Tuesday 11 November 2014

Moenie worry nie, watch net! - deur Anton Brink

God kan jou bietjie in baie verander!



As jy my nie wil glo nie gaan lees dan gerus Johannes 6: 5 – 13. Dit sê die volgende: “Toe Jesus rondkyk en sien dat 'n groot klomp mense na Hom toe aankom, sê Hy vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?”

Dit het Hy net gesê om hom op die proef te stel, want Hy het self goed geweet wat Hy gaan doen.

Filippus antwoord Hom toe: “Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle 'n stukkie brood te laat kry nie.”

'n Ander dissipel, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê toe vir Hom:

“Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies, maar wat is dit vir so baie mense?”

Toe sê Jesus: “Laat die mense gaan sit.” Daar was baie gras op daardie plek en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent vyf duisend.
Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê. Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”

Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het.

Net om dit by jou tuis te bring, vers 10 sê dat nét die mans (alleen) daardie dag was omtrent 5 000, m.a.w. hulle het nie eens die vrouens en kinders getel nie. Ons kan dus aanvaar dat daar in alle waarskynlik enigiets tussen vyf en tien duisend mense altesaam daardie dag daar bymekaar was.

Die onmoontlike word moontlik.

Wanneer ek hierdie verhaal lees en ek dink oor wat alles daardie dag daar gebeur het toe Jesus die broodjies en vissies meer gemaak het dan kan ek nie help om te dink aan die feit dat dieselfde beginsel geld nogsteeds vandag nie. Al lyk 'n situasie vir jou hóé onwaarskynlik of selfs totaal onmoontlik God kan dit in jou guns laat draai en dit (wat dit ook al is) vir jou totaal moontlik maak, jy moet net gehoorsaam wees.

Bring vir God jou bietjie.

Meeste van ons is maar skuldig daaraan dat ons na ons omstandighede kyk en na net hoe min ons het om te gee en dan dink ons dat God sal dit nie kan gebruik nie, die klein seuntjie met die broodjies en die vissies het seker ook so gedink en kyk wat het daar gebeur.

Miskien is jy iemand wat al lank die Here volg, jy dien Hom, jy is lief vir Hom en jy wil graag ook iets vir Hom doen maar al waarin jy vaskyk is jou bietjie en jy dink dat dit nie genoeg is nie. Dit is (juis) in sulke tye waar God die wonderlikste dinge vir ons kom doen, wanneer ons dink dit is onmoontlik.

Onthou dat die wonderwerk hang nie van jou af nie so jy is verniet bekommerd. Gee dit wat jy het en jy sal sien hoe God dit meer maak.

Die seuntjie het die broodjies en vissies reeds by hom gehad.

Die kanse is baie goed dat jy reeds dít wat God vir jou wil of kan meer maak klaar in jou besit het. Jesus het dit wat die seuntjie in sy besit gehad het vermeerder, die seuntjie het mos klaar die broodjies en vissies by hom in sy sak gehad.

Wat het jy by jou wat jy bereid is om beskikbaar te stel vir God om te gebruik? Moontlik het die Here al lankal met jou daaroor gepraat maar jy twyfel. Kies net vandag om gehoorsaam te wees en neem 'n stap in geloof en sien wat God vir jou daarmee doen.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse God en Vader ek kom vandag en ek staan voor U groot genade troon en ek bring nou my bietjie na U toe. Seën dit asb. Vader en maak dit meer sodat U ook deur my die massas sal kan kos gee. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment