer jy die Here Jesus as verlosser aanvaar ís jy verlos en beërwe jy Sy ewige lewe. Hy wil jou genadig wees en vryspreek maar dit kan net gebeur wanneer jy die Here Jesus as jou persoonlike verlosser aanvaar.

As jy nog nie het nie maar wil graag, lees dan die onderstaande gebed en gee jou lewe vir Hom. Wanneer jy dit gedoen het kontak as die gebed vriende by Tygerberg 104fm op 0861 104 104 sodat hulle vir jou verder kan raad gee oor wat jy nou moet doen.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 3: 17

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen

Friday, 5 December 2014

Kan ék dit maar vir jou betaal? - deur Anton Brink

Die Here is darem lief daarvoor om 'n mens partykeer sommerso hééltemal onverwags uit jou gemaksone uit te neem.


So staan ek mos eendag in die ry by Shoe City daar anderkant in Northumberland straat, Bellville om vir 'n paar skoene wat ek wou koop te betaal.

Daar was niks snaaks nie.

Dit was 'n doodgewone somerdag soos enige ander en ek het beslis nie verwag dat die Here van plan was om my in 'n skoene winkel van alle plekke gaan vra om iets vir Hom te doen nie.

Skielik en sonder enige waarskuwing fokus my aandag op die man voor my in die ry en hoor ek hoe die Here vir my sê om hom te vra of ek maar vir sy skoene kan betaal.

Ek het my absolute bes gedoen om dié opdrag van die Here te probeer ignoreer maar nee, die oortuiging was knaend en uiteindelik toe ons so nét duskant die betaalpunt was tik ek hom sag op die skouer.

Toe hy omdraai sê ek toe ek dat ek jammer is om hom te pla maar ek wou net weet of hy sal omgee as ek miskien vir sy skoene betaal.

Glo my gerus.

Daar was niks aan hierdie man wat vir my die indruk gegee het dat hy nie self vir dié paar skoene kon betaal nie. Hy was 'n normale, skoon en op die oog af goed versorgde individu wat nié vir my gelyk soos iemand wat 'n ander man se geld nodig het om vir sy skoene te betaal nie.

So gesê so gedaan.

Na ek hom gevra het, het hy my vir 'n kort oomblik stil gestaan en aankyk en het hy toe sy kop so stadig instemmend geknik en sag gesê dat dit reg so met hom is as ek die skoene vir hom wil betaal.

By die kasregister het ek toe twee aparte transaksies laat oplui, een vir my en een vir hom sodat hy sy eie kwitansie kon kry vir as jy dit dalk later weer sou nodig hê of iets.

Groot was my verbasing.

Toe ek en hy saam-saam by die winkel uitstap draai die man na my en sê vir my: “Weet jy wat, ek het vandag na hierdie winkel toe gekom om vir my skoene te koop al het ek nie die geld daarvoor nie. Ek het op pad hierheen vir die Here gesê dat ek my vertroue in Hom sit om vir my te voorsien en dat ek in geloof 'n paar skoene sal kies wat ek nodig het en dat ek ook in geloof tot by die kasregister sal stap. Ek het my voorgeneem dat as die Here nie voor ek moet betaal vir my die geld voorsien nie sal ek maar net die skoene neersit en uitstap. Toe kom jy nét voor ek wou uitloop en vra of jy my skoene vir my kan betaal, die Here het jou vandag gebruik om my gebed te beantwoord, jy was vandag Sy wonderwerk vir my.”

Om vir my te bewys dat hy die waarheid praat dop hy toe sy broeksakke net daar uit en wys vir my dat daar nie soveel as selfs net een sent daarin is nie.

Ek was sprakeloos.

My hart het behoorlik in my keel geklop toe hy dit vir my vertel én toe boonop sy leë sakke vir my wys, ek was baie aangedaan. Om te dink dat die Koning van die Konings het iets so klein soos 'n man se behoefte na 'n nuwe paar skoene raakgesien en tweedens dat Hy dit goedgedink het om vir my van alle mense te gebruik om die antwoord op hierdie man se versoek te wees.

Asemrowend.

Dit is die heel beste en amper onbeskryflikste gevoel in die hele wêreld om deur so iets te gaan te weet dat dit God self was wat binne-in daardie situasie bemoeienis met jou en almal betrokke te maak. Hy is waardig om geprys te word.

