Friday 23 January 2015

Gee vir Hans 'n kans - deur Anton Brink

Woensdagoggend was die paaie rondom die skole iets verskrikliks.

Daar was hordes mense wat almal graag hulle kindertjies by die skool wou gaan afsien op hulle eerste dag en al wat ’n Ma en Pa, Ouma en Oupa is was daar om foto’s te neem van die kleingoed sodat hulle almal eendag kan Oooo en Ahhh oor daardie mooi herinneringe.

Natuurlik na alles verby is en die drukkies en soene klaar uitgedeel is, is almal terug na hulle motors om die dag se werk te begin en tóé begin die chaos éérs.

Almal wil op eenslag ry en niemand wil vir iemand ’n kans gee nie.

So staan ek toe ook en wag vir ’n beurt om in die pad in te draai. Die een motor na die ander een kruip teen ’n stadig slakke pas, buffer teen buffer voor my verby en niemand wil vir my ’n geleentheid gee om voor hom of haar in te draai sodat ek tog net ook ’n beurt kan kry om in die stadig vloeiende verkeer te kan inkom nie.

Almal ignoreer my. Ek kan sommer sien hoe die klomp verskillende motoriste doelbewus nié in my rigting wil kyk nie net sodat hulle die situasie kan probeer vermy waar hulle vir my moet stop sodat ek kan inkom.

Na ’n vreeslike lang gewag het een vriendelike Pa met so ’n rooi City Gholf toe darem glimlaggend vriendelik gestop en vir my beduie dat ek maar kan ry. As dit nie vir hom was nie het ek seker nog ’n halfuur daar gestaan.

So is dit maar in die lewe. Meeste van ons het van kleintyd af daardie elke man vir hom self tipe mentaliteit en dit is beslis ’n jammerte. Ons sal waarskynlik meer in die lewe gedoen kry as ons mekaar net so nou en dan ’n bietjie wil help en bystaan.

Daar is ’n goeie voorbeeld uit God se Woord wat pragtig beskrywend is van hoe twee mans iemand anders se behoefte raakgesien het en toe hulle hom help het hulle nie net vir hom en hulle self nie maar ook ’n hele volk help red.

Ons lees dit in Eksodus 17 vanaf vers tien tot dertien. Daar staan geskrywe: “Josua het toe gedoen wat Moses vir hom gesê het en hy het teen die Amalekiete gaan veg. Moses, Aäron en Hur het tot op die top van die heuwel uitgeklim.

Solank Moses sy hand opgehou het, was Israel die sterkste, en wanneer sy hand gesak het, die Amalekiete. Maar Moses se arms het begin moeg word. Hulle het toe 'n klip gevat en dit agter hom neergesit sodat hy daarop kon gaan sit.

Aäron en Hur het sy arms van weerskante af ondersteun sodat sy arms regop gebly het tot sononder. Josua het die Amalekiete heeltemal verslaan.”

Wat dink jy sou gebeur het as Aäron en Hur doelbewus weggekyk het en ook net diep gesug het en sag by hulle self gedink het dat hulle nie lus is om heeldag dáár te moet staan om vir Moses se arms in die lug te hou nie?

Onthou dit was waarskynlik ook nie vir hulle maklik om heeldag daar in die warm son te moes staan nie maar hulle het. Die antwoord is eenvoudig, die Amalekiete sou hulle almal verslaan en doodgemaak het.

Daar is ’n belangrike les om in hierdie verhaal te leer.

Ons moet in ’n gewoonte kom waar ons bereid is om ander mense se hande sterk te maak. Elkeen van ons kom op een of ander stadium op ’n plek waar ons te swak en uitgeput voel (net soos Moses daar op die heuwel) om aan te hou. Wanneer dit met jou gebeur hoop ek regtig daar is mense langs jou wat jou ook sal bystaan en sal help om enduit aan te hou.

Dis interessant om op te let - Moses was ’n man van God. Dit wat hy daardie dag daar op die heuwel gedoen het, was in opdrag van God en tog ten spyte daarvan kon hy dit nie regkry om tot die son sak sy arms omhoog te hou sonder die hulp van ander nie. Hy was net ’n mens.

Is jy so iemand, het die Here vir jou dalk ’n roeping of ’n opdrag gegee maar jy het moeg en oorweldig geword sodat jy later nie meer kon aanhou nie? Dit is waarskynlik omdat jy dit alleen probeer doen het terwyl jy eintlik veronderstel was om andere toe te laat om jou by te staan.

Kyk om jou rond. Sien ander mense se behoeftes raak en help waar jy kan.

Sterkte!

Kom ons bid. Here ek is jammer dat ek meer geneig is om selfsugtig te wees en eerder net na my eie behoeftes om te sien as wat ek bereid is om ander mense by te staan. Vergewe my asb. daarvoor maar help my ook om te verander en van nou af ten spyte daarvan dat dit soms ongerieflik kan wees ander mense te help soos en waar ek kan. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen


No comments:

Post a Comment