Thursday 22 January 2015

Bewaar jou hart - deur Anton Brink

Meeste dinge in die lewe wat die moeite werd is, is gewoonlik ook nie maklik om te doen of in die hande te kry nie.
Dit vat soms maar redelike “effort” om die dinge wat jy as waardevol ag te bekom. Dit is dalk ook goed dat dit so is want ons ken mos darem die spreekwoord wat sê “easy come, easy go”. M.a.w. as jy dinge té maklik kry dan waardeer jy dit nie noodwendig altyd nie en doen jy ook nie moeite om dit be behou nie.

Die voorbeelde wat genoem kan word oor dinge waarvoor mense bereid is om te baklei is sekerlik eindeloos maar daar is een ding wat ek vandag wil uitlig as een van die belangrikstes en dit word so maklik agterweë gelaat. Dit is om te baklei vir jou eie hart en wat jy toelaat om daar binne-in aan te gaan.

Nee, hierdie is darem nou nie 'n vinnige mediese gesondheids wenk oor hoe baie jy moet draf en hoe gesond jy moet eet nie, maar dit is eerder 'n geestelike gesondheids wenk oor hoe om dit wat binne-in jou hart aangaan gesond te hou.

Ons mensdom is ongelukkig gebore met 'n sondige natuur en a.g.v. hiervan is ons geneig om veel makliker die verkeerde as die regte dinge te doen. Daar is natuurlik verskeie sulke voorbeelde van verkeerde dinge of keuses wat ons doen waaroor 'n mens kan gesels soos immoraliteit, oneerlikheid ens. wat alles uit jou hart vloei, maar die een wat sekerlik die mees negatiewe gevolge vir ons het is om onvergewensgesind te wees.

Ons almal kry maar op een of ander tyd van ons lewe daarmee te doen. Wanneer ons seerkry, teleurgestel of te nagekom word, is die eerste ding wat baie keer by ons opkom om te vergeld en om ons self te laat geld.

Dit gebeur en niemand is van sulke negatiewe gevoelens of gedagtes gevrywaar nie. Die probleem is net dat sou jy vergelding en onvergewensgesindheid aanhoudend koester sal jy uiteindelik in 'n baie bitter en haatdraende persoon verander en sal die wêreld vir jou baie onaangenaam raak.

Op die ou einde sal daardie gif van vergelding en onvergewensgesindheid nie net jou eie lewe ontsuur en stadig doodmaak nie maar sal dit ook al hoe moeiliker vir jou word om gesonde verhoudings met die mense in jou huis of by die werk te hê.

Die negatiewe gevolg van jou besluit om nie te vergewe nie en bitter te wees word uiteindelik soos daardie sneeubal wat net aanhou rol, groter word en alles in sy pad verswelg.

Is dit hoe hoe jy wil wees, wil jy regtig so leef, bitter, knorrig en moeilik, of wil jy eerder vry wees? Om vry te kom begin by ’n keuse wat jy moet maak, niemand kan dit vír of namens jou doen nie, net jy kan.

Onthou, jy mag eerlik met die Here wees oor wat met jou gebeur het, gaan kla gerus by Hom as jy voel dat jy verontreg of te nagekom is, stort jou hart voor Hom uit soos wat koning Dawid so graag gedoen het.
Hy sal wel weet wat om daarmee te maak. Wanneer jy dit klaar gedoen het sê dan met jou mond dat jy die betrokkenes vergewe en vryspreek en los dit daar by God om met jou petisie te doen soos Hy goeddink, selfs al is die uitkoms nie wat jy gedink of gehoop het dit sal wees nie.

In Matheus 6: 14 – 15 staan geskryf: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

Die besluit om vry te wees is joune en net joune alleen.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader ek wil vergewe maar dit is vir my baie moeilik en dit voel of ek vasgevang is in lelike en haatdraende gedagtes waarvan ek nie kan loskom nie. Kom maak my asb. vandag waarlik vry om weg te stap, te vergewe en vry te spreek al voel dit vir my ek kan nie. Help my asb. Heilige Gees om nou daardie keuse te maak en dit te doen wat ek weet ek moet. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

No comments:

Post a Comment