In 1 Samuel 15: 22 – 23 lees ons die verhaal van die gesprek tussen Samuel en Saul. Daar staan geskryf: “Toe sê Samuel: Hou die Here meer van allerhande offers as van gehoorsaamheid? Nee, om gehoorsaam te wees is beter as om offerdiere te slag en om te luister is beter as om die vet van ramme te verbrand. Om jou teen die Here te verset en jou eie kop te volg is net so erg as om na 'n waarsêer of afgodspriester te luister. Omdat jy die Here se woorde eenkant toe gestoot het, gaan die Here jou as koning eenkant toe stoot.”

Wanneer jy ervaar dat die Here met jou praat en vir jou vra om iets te gaan doen, doen dit dan dadelik. Moenie huiwer nie, jy is dalk net die antwoord op iemand anders se gebed, jy is dalk net vandag daardie persoon se wonderwerk van die Here af.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader God ek is baie dankbaar dat U met my bemoeienis maak. Ek is net 'n mens en ek maak foute maar nie U nie en wanneer U my gebruik weet ek dat U nie 'n fout sal maak nie. Ek wil graag hê dat U dit sal doen, gebruik my in ander mense se lewens, gebruik my Here om hulle lewens beter te maak en dat hulle so sal sien dat U met hulle deur my moeite doen en hulle gebede en versoeke deur my beantwoord. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Thursday, 4 December 2014

Sal jy met my trou? - deur Anton Brink

Ek sit gister en kyk na 'n hartroerende stukkie beeldmateriaal van 'n jong man wat nie minder nie as 17 maande lank beplan het daaraan om sy meisie te vra om met hom te trou.


Glo my as ek jou sê dit was skouspelagtig. Hierdie jong man het geen moeite ontsien om vir hierdie meisie te wys net hoe lief hy haar het nie. Van lang slap limousines tot 'n salon pamperlang saam met al haar beste vriendinne en boonop ook 'n uithaal ontbyt in die geselskap van almal vir wie sy lief is om maar net ’n paar goed te noem.

Reg deur die dag was daar groot bederf en op die ou end het hy haar teruggeneem na die plek waar hulle mekaar vier jaar vantevore die eerste keer ontmoet het en het hy haar toe ook net daar gevra om sy vrou te word, sy het ja gesê.

Tweeduisend jaar gelede het Jesus aan die Kruis ook ’n huweliksaanbod gemaak, ’n huweliksaanbod aan jou en my en ons het ja gesê, kom laat ons dan optree soos mense wat op die punt staan om in die huwelik te tree.

Die Bybel verwys na ons wat in die Here glo as die bruid van Christus. In Openbaring 19: 7 – 8 staan geskryf: “Laat ons vrolik feesvier. Laat ons uitbundig van vreugde oorloop. Laat ons vir almal vertel hoe groot en belangrik God is. Ons het goeie rede. Die troudag van die Lam is hier! Sy bruid het haar pragtig reggemaak. God het vir haar die mooiste wit rok gegee om aan te trek. Dit is van die fynste, kosbaarste, witste materiaal gemaak wat jy jou maar kan voorstel. Hierdie kosbare materiaal is eintlik gemaak van al die regte en goeie dinge wat God se mense gedoen het.”

Ek weet nie wat jóú indruk is van iemand wat op trou staan nie maar myne is dat so 'n meisie haar reeds lank voor die tyd begin voorberei op daardie groot, mooi en belangrike dag.

Sy kyk dat haar hare mooi groei in die styl wat by haar pas, sy let op na haar figuur en probeer dalk selfs haar bes om reg te eet en miskien te oefen, sy sien om na haar vel en vertroetel haarself moontlik met vogroom. Dit alles sodat sy op haar beste kan lyk op die dag wanneer sy haar bruidegom voor in die kerk ontmoet.

Om reg te wees vir wanneer jou bruidegom jou kom haal is krities belangrik.

Jy het opgelet dat die gedeelte in Openbaring wat ons vroeër aangehaal het, het verwys na die rok wat die bruid aan het en wat gemaak is van die mooiste en kosbaarste materiaal en dat daardie materiaal eintlik gemaak is van die regte en goeie dinge wat God se kinders gedoen het.

Ons moet onthou dat om 'n gelowige te wees en dus gevolglik die bruid van Christus te wees beteken dat ons mooi en goeie dinge móét doen wat strook met ons verhouding en ons geloof in die Here wat natuurlik tot eer van ons Bruidegom sal wees.

Dit laat ons mooi lyk vir Hom.

Jou mooi en goeie dade sal jou nooit red nie maar dit lyk mooi en God hou daarvan. Moet dus nie 'n geleentheid laat verbygaan om uit jou hart uit mooi dinge vir ander mense te doen as jy wel die vermoë het om so te doen nie.

