Thursday 29 January 2015

Wie dink jy is jy? - deur Anton Brink


Ek besef dat party mense dink sekerlik hopeloos te veel van hulle self maar die feit van die saak is dat 'n baie groter persentasie van mense dink weer hopeloos te min van hulle self!
 
As ons almal dit tog maar net kon regkry om 'n goeie, gesonde en gebalanseerde dink van ons self te kon hê dan sou daar veel minder probleme in hierdie wêreld gewees het en ek vermoed dat die arme sielkundiges en psigiaters sou dalk seker amper sonder werk gesit het omdat almal okei is.

Ek wil jou graag vandag 'n paar voorbeelde uit die Bybel gee van karakters wat volgens ons menslike standaarde ook eintlik nie goed genoeg is nie:

1. Noag was dronk
2. Abraham en sy vrou was te oud
3. Isak was amper vermoor en geoffer deur sy eie Pa
4. Jacob was 'n leuenaar
5. Leah was nie baie mooi nie
6. Joseph is deur sy eie broers mishandel
7. Moses het gehakkel
8. Gideon was bang
9. Simson se hare was lank
10. Jeremiah en Timoteus was albei te jonk
11. Dawid het 'n buit egtelike verhouding gehad én hy was 'n moordenaar
12. Elia wou liewer dood gaan
13. Jesaja was sonder klere
14. Jona het van God af weggehardloop
15. Naomi was 'n weduwee
16. Job was bankrot
17. Petrus het gesê dat hy Jesus nie ken nie
18. Die dissipels het aan die slaap geraak toe hulle eintlik moes bid
19. Martha was oor alles bekommerd
20. Die Samaritaanse vrou was al van meer as een man geskei
21. Saggeüs was te kort
22. Paulus het eers Christene vervolg en laat stenig
23. En Lazarus... wel, hy was dood

Elkeen van hierdie mense het swakhede gehad net soos ek en jy. Onthou wat staan geskryf in 2 Korintiërs 12: 9: “Toe sê die Here uiteindelik vir my, “My goedheid is vir jou genoeg. Dit is al wat jy nodig het. My groot krag word sigbaar in jou lewe wanneer jy swak en hulpeloos is.”

Ons kan elkeen allerlei verskoning gebruik om te probeer bewys en om ander mense en God te oortuig waarom ons nie iets in die lewe kan regkry of vir God iets kan beteken nie. Die Here kom egter en Hy gebruik daardie einste tekortkominge van jou om dan daarmee Sy eie naam te verheerlik en ander mense van Sy goedheid en genade te vertel.

Watter verskonings gee ek en jy daagliks wat ons miskien al vir jare lank gebruik om nie ons volle Godgegewe potensiaal uit te leef nie? Miskien was of is jy ook bankrot, dalk was of word jy mishandel, miskien is jy baie siek of dalk het jy geen heenkome nie. God kan en sal selfs jou grootste vernedering of tekortkoming gebruik tot jou eie voordeel en tot Sy eie verheerliking as jy Hom net toelaat om so te doen.

Kom ons bid. Vader, U noem my kind en erfgenaam. U woord sê dat ek is duur gekoop en kosbaar vir U en dat U my vergewe en met oop arms ontvang. U beskryf my as die kroon van U skepping. Tog Vader voel ek die meeste van die tyd nie so nie. Maak asb. my geestelike oë oop om te verstaan en te aanvaar hoe U oor my dink en voel sodat ek ook my volle Godgegewe potensiaal kan besef en uitleef tot U verheerliking. Help my om oor my self te dink en voel soos wat U oor my dink en voel. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.
 
 
 

No comments:

Post a Comment