In Mattheus 4: 19 staan daar geskryf, “Hy sê toe vir hulle: “Kom hier!
Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”
Ek het 'n paar maande gelede tydens die skoolvakansie vir my seun (8)
belowe dat ek en hy 'n bietjie kan probeer visvang. Ek self weet
eintlik maar bitter min as dit kom by hierdie stokperdjie en het ek dit
ook baie jare laas enigsins probeer doen.
Maar, so gesê so
gedaan en ek, hy, my vrou en ons dogtertjie (6) sit toe af see toe om te
gaan “lyn natmaak”. By die hawe gekom kry ons vir ons 'n sitplekkie en
met baie opgewondenheid en 'n groot verwagting gooi ons die sinker en
hoek in die water.
Meer as twee ure gaan verby maar niks gebeur
nie. My vrou en (veral) die kinders raak later verveeld en sy (my
vrou) besluit om die kinders liefs na 'n nabygeleë speelplek te neem om
hulle besig te hou.
Ek aan die ander kant weier volstrek om
moed op te gee en ek bly sit. My eer is immers op die spel! Ek het dan
my seun belowe ons gaan 'n vis vang en ek kan mos nou nie loop voor dit
nie so is nie al het ek eintlik begin oortuig raak daarvan dat daar
beslis geen vis daar was óm te vang nie.
Nie lank na my vrou en
kinders weg is nie kom 'n jong man na my toe aangestap en vra of ek al
iets uit die water getrek het. Met 'n verleë glimlag moes ek toe erken
dat daar nog niks selfs probeer byt het nie. Hy wou toe by my weet
watter soort aas ek aan die hoek gesit het.
Ek vertel hom toe
dat ek het sommer 'n stukkie vals (rubber) aas op die hoek gesit omdat
die visse mos nie die verskil ken tussen regte en vals aas nie en dat
hulle dit sekerlik nie sal agterkom nie. Wat weet 'n vis tog in elk
geval?
Hoe verkeerd was ek nie! Toe ek die lyn inkatrol om vir
die jong man (sy naam is Sebastian) die rubber aas op my hoek te wys
het hy amper van sy stoel afgeval soos hy lag en my die versekering
gegee dat ek niks op aarde daarmee sal vang nie, al sit ek ook hoe lank
daar.
Hy (Sebastian) gaan haal toe vir my die ware jakob in die
vorm van modder prawn of kappers soos hulle dit noem en sit dit toe vir
my op die hoek. Sekondes na ek die hoek weer terug in die water laat
sak het, kon ek voel hoe die visse (wat maar nog die hele tyd daar was)
aan die aas begin byt.
Ek en Sebastian het op die ou einde vir
seker nóg twee ure daar bly sit en ek kon nie glo hoe baie keer ek kon
voel hoe die visse aan my aas kom knaag het nie en boonop aanmekaar my
aas afvreet nie. Uiteindelik na 'n lang tyd (en toe my seun terug is)
het ek 'n ou klein Steenbrassie gevang wat ek toe maar van die hoek
afgehaal en weer terug gegooi het.
Die Here Jesus het vir ons
belowe dat Hy maak van ons “vissers van mense” maar net soos ek daardie
dag by die hawe op Knysna ervaar baie van ons dat ons maar vrot
“vissermanne en vroue” is.
Ons is vreeslik gretig om die
evangelie met 'n ongeredde wêreld te deel maar ons “aas” is verkeerd.
Ons begin mense vertel van 'n klomp reëls, van 'n klomp dinge wat hulle
moet en nie moet doen nie nie eerder as om hulle te vertel net hoe baie
ons en (veral) God vir hulle omgee en lief is. Daar is 'n ou sê ding,
“people don’t care how much you know until they know how much you care.”
Ek glo die “aas” wat ons moet gebruik staan vir ons
duidelik in in God se woord geskryf. Galasiërs 5: 22 – 23 “Die vrug van
die Gees daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld,
vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en
selfbeheersing.” Wanneer ons hierdie dinge in ons lewens (prakties)
begin toepas, en nie net praat daaroor nie, sal die wêreld en almal
daarin sien dat ons vir hulle omgee.
Mense (gered of ongered)
kan gou die verskil agterkom tussen 'n stuk rubber (vals) aas en die
ware jakob. Wanneer jy opreg is en ware liefde uitleef sal alle mense
outomaties na jou toe aangetrokke voel en sal hulle jou toelaat om jou
boodskap van hoop en verlossing met hulle te deel.
Kom ons bid.
Vader, dankie dat U my red en vir my lief is al maak ek nog baie baie
foute. Ek vra U Here in die naam van my verlosser Jesus Christus om my
te help en te transformeer in iemand wat elke dag die vrug van die Gees
uitleef sodat ek ander van U kan vertel. Ek vra dit in Jesus se naam.
Amen.
No comments:
Post a Comment