Kom laat ek en jy vandag en elke dag streef daarna om ons self mooi te maak vir ons bruidegom wat op pad is met die mooi en goeie dinge wat ons vir Hom doen sodat Hy ’n welbehae daarin sal vind en dat ons vir Hom mooi sal vertoon.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader God, help my om nie selfsugtig te wees met my verhouding en geloof in U nie. Help my om dit uit te leef na die mense rondom my met goeie dade en mooi werke sodat ek vir U mooi sal lyk. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Wednesday, 3 December 2014

Weet jou kinders hiervan? - deur Anton Brink

Wanneer kinders nie van kleintyd af reg geleer en ordentlik grootgemaak word nie word hulle ongelukkig groot en het hulle later hulle eie kinders wat dan dieselfde slegte maniere as hulle het.


So verander dit dan in ’n bose kringloop van mense wat vir geslagte lank nie weet hoe om reg te leef of hoe om reg op te tree nie. Een van die eerste dinge wat gewoonlik in die slag bly is ongelukkig respek.

Respek vir mense wat ouer as jy is, respek vir mense wat bo jou aangestel is, respek vir jou medemens en respek vir die samelewing oor die algemeen soos bv. vir die gesag van staatsorgane wat (veronderstel is om) wet en orde te handhaaf.

Dis erg.

Ek gesels eenkeer met ’n jong vrou saam met wie ek gewerk het oor haar wedervaringe in Londen, Engeland. Sy het vir ’n paar jaar daar gewoon en werk. Sy het soos baie ander mense ook maar altyd die bus of die ondergrondse trein gebruik om haar van plek tot plek te kry.

Raserige jong manne.

Eendag terwyl sy op die bus sit op pad werk toe kom daar ’n groep jong seuns en klim ook op. Hulle was in hulle tiener jare en baie luidrugtig. Hulle het kliphard allerlei ongeskikte aanmerkings gemaak oor die mense wat op die bus gesit het en het ook graag kru taal gebruik.

Toe praat die ou oom hulle aan.

Toe die een bejaarde man wat ook op die bus was en seker alreeds meer as tagtig jaar oud was dit toe durf waag om hierdie gespuis aan te praat oor hulle onopgevoede en ongeskikte optrede het hierdie tiener seuns vir geen oomblik geskroom om dié arme ou man nét daar en dan en ten aanskoue van al die passasiers te gryp, aan te rand en van die bus af te gooi dat hy hard op die sypaadjie land nie.

Die meisie wat vir my die storie vertel het, het gesê dat sy net vreeslik gehuil het oor dit wat hulle gedoen het, sy het die ou oom só jammer gekry. Sy het gehuil omdat haar Ma en Pa haar ordentlik grootgemaak het anders sou sy haar waarskynlik nie veel daaraan gesteur het nie.

In Spreuke 22: 6 staan daar geskryf: “Gee leiding aan 'n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.”

Die mensdom het ’n sondige natuur.

Om te dink dat ’n mens uit sy eie uit reg sal optree, die regte besluite sal maak en liewer die regte ding as die verkeerde ding sal doen in ongelukkig vêrgesog. ’n Mens se natuur is van so ’n aard dat om verkeerd te doen meer spontaan kom as om reg te doen.

Kyk maar na ’n kind. As jy vir ’n kind ’n halwe kans gee gáán hy aanjaag, veral as dit ’n seuntjie is. Om verkeerd te doen, is dus baie meer natuurlik of spontaan as om gehoorsaam te wees.

As kinders dus nie van kleintyd af goeie leiding ontvang nie dra hulle daardie wangedrag oor na hulle tiener en uiteindelik hulle volwasse jare en kry jy mettertyd ’n scenario waar verkeerd dan reg genoem word omdat dit is hoe hulle gewoond is om op te tree.

Ons moet dus, nie net terwille van ons self en ons kinders nie maar ook vir die geslagte wat lank na ons gaan kom seker maak dat ons kinders goeie maniere aanleer, goeie opvoeding en raad by ons kry en dat hulle weet hoe om reg en mooi op te tree.

Glo my, dit begin by iets so eenvoudig soos om hulle te leer om asseblief en dankie te sê en om hulle te leer om op te staan as grootmense by die vertrek instap en dat hulle dan dié grootmense ordentlik groet.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader ek is baie lief vir my kinders en ek wil nie sien dat hulle verlore gaan nie. Sal U my asb. help om hulle van kleins af te leer om reg op te tree, om goeie maniere te hê en om respek te hê vir ouer mense sowel as mense in gesagsposisies. Help my ook Here om hulle te leer om reg van verkeerd te onderskei sodat hulle sal weet wanneer so ’n iemand sy posisie oor hulle misbruik en dat hulle dan ook dienooreenkomstig sal optree. Ek wil hê my kinders moet floreer en grootword om honderd persent mense te wees wat bydra tot ’n beter en gesonder samelewing. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Tuesday, 2 December 2014

Toe kry ek my kind se plakkie in 'n ander vrou se handsak - deur Anton Brink

Ek moes eendag lekker lag vir die chaos wat 'n ou klein frats brandertjie op die strand by Blouberg kom saai het.

