Ek weet mense sê altyd vir jou dat kinders word so gou groot maar jy verstaan dit nie regtig voor jy dit nie self ervaar nie.
Gister was só 'n dag vir my vrou gewees. Sy het een van daardie “my
kind word nou vinnig groot” oomblikke met ons seuntjie Léhan (8) beleef
toe sy hom by die skool gaan aflaai het.
Toe sy die motor stop
sien hy dat daar van die meisies wat in sy graad 3 klassie is op die
sypaadjie langs die kar staan en gesels. Hy vat sy tas en lê so oor na
sy Ma se kant toe om vir haar 'n drukkie te gee en sê toe vir haar baai
net voor hy begin uitklim.
My vrou vra toe vir hom waar haar
soentjie dan vanoggend is. Die kyk wat hy haar gegee het, was genoeg om
haar te laat verstaan dat sy maar liewer nie nou verder met hom daaroor
moet praat nie en dat hy maar net sy tas moet vat om by die skool in
te gaan.
Haar hart was so-effe seer maar gelukkig weet sy darem dat hierdie tipe ding is mos maar deel van die lewe.
Dit was destyds dieselfde met my ook. Ek weet nie of dit met seuns
meer die geval is as met dogtertjies nie maar ek onthou goed hoe ek ook
op 'n sekere ouderdom gekom het en toe net niks meer daarvan gehou het
as my Ma voor my maats vir my 'n drukkie of 'n soen wou gee nie.
Om een of ander rede begin kinders net op 'n stadium skaam voel vir
hulle ouers. Ma en Pa is net skielik nie meer “cool” nie...
Hierdie hele oulike en snaakse petalje met ons seun het my so baie laat
dink aan ons as Christene en die feit dat daar nog gelowiges is wie
hulle skaam oor die Evangelie van Jesus Christus terwyl ons glad nie
enigsins skaam hoef te wees daaroor nie.
In Romeine 1: 16 staan
daar geskrywe: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is 'n
krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die
Jood, maar ook die nie-Jood.”
God het ons kom red deur toe te
laat dat Sy seun Jesus Christus aan die Kruis names ons vir ons sondes
sterf, of hoef ons nie te skaam daaroor nie, inteendeel, ons moet bly
wees en die goeie nuus deel waar en wanneer ons kan.
Jesus wil ook nie hê dat ons moet skaam wees nie.
In Lukas 9: 26 staan daar geskrywe: “Elkeen wat hom vir My en my woorde
skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom,
beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die
heilige engele.”
Ek weet nie van jou nie maar ek wil beslis nie
hê die Here Jesus moet eendag rede hê om skaam te wees oor my omdat ek
nie bereid was om Hom as my verlosser te erken nie.
Ek het dit eenkeer beleef.
Ek het verby 'n motorhawe gestap en 'n groep mans wat so in hulle laat
twintigs was gesien wat met mekaar gestaan en gesels het. Ek het
dadelik die een herken as iemand wat 'n paar jaar vantevore by dieselfde
gemeente as ek betrokke was.
Ek stap toe nader om hom te groet
en vra hom toe na watter kerk toe hy nou gaan. Die ander ouens het vir
hom begin lag en het spottend vir hom gevra van wanneer af gaan hy dan
kerk toe. Ek kon in sy gesig sien hoe skaam hy kry dat hulle dit moes
hoor.
Toe skielik maak hy asof hy nie weet waarvan ek praat nie
en sê vir my dat ek misgis hom seker met iemand anders. Ek het dadelik
besef dat hy hom skaam vir die Here Jesus en vir die Evangelie omdat hy
bang was vir wat sy “pelle” van hom sou dink. Ek het hom nie verder
daaroor uitgevra nie.
Wat van jou, wat sal jou antwoord wees as
jou vriende of dalk vreemde mense vir jou vra of jy 'n gelowige is, sal
jy openlik en eerlik ja antwoord of sal jy dit wegsteek of ontken?
Ek hoop dat jy nie daaroor skaam sal wees nie!
Sterkte!
Kom ons bid. Vader help my om altyd openlik en vrylik te erken dat ek
verlos is deur die bloed van Jesus Christus. Gee my die krag en
oortuiging om my verhouding met U so uit te leef dat mense dit sommer
sal kan sien nog voor ek daaroor praat. Ek vra dit in die naam van
Jesus Christus. Amen.
No comments:
Post a Comment