Tuesday 20 January 2015

Hoop vir die rokers - deur Anton Brink


in Jesaja 42: 3 staan daar geskryf: “'n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, 'n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie. Hy sal my wil bekend maak soos dit is.”

'n Paar maande gelede het ek besluit om die tuin by my en my vrou se huis so 'n bietjie op te knap en in stand te hou nadat die man wat dit gewoonlik oor naweke vir ons gedoen het nie meer opgedaag het nie.

Ek is nou nie juis die wêreld se beste tuinier nie en is ek dus nie aldag seker wat moet uitgetrek word as onkruid en wat moet bly nie, maar, so op my manier kry ek dit darem reg om die plek na iets te laat lyk.

Om een of ander rede (gelukkig tog) bly meeste van ons plante heeljaar mooi groen en hoef ek die tuin dus nie elke aand te staan en water gee nie. Ek moet sê dit maak darem die werk net baie makliker.

Tog ten spyte van al die groenigheid het ek 'n paar weker gelede agtergekom dat daar ís wel een boom of bossie tussen al die ander is wat net glad nie lyk of dit wil groei nie. Om die waarheid te sê, as jy ’n entjie weg staan lyk dit of dié plant eintlik morsdood is.

Al wat jy kan sien (of ten minste so lyk dit op ’n afstand) is net 'n klomp dooie en dor bruin takkies. Dit lyk soos een of ander geraamte.

Op 'n dag besluit ek dat dié boompie maar liewer moet uit omdat dit die res van my mooi groen tuin ontsuur en omdat dié klomp dooie takke pla my.

In 'n japtrap gryp ek die graaf uit die motorhuis en stap ek flink nader om rondom die plant te begin spit sodat ek hom wortel en tak kan uittrek. Net so voordat ek wil begin grawe vang iets my oog en ek let toe iets snaaks op wat ek nie vroeër raakgesien het nie. As jy mooi kyk, op die boompie se takke, sit die kleinste en fynste ou groen blaartjies wat lyk of hulle net wil-wil uitkom.

Toe ek deeglik begin ondersoek instel kon ek sien dat daar toe eintlik sommer baie sulke blaartjies oraloor dié boom was. Omdat ek nooit van naderby en so deeglik gekyk het nie, het ek nie opgelet dat die arme plant eintlik sy bes probeer om te groei nie.

Omdat hy tussen 'n klomp plante staan wat altyd groen is, het ek nie of kon ek nie verstaan hoekom hy nie ook mooi groen is nie. Ek het nie besef dat dié ou boompie het eintlik spesiale aandag nodig nie, spesiale aandag in die vorm van ekstra water.

Gou-gou neem ek toe die tuinslang en begin hom ordentlik natmaak. Ook nie net een keer nie maar sommer vir ’n paar weke lank elke tweede of derde aand. Om die waarheid te sê, ek het op die ou einde meer aandag aan daardie verwelkte boompie gegee as aan enige ander deel van my tuin net omdat ek so graag wou sien dat hy moet groei.

Dit was ook nie lank nie of die lewe het weer begin bruis deur die takkies van daardie boompie. Die mooiste groen blare het oraloor uitgekom, sommer duisende van hulle en boonop het die allerpragtigste pers blommetjies ook hulle verskyning gemaak.

Dié ou boompie het nog nooit so deftig gelyk nie.

So is dit ook met gelowiges. Party van ons voel ook so, soos daardie droë of verwelkte boompie wat nie gegroei kan kry nie of soos die rokerige ou lamppit wat maar baie dof skyn. Jy dink dat jy is van min nut vir die Here en dat Hy jou dalk selfs nie eens raaksien nie. Dit is nie die waarheid nie, Hy weet van jou en al jou behoeftes.

Net soos ek met daardie boompie in my tuin sal die Here vir jou ook daardie ekstra aandag gee wat jy nodig het net om jou weer gesond en aan die groei te kry. Hy wil en sal jou nie vernietig nie al is jy nou ook soos daardie geknakte riet of die dowwe en rokerige lamppit. Hy wil jou help en nié sien sukkel nie.

Vra vandag die Here om vir jou ook daardie ekstra aandag te gee, vra vir Hom om jou weer nat te maak met Sy lewende water sodat jy sal groei of om Sy Heilige Gees olie by jou lamp te voeg sodat jou rokerige en dowwe lamppit weer helder sal brand. Vra Hom nou.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader ek kom na U toe in die naam van Jesus Christus en ek vra dat U my asb. sal help. Here ek voel soos daardie geknakte riet of die rokerige dowwe lamppit wat nie meer sy lig gee soos dit moet nie. Sal U asb. vandag ook aan my spesiale aandag gee, sal U my asb. vandag oplig en restoureer sodat ek weer kan wees wat U wil hê ek moet wees. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

No comments:

Post a Comment