Wednesday 12 November 2014

Kragonderbreking - deur Anton Brink

Vir ons om geestelik te groei en om daardie “oop kanaal” vir die Here te wees moet ons sorg dat ons verhouding met God op die regte plek is. Wanneer dit nié is nie sal jy dit baie vinnig agterkom.



Jy hoor partykeer dat gelowiges kla hulle sukkel om God se stem te hoor of dat hulle nie 'n antwoord van die Here kry oor een of ander saak nie. Ek ken die gevoel persoonlik al te goed en ek weet dat dit is baie frustrerend.

As jou verhouding met die Here vir jou belangrik is dan sál jy moeite doen om te probeer agterkom wat fout is. Wanneer jy dan by God se voete stil raak sal Hy ook getrou wees om vir jou te sê wat fout is.

Onthou, dit is jóú verantwoordelikheid om eerste by die Here te hoor, die Bybel leer vir ons om eers te nader tot God en dán sal Hy tot ons nader.

Waar lê die probleem?

Ek onthou so goed hoedat ek 'n paar jaar gelede een warm someraand in die middel van die nag amper benoud wakker geword het van die verskriklike hitte. Die sweet het my behoorlik afgetap. Ek kon nie verstaan hoekom ek so warm kry nie want ek hét tog die waaier aangeskakel voor ek gaan slaap het.

Kort voor lank besef ek toe dat die krag gedurende die nag afgegaan het en dat dit nét in ons huis af was en niemand anders nie omdat ek deur ons kamer venster die buite ligte van die bure se huis kon sien brand.

My eerste reaksie was om in die stik nag donker en val-val oor die kinders se speelgoed na die koopkrag meter toe te stap om te sien of daar nog genoeg elektrisiteit eenhede beskikbaar was en of dit nie dalk op geraak het nie. Na deeglike inspeksie kon ek aflei dat dít nie was waar die probleem lê nie.

Die skakelaars op die distribusie bord.

Ek neem toe die flits en een vir een begin ek toe die skakelaars op die elektrisiteit distribusie bord in ons kombuis van 'n kant af aanskakel om te sien watter een dit is wat die krag laat afskop.

In 'n japtrap sien ek toe dat die oomblik wanneer ek die warmwatersilinder aanskakel skiet die hoofskakelaar outomaties af. Dit móét toe daar wees waar die probleem lê. Iewers op die warmwater silinder is daar 'n kortsluiting wat die kragtoevoer na die huis onderbreek.

Eers die volgende oggend toe die son opkom en ek buite na die warm silinder (wat teen die muur by die agterdeur vas was) gaan kyk, het ek op die ou einde gesien dat daar water op die elektrisiteit kabels wat krag na dié silinder toe voer gekom het en dat water aanhoudend op hierdie kabels bly drup.

Waar is jóú kortsluiting?

Iets soortgelyk gebeur ook met my en jou in ons geestelike lewens. Ons beleef 'n “krag onderbreking” wanneer ons skielik sukkel om die Here se stem te hoor of ons ervaar dat iets net nie reg is nie. Wanneer ons dan ordentlik gaan ondersoek instel sal ons waarskynlik vinnig agterkom waar die probleem lê omdat die Heilige Gees dit vir ons sal wys.

Meeste van die tyd is hierdie “kortsluiting” wat ons beleef a.g.v. die feit dat ons iewers die Heilige Gees bedroef het. Hoe bedroef ons die Heilige Gees, deur aan hom ongehoorsaam te wees en dit is belangrik dat ons moet uitvind waar.

Ek vermoed dat ons in meeste gevalle eintlik alreeds weet maar ons probeer dit ignoreer want dit beteken dat ons moet gaan regmaak en dis nie altyd so lekker nie. Hou net ingedagte, as jy nié gaan regmaak nie sal die Heilige Gees se krag nie verder deur jou vloei.

Sorteer dit (jou oortreding) liewer vinnig uit en doen dit gouer eerder as later.

Dit is régtig die moeite werd. Onthou wat staan in 2 Timotheus 1: 7 dat God gee vir jou 'n Gees van krag, liefde en selfbeheersing. Hy wil nie kragteloosheid by jou hê nie. Dit is nie Sy wil of plan vir jou nie.

Kom ons bid. Vader ek is geestelik kragteloos omdat ek ongehoorsaam was. Ek is jammer daaroor en ek vra dat U my asb. sal vergewe. Help my om nou op hierdie oomblik reg te maak en te doen wat ek weet ek sodat ek weer daardie gees van krag, liefde en selfbeheersing in my lewe kan ervaar. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


No comments:

Post a Comment