Eergister namiddag vra my vrou my om asb. gou na die winkel toe te gaan
om 'n bruinbrood en melk te gaan koop. Die kafee is nie vêr nie, net
af in die straat van my huis om die waarheid te sê en ek stap gewoonlik
sommer daarheen eerder as om te ry.
My 6 jarige dogtertjie is baie lief daarvoor om saam te loop en toe ek
die voordeur oopmaak hoor ek hoe roep sy agter my aan en vra dat ek asb.
vir haar moet wag want sy wil ook winkeltjie toe gaan vir 'n
lekkertjie.
So gesê so gedaan en ek en sy sit toe hand aan hand af na die kafee toe.
Ons het seker net so 'n 100 meter vêr geloop toe ek oplet dat vier mans
wat net 'n entjie weg van ons af in die straat in 'n wit dubbelkajuit
bakkie by die vier rigting stop oor die kruising ry skielik in die
middel van die pad stop. Hulle het vir my baie verdag gelyk.
Al vier van hulle kyk op in die straat na my en my kind wat aangestap
kom. Stadig “reverse” die bestuurder die voertuig en draai na regs,
reguit in ons rigting en kom aangery.
Ek het dadelik
agterdogtig begin raak en allerhande dinge het deur my kop gegaan.
Dinge soos dalk wil hulle my kind gryp en ontvoer of miskien will hulle
my beroof, ek het nie geweet wat om te verwag nie.
Die volgende
oomblik soos hulle aangery kom gaan die voorste passasiers venster oop
en kom die bakkie al hoe nader tot hy uiteindelik reg langs my stop. Al
waaraan ek kon dink was my kind se veiligheid en ek het my reggemaak om
vir haar te sê om te hardloop so vinnig as wat haar beentjies haar kon
dra.
Die uiteinde was dat dié vier mans verdwaal het en hulle
het rigting aanwysings by my gevra oor hoe om by 'n sekere plek uit te
kom. Ek was baie verlig maar dit het my tog laat dink aan hoe die
wêreld oor die afgelope jare verander het.
Dat 'n mens nou al
tot bang en versigtig moet wees net om na die winkeltjie op die hoek
van jou straat toe te stap, dis bitter hartseer. Ek kan nie onthou dat
dit vroeër so was nie?
Tog, ten spyte van al hierdie dinge moet
ek en jy wat die Here ken nie angstig raak nie. God het nie van ons
vergeet nie. Hy het ons tog eintlik lank gelede alreeds gewaarsku dat
daar baie bose dinge in die laaste dae sal gebeur en dat dit óns
verantwoordelikheid is om daarteen te waak en bid.
Laat ons
dus moed skep in die wete dat ons verlosser leef en dat Hy is naby aan
elkeen van ons wat glo en dat Hy ons altyd en in alles sal bystaan.
In Psalm 121: 5 – 8 staan daar geskrywe: “Die Here beskerm jou, die
Here bewaar jou van alle gevare. Bedags sal die son jou nie steek nie
en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. Die Here sal jou beskerm
teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy
ook gaan, nou en vir altyd.”
Neem hierdie skrifgedeelte vandag saam met jou en bêre dit in jou hart vir wanneer jy dalk angstig voel.
Sterkte!
Kom ons bid. Vader beskerm my en my gesin asb. vandag. Hou ons veilig
Here en gee asb. U engele opdrag aangaande ons om ons te bewaar maak
nie saak waar ons reis, werk of studeer nie. Hou die bose asb. van
elkeen van ons af weg. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus.
Amen.
No comments:
Post a Comment