Thursday 6 November 2014

Watter kleur is jy? - deur Anton Brink


Die verskil tussen 'n mooi persoonlikheid en 'n goeie karakter is hemels groot. 
 

 
 
 
 
 
 
 
 
Jou persoonlikheid is dit wat mense van jou sien en beleef in die tye wanneer dit met jou goed gaan. M.a.w. hoe jy optree, of jy vriendelik en geselserig en jy net oor die algemeen “happy go lucky” is ens.

Jou karakter aan die ander kant is weer nie noodwendig ooglopend sigbaar nie en kom gewoonlik eers te voor skyn wanneer dinge so bietjie warm raak óf wanneer jy dink niemand jou sien nie...

Jou ware kleure.

Dit is dié belangrikste deel van jou en ook dié deel wat mense eers van bewus raak wanneer dit regtig saak maak. 'n Persoon se karakter is dus wie en wat jy régtig is, jou ware kleure met ander woorde.

Voeg steeds daad by jou woord.

Iemand met 'n goeie en sterk karakter is gewoonlik iemand met baie integriteit. Dit is die tipe persoon op wie se “knoppie” jy altyd kan druk, 'n staatmaker. Iemand wie doen wat hy gesê het hy sal, hy sal jou nie in die steek laat nie selfs al verander sy omstandighede en raak dit dalk vir hom moeilik om daad by die woord te voeg.

In Matheus 5:37 staan daar geskryf, “Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’.”

Moenie (veral nie as jy verklaar dat jy die Here ken en dien) 'n persoon wees op wie daar nie staatgemaak kan word nie. As jy gesê het dat jy iets sal doen, doen dit dan so goed as wat jy moontlik kan.

Hoeveel keer in jou lewe het jy al vir mense beloftes gemaak net om dit op die ou einde glad nie na te kom nie bloot omdat dit jou nou nie meer pas nie?

Ek onthou 'n geval wat 'n paar jaar gelede gebeur het. Ek het met 'n pastoor gestaan en gesels oor die werk wat hy en sy vrou in die gemeenskap doen. Hy noem toe vir my dat hy en sy vrou maar sukkel om oor die weg te kom omdat hulle nie meer 'n motor het nie. Die voertuig waarmee hulle altyd gery het se enjin het totaal ingegee en die motor was oor die algemeen in elk geval ook nie meer in 'n vreeslike goeie toestand nie.

Twee jaar later en nog niks.

Ek kon die hartseer en teleurstelling in sy oë sien toe hy my vertel van 'n man in hulle gemeente wat vir hulle (die pastoor en sy vrou) hand en mond belowe het dat hy vir hulle 'n ander motor present sal gee vir hulle persoonlike en bedienings gebruik sodat hulle net oor die weg kon kom. Dit was op daardie stadium al meer as twee jaar later maar nog niks.

Die man wat die belofte gemaak het, het duidelik in ’n stadium besluit dat dit hom nie meer pas nie en dat hy nou nie meer van plan was om daad by die woord te voeg nie. 'n Mens kan dus aanvaar dat hy nie iemand van goeie karakter is nie.

Iemand met 'n goeie karakter is 'n persoon wat vertrou kan word om altyd die regte ding te doen selfs wanneer niemand kyk nie. So 'n persoon het 'n sterk verantwoordelikheid sin en aanvaar ook (sonder om te skroom) aanspreeklikheid vir sy eie dade en besluite asook dié van die mense wat dalk onder hom werk.

Dit is so jammer dat ons in 'n tyd lewe waar mense hulle nie meer hieraan (om goeie karakter hê) steur nie. Van politieke leiers reg deur tot die man op straat.

Die meeste mense steur hulle doodeenvoudig net nie meer daaraan om inbors (karakter) te hê nie. Hulle wil eerder met 'n vernuftige mooi persoonlikheid populêr wees onder hulle kiesers, vriende en kollegas en pla dit hulle ook nie wanneer hulle nie dit meer kan (of wil) doen wat hulle aan iemand belowe het nie.

Laat ons as dissipels die voorbeeld stel van mense met 'n goeie en sterk karakter wat opstaan vir wat reg is al is dit nie noodwendig populêr nie.

Kom ons bid. Vader dit is nie altyd maklik om die regte ding te doen nie. Partykeer kos dit baie van ons en partykeer voel dit asof die prys net te hoog is om te betaal, maar ek weet Vader dat U my nooit sal begewe en my nooit sal verlaat nie al is ek ook hoe swak. Help my dus Here en maak my sterk genoeg om daardie keuse te maak om iemand te wees wat beginsel vas en met goeie karakter is te wees. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.
 
 
 

No comments:

Post a Comment