In die lewe kry jy twee Kannie’s. Aan die eenkant het jy vir Kannie
wat lankal dood is van kruiwa stoot en aan die ander kant het jy weer
Kannie doders!
Hoekom is dit
so dat party mense hulle gestremdhede (of allerlei ander tekortkominge)
gebruik om alewig verskoning te maak vir waarom hulle nié iets kan doen
nie en iemand anders (wat met presies dieselfde gestemdheid of
tekortkoming sit) bereik weer vreeslik baie in die lewe en doen in baie
gevalle selfs beter en meer as mense met geen gestremdheid of
tekortkoming nie?
In Johannes 14:12 sê Jesus die volgende,
“Dít verseker Ek julle, wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek
doen en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe
gaan.”
Dit is vir my opvallend dat Jesus in hierdie gedeelte
géén melding maak van jou stand in die samelewing, jou persoonlike
rykdom of armoede, fiksheid of gestemdheid, tewens enige vorm van
fisiese tekortkoming of selfs jou opleiding en opvoeding nie. Hy sê
bloot net “wie in My glo”.
Jou eerste “kwalifikasie” wat jy
dus nodig het om deur God gebruik te word en wonderlike dinge in mense
se lewens en in die gemeenskap oor die algemeen te doen is om 'n vaste
geloof en vertroue in Jesus Christus as jou verlosser te hê.
Ons kan seker almal aan iemand dink wat óf in sak en as sit a.g.v. van
hulle gestemdheid of tekortkominge óf wat uitstyg bo die res juis as
gevolg daarvan.
Ek besef daar is baie mense wat seker nie
eens sy naam wil hoor nie, maar kyk na iemand soos Oscar Pistorius. Hy
is sonder bene gebore maar tog het hy die hoogste sport en sukses bereik
ten spyte van sy gestremdheid.
Ons grootste uitdaging of struikelblok sit tussen ons ore.
Ons vertel aanhoudend vir ons self (en vir God) net hoe groot ons
probleme is terwyl ons eintlik vir ons self en vir ons probleme moet
vertel net hoe groot ons God is.
Hou op om vir jou self te sê
dat jy nié kan nie en begin liewer na die geleenthede soek wat hulle
binne-in daardie omstandighede of situasie te voorskyn kom. Kies om 'n
gesindheid te hê dat die glas halfvol water is eerder as halfleeg.
Met die Here se genade en jou geloof in Hom sal jy hoër hoogtes bereik as wat jy ooit kon droom.
Kom ons bid. Vader ek wéét U het my met oneindige potensiaal geskape.
Gee my die krag, moed en oortuiging om van hierdie oomblik af 'n stap
in geloof te neem en dít te begin doen wat al solank in my hart brand.
Ek glo in U Jesus daarom weet ek dat ek ís gekwalifiseerd vir hierdie
werk. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.
No comments:
Post a Comment