Met al die nuwe verbruikers wette wat deesdae in plek is, is ek nie
seker of hierdie term nog bestaan of enigsins van toepassing is nie,
maar in die verlede wanneer iets op TV geadverteer word óf jy hoor
daarvan op die radio of sien dit miskien op ’n “billboard” iewers langs
die pad, dan het die adverteerders baie keer hierdie woorde in die advertensie gebruik wat sê: “Aanbod geldig terwyl voorraad hou.”
Dié stelling is natuurlik om vir my en jou mooi te laat verstaan dat as
ons nie gou spring nie gaan ons die verskaffer se winskoop aanbod
misloop en as dit eers verby is, dan is dit verby.
Ek is seker
daarvan daar is baie mense wat kan getuig van só ’n geleentheid wat
hulle om een of ander rede deur hulle vingers laat glip het.
Hoekom het ek nie maar vroeër ’n plan gemaak nie?
Wanneer jy eers besef dat jy is te laat dan dink ’n mens mos altyd:
“Ai, hoekom het ek nie maar net ’n bietjie vroeër opgestaan nie?” of
“Hoekom hét ek nie dan maar sommer nog daardie selfde dag gesorg dat ek
by die winkel uitkom nie?”
Dis mos maar hoe dit werk, ’n mens
dink altyd daar is nog tyd, môre is mos nog ’n dag so ek sal later ’n
plan maak en as jy weer sien dan is dit te laat en mis jy uit.
Nie voorraad nie maar tyd.
Ek weet van ’n ander “billboard” met ’n aanbod op wat lank gelede al op
’n ander plek langs ’n groot pad bo op ’n hoogte staan gemaak is.
Hierdie “billboard” se boodskap was toe en is nogsteeds baie duidelik
maar in hierdie geval sê die onderskrif nie “terwyl voorraad hou” nie,
maar liewer “vir solank daar nog tyd is.”
Golgota.
Hierdie plek se naam is Golgota en dit is waar God se “advertensie bord”
diep in die grond geplant is vir jou en my om van Sy aanbod kennis te
neem én om vrylik daarvan gebruik te maak voor dit dit te laat is.
God se aanbod van genade.
Sy aanbod is eenvoudig. Aanvaar My offer aan die Kruis as die prys wat
vir jou sondes betaal is en jy sal My genade en barmhartigheid ontvang
sonder voorwaarde.
As daar ooit ’n aanbod is wat jy nie moet
misloop nie dan is dit hierdie een, boonop is dit heeltemal verniet.
Onthou net, dit is wel verniet maar dit beteken nie dat dit is goedkoop
nie.
Maak asb. vandag jou besluit voor dit te laat is.
Daar is gelukkig geen voorraad wat in hierdie geval sal kan opraak nie,
maar ongelukkig is daar wel ’n beperkte tyd op hierdie aanbod. God sê
vir ons in Sy woord dat ons lewe tans in Sy genade tyd maar dat hierdie
tyd eendag tot ’n einde sal kom. Dié wat Hom daarna nie as verlosser
aanvaar het nie, sal ongelukkig nie die ewige lewe saam met Hom in die
Hemel beërwe nie.
Lees asb. die onderstaande gebed hard op saam
en gee dan jou hart en lewe vir die Here Jesus. Wanneer jy dit klaar
gedoen het, sorg asb. dat jy so spoedig moontlik met ons gebed vriende
by Tygerberg 104fm op telefoonnommer 0861 104 104 sodat hulle vir jou
kan raad gee oor wat jou dan te doen staan.
Kom ons bid.
Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op
hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n
punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit
my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring
nie.
Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe
is, en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel
waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely
vandag dat U die Seun van God is, en dat U my verlossing duur gekoop
het.
Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is, en dat U
my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my
Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig
het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 3:17
Ek dank U dat
ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend
en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen
No comments:
Post a Comment