Dit was 'n lekker warm Sondagmiddag en ek, my vrou en ons twee kinders sit af see toe met ons strandsambreel, swem handdoeke en sonbrandolie om die dag by die see deur te bring.

Die kinders het dit natuurlik baie geniet en het mekaar op die sand rond gejaag terwyl ek en vroulief lekker in die skaduwee van die sambreel (wat ek diep in die sand geanker het) gesit en hulle dopgehou het.

Daar waar ons 'n plekkie op die strand gekry het, was die sand effe nat en het ek toe sommer al ons waardevolle items soos my vrou se handsak met die selfone en kamera in boaan die sonsambreel gehak sodat dit hoog en droog uit almal se pad kon hang en nie op die natterige sand hoef te staan nie.

Die res van ons goed soos die handdoeke, plakkies ens. het maar so rond en bont onder die sambreel gelê en pla mos in elk geval vir niemand nie.

Sonder waarskuwing.

Ewe skielik so uit die bloute hoor ek vrouens en kinders gil asof hulle lewens daarvan afhang en toe ek opkyk sien ek net 'n klomp water wat reguit op ons afpyl.

'n Groot golf het met baie krag op die strand gebreek en sy water het vêr teen die sand en tussendeur al die mense wat daar lê opgespoel.

Almal het verwoed rondgehardloop om te probeer gryp en red wat te red is. Ek was nét betyds om ons handdoeke en my plakkies op te tel maar die pak tjips was daarmee heen.

My dogtertjie se een skoen was heeltemal weg maar ons sou dit toe darem later (amper per ongeluk) in 'n wildvreemde vrou wat vêr agter ons gesit het se handsak kry.

Toe alles bedaar en die water weer teruggetrek het die see-in het ek gestaan en rondkyk na dié deurmekaar toneel wat hom voor my afspeel. Jy kon sien dat baie mense het waardevolle items verloor omdat hulle dit op die sand binne-in hulle hemde toegedraai het en dit toe nat geword het of heeltemal weggespoel het.

In die middel van al hierdie chaos het óns sonsambreel egter nog net so pen orent bly staan met die sak waarin ons waardevolle items was wat nog net so hoog en droog daaraan hang soos toe ek dit daaraan vasgesit het.

Wanneer die storms kom.

Ons sien nie altyd die frats branders in ons lewens aankom nie. Baie keer is dit heeltemal onverwags en kom dit so vinnig op ons afgepyl dat ons min of geen tyd het om te probeer red wat daar te red is nie. Voor ons weer sien spoel dit die dinge wat vir ons die kosbaarste is weg en kry ons dit dalk nooit weer terug nie.

Een ding is seker.

Die sonsambreel daardie dag was soos om geloof in God as ons Vader te hê en die sak met ons waardevolle items wat ek daaraan gehak het, is soos die kosbare dinge ons lewens.

Wanneer ons daardie kosbare dinge, ons huwelik, ons kinders, werk, toekoms ens. aan ons vaste geloof in God haak kan dit nie anders as om ook as’t ware hoog en droog te bly nie en kan die vyand dit nie sommer beetkry nie.

As jy dalk in so 'n situasie sit waar so 'n frats brander jou dalk onkant betrap het onthou dan dat God staan Sy kinders by in enige situasie en dat Hy jou altyd sal uitred as jy Hom daarvoor vra.

In Psalm 121: 1 – 2 staan daar geskryf: “Ek soek oral rondom my na iemand om my te help. Ek wonder dan: “Wie sal my nou regtig help?” Die Here sal my help. Hy het alles in die wêreld gemaak. Jy sal niks oorkom nie. God pas jou op.”

Skep moed. Haak dit wat vir jou waardevol is vas aan jou geloof in God sodat dit daar hoog en droog kan bly hang waar die vyand dit nie kan bykom nie.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader ek bring vandag alles wat vir my kosbaar is, my huwelik, my werk, my kinders en elkeen se toekoms en ek kom gee dit vir U, ek haak dit aan by my geloof en my vertroue in U en ek wil hê dat U dit asb. vir my sal bewaar en weghou uit die kloue van die vyand wat kom om te vernietig. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.