Monday 17 November 2014

Kry die regte adres - deur Anton Brink

Dis nou net so klein bietjie meer as twee weke sedert my Pa oorlede is en dit voel steeds vir my baie onwerklik.



Ek staan nou nog partykeer onbewustelik en wonder waarmee hy en my Ma dalk alles besig is daar op hulle tuisdorp en dan val dit my skielik by dat hy weg is, dan voel dit weer van vooraf vir my so onwerklik, maar die lewe gaan seker maar aan of ons nou wil of nie.

Elkeen van ons is eintlik besig om dood te gaan. Mensdom, maar dís darem nou vir jou 'n negatiewe en morbiede stelling so vroeg op 'n nugter maag of hoe? Ja, dit is nie so vreeslik lekker om daaraan te dink nie maar elkeen van ons ís besig om dood te gaan. Dit is die klipharde, eerlike en rou waarheid en nie een van ons gaan dit ontsnap nie.

Elke liewe mens op hierdie aarde, al word hy ook nóú op hierdie oomblik gebore, sal in alle waarskynlik oor 100 jaar van vandag af nie meer hier wees nie. Een van twee dinge gaan gebeur. Hy gaan of te sterwe kom óf die Here Jesus sal terugkeer met Sy wederkoms.

In beide gevalle beter jy seker wees dat jy jou besluit reeds betyds gemaak het en dat jy aan die regte kant van die spreekwoordelike draad staan voordat dit te laat is.

Ek draai nie doekies om nie.

Toe die predikant by my Pa se roudiens vir my gevra het om vorentoe te kom en die bedankings te doen het ek besluit om meer as net dit te doen. Nadat ek vir elkeen erkenning gegee het vir die rol wat hulle in ons as huisgesin se lewens en spesifiek my Pa se lewe gespeel het, het ek begin praat oor die realiteit van die dood en wat daarna op ons wag. Ek het nie doekies omgedraai nie.

Ek het voor al daardie mense gaan staan en hulle aangemoedig om hulle tot God te bekeer voor die tyd vir hulle ook aanbreek soos dit vir my Pa het. Meeste van die mense daar ken my al van kindsbeen af en het hulle my letterlik voor hulle sien grootword en dit was effens intimiderend.

As jy regtig omgee.

Terwyl ek na hulle staan en kyk en ek praat oor die Evangelie van Jesus Christus, die Kruis en die ewige lewe in God se teenwoordigheid het ek besef dat om vir iemand lief te wees en om vir mense om te gee beteken dat jy bereid sal wees om soms met hulle 'n ongemaklike of selfs die harde waarheid te deel.

Ek is nie seker nie.

Ek kon nie anders as om die waarheid met hulle te deel en te sê dat al ís dit my eie Pa en hulle geliefde vriend wat daar buite in die lykswa dood in 'n kis lê kan ek nie met sekerheid sê dat hy hemel toe is nie en dat ek net kan hoop dat hy sy saak met die Here reggemaak het toe ek 'n tyd gelede so ernstig met hom daaroor gepraat het nie.

Daar is net een pad.

In Johannes 14: 6 (Boodskap vertaling) staan daar geskryf: “Jesus sê toe: “Laat Ek dit so stel: Ek is die ‘pad’ en my Vader die ‘adres’. Wie hierdie pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand 'n ander pad loop, sal hy nooit by my Vader uitkom nie.”

In die ’83 vertaling sê dit: “Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”

In die Amplified staan dit só daar geskryf: “Jesus said to him, I am the Way and the Truth and the Life; no one comes to the Father except by (through) Me.”

Ek hoop dat jy die erns van vandag se boodskap raaksien en waardeer en dat jy nou 'n besluit sal maak oor die Here Jesus en die Kruisdood. As jy vandag die Here Jesus as verlosser wil aanvaar lees dan asb. die onderstaande gebed hardop saam en gee jou hart en lewe vir Hom.

As jy dit klaar gedoen het tel dan dadelik die telefoon op en bel ons gebed vriende by Tygerberg 104fm en vertel hulle van jou besluit en laat toe dat hulle vir jou verder help. Die telefoonnommer is 0861 104 104.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 17: 3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen


No comments:

Post a Comment