Jou grootste terugslag, teleurstelling en verlies het die baie werklike
potensiaal om ook te verander in jou grootste verhaal van oorwinning.
Ek het lank gelede met 'n gesin kennis gemaak met wie presies dit,
verlies en teleurstelling, gebeur het en wie ook later só 'n oorwinning
behaal het. Hulle kan nou nog getuig van God se getrouheid midde-in
hulle storm.
Terug in tyd.
Kom ek neem jou eers terug
in tyd, een en twintig jaar terug om die waarheid te sê na 'n tyd toe
dit met hierdie gesin goed gegaan het. Dit was 1993 en dit was vir
hulle 'n jaar soos enige ander. Die Pa, Ma en twee kinders het 'n
normale goeie Christen lewe gelei, hulle was betrokke by die kerk en het
graag (en met oorgawe) gehelp en bygedra om die kerk en sy sendelinge
te ondersteun. Sendelinge het ook gereeld by hulle aan huis gekom en
oorgebly wanneer hulle in die Kaap was vir konferensies ens.
Die Pa was 'n bouer, 'n goeie een, en het sy lewe lank met sy eie twee
hande hard gewerk om te kom waar hy is. Dit het goed gegaan en hy kon
vir sy gesin 'n reusagtige groot huis teen die heuwel bou met 'n uitsig
oor die hele stad, berg en hawe. Hierdie huis was indrukwekkend om die
minste te sê en hulle as gesin kon met reg trots wees daarop. Mense het
(en staan steeds) in verwondering na hierdie paleis en kyk wanneer
hulle daar kom.
Toe gebeur die ondenkbare.
Op 'n dag
kry dié Pa, kom ons noem hom sommer Petrus, 'n groot kontrak om vir 'n
baie welgestelde Sweedse burger bouwerk te doen. Dié Sweedse man en sy
vrou het gehou van die klimaat in Suid-Afrika en wou 'n groot en mooi
huis hê waarin hulle vir 'n paar maande elke jaar kon kom bly as hulle
wou.
So gesê, so gedaan en kort voor lank, na baie harde werk
en 'n klomp geld is die huis toe klaar en wou Petrus sy rekening van
dié Sweedse man en sy vrou vorder vir die werk wat hy gedoen het.
Geen betaling.
Niemand het dit sien kom nie. Die Sweedse man en sy vrou was skelms en
was van die begin af nie van plan om vir Petrus al sy geld te gee nie.
Hulle het hom ingeloop sonder om één aand se slaap daaroor te verloor.
Petrus het alles gedoen wat hy kon maar na baie praat, dreig en
prokureurs onkostes moes hy moed opgee of hy wou of nie en hy was op die
einde sy geld kwyt.
Die maer jare.
Die gevolg van
hierdie verlies was groot. Petrus en sy vrou het nie geweet wat om te
doen nie en moes stelselmatig so stuk vir stuk van hulle besittings
begin verkoop om darem net te probeer om hulle uitgawes te dek. Vir 'n
tyd lank was hulle regtig met hulle hande in hulle hare.
Toe gebeur dit.
Eendag maak Petrus se vrou 'n voorstel. Sy sê vir hom dat hulle tog
nie regtig so 'n vreeslik groot huis nodig het nie en dat hulle net
sowel 'n gedeelte daarvan kon gebruik om vir hulle 'n inkomste te
genereer. In 'n japtrap verander hulle toe 'n deel van dié paleis en
begin hulle dit toe soos 'n gastehuis verhuur.
Een en twintig jaar later.
Vandag, 21 jaar later sal jy verstom staan as jy sien waar hulle nou
is. God het daardie nare situasie omgedraai. A.g.v. die besluit om 'n
tipe van 'n gastehuis aan die een kant van hulle huis te begin het hulle
nou vandag (na al hierdie jare) altesaam ongeveer vyftien mense wat
permanent vir hulle werk en Petrus se vrou se besigheid staan nou as
Smithland Gaste Woonstelle bekend. Die suksesvolle besigheid wat hulle
vandag besit is m.a.w uit hulle storm gebore.
Hulle kyk nie een dag terug nie.
God het gekom en hulle grootste verlies en teleurstelling in hulle
grootste oorwinning verander. Hy kan en sal dieselfde vir jou ook doen.
Toe dit sleg gaan en die teenspoed hierdie gesin tref was hulle nie
vir God kwaad daaroor nie, inteendeel, hulle het nader aan Hom beweeg as
ooit tevore en Hy het hulle gered.
In Psalm 91: 14 – 15
(Boodskap vertaling) staan daar geskryf: “Die Here se self: “Iemand
wat My lief het, sal Ek uit enige gevaar bevry. Ek sal hom beskerm
omdat hy My vertrou. Wanneer hy My om hulp vra, sal Ek hom help, Ek sal
hom in enige krisis bystaan. In Sy nood sal Ek hom help. So sal Ek
eer aan hom bewys.
Kyk ook wat staan in Psalm 50: 23 waar daar
geskryf staan: “Weet julle watter geskenk maak my hart bly? As julle
vir My dankie se deur julle optrede. Die mense wat so leef, sal Ek
altyd help.”
Vra die Here om ook jou verlies en teleurstelling
in 'n oorwinning te verander. Onthou, dit is ná die reën en stormweer
dat jy 'n reënboog sien, nie voor die tyd nie.
Sterkte!
Kom ons bid. Here ek is angstig. U weet wat met my gebeur het en ek
is bang. Vat my asb. deur hierdie storm en bring my veilig anderkant
uit sodat ek ook kan getuig van U goedheid en hoe U my deur gedrag en
gered het op die regte tyd. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus.
Amen.
No comments:
Post a Comment