Kyk, het ek darem nou die dag lekker gelag.
Ek sit so en gesels met 'n goeie vriendin van my en my vrou en ons
begin toe te praat oor iets in haar lewe wat onlangs net heeltemal skeef
geloop het. Dit was gelukkig nie iets vreeslik ernstig nie maar dit
was nog altyd genoeg vir haar om sommer lekker oor vies te wees en om
met sulke bol wangetjies en hande op die heupe by die Here daaroor te
kla.
Ek kan om die waarheid te sê nie eens onthou wat dit was
waaroor sy so omgekrap was nie maar die beginsel daaragter steek nog
altyd in my kop vas.
In elk geval, sy het my vertel dat net
níks wou uitwerk soos wat sy dit beplan het nie en op die ou einde was
alles sommer net 'n groot flop. Ek moet erken dat aanvanklik hét ek
nogal simpatie met haar gehad maar hoe meer ek na haar geluister het hoe
meer het ek agtergekom dat dié suster se probleme het ontstaan a.g.v.
haar eie simpel besluite wat sý gemaak het en nou wil sy vir die Here
kwaad wees daaroor?!
Eers toe ek haar grappende wys op hierdie
paar feite wys wat sy so gerieflikheidshalwe van vergeet het, het ek én
sy albei kliphard begin skater van die lag omdat sy moes toe maar so
skaam skaam erken dat die gemors hét sy ontstaan gehad omdat sy nie
gedoen het wat sy moes nie.
Ek kon toe nie anders as om haar te
vertel van 'n ander persoon wat lank terug ook vir my 'n soortgelyke
storie vertel het nie. Dit was toevallig ook 'n vrou gewees en die
situasie was nou nie presies dieselfde nie maar dieselfde beginsel het
daar ook gegeld.
Dié vrou, kom ons noem haar sommer Venescke,
het eendag vroegaand seker so sewe of agt jaar gelede in Durban weg
opgery op pad na 'n baie belangrike afspraak. Net duskant Tygervallei
rigting Durbanville gebeur dit toe, haar motor gaan staan nét daar
anderkant die verkeerslig sonder brandstof en haar eerste reaksie is om
met 'n gebalde vuisie op die stuurwiel te slaan en te sê: “Nee, Here nie
nóú nie, hoe kan U dit toelaat om te gebeur...”
Moenie vir God die skuld gee nie.
Wie is die een wat veronderstel was om te sorg dat daar brandstof in
daai voertuig is, sy of God? Ons kan nie die blaam vir God gee wanneer
ons self simpel keuses en besluite maak nie.
In Deuteronomium
30: 19 staan daar geskryf: “Vandag gee ek vir julle die keuse: kies
tussen lewe en dood. Kies of julle wil hê dat dit voorspoedig met julle
moet gaan en of julle wil hê teëspoed moet al agter julle aantrek. God
In die hemel en al die mense op aarde sien wat julle vandag kies. Ag,
mag julle tog maar die lewe kies! Dan wag daar 'n wonderlike toekoms
vir julle en vir julle kinders en vir julle kleinkinders.”
Ons
kan in baie gevalle self besluit of teenspoed of gaan tref of nie bloot
net deur die regte besluite te neem en te doen wat ons weet ons moet.
Kies jy ook vandag die lewe soos wat ons in Deuteronomium lees en maak
so seker dat jy uit teenspoed se pad bly.
Kom ons bid. Vader
God ek kies vandag die lewe. Ek kies om te doen wat ek weet reg is al
voel dit nie vir my lekker nie. Ek weet dat U my regte besluite sal eer
en dat U my daarvoor sal seën. Ek vra dit in die naam van Jesus
Christus. Amen.
No comments:
Post a Comment