Tuesday, 20 January 2015

Hoop vir die rokers - deur Anton Brink


in Jesaja 42: 3 staan daar geskryf: “'n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, 'n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie. Hy sal my wil bekend maak soos dit is.”

'n Paar maande gelede het ek besluit om die tuin by my en my vrou se huis so 'n bietjie op te knap en in stand te hou nadat die man wat dit gewoonlik oor naweke vir ons gedoen het nie meer opgedaag het nie.

Ek is nou nie juis die wêreld se beste tuinier nie en is ek dus nie aldag seker wat moet uitgetrek word as onkruid en wat moet bly nie, maar, so op my manier kry ek dit darem reg om die plek na iets te laat lyk.

Om een of ander rede (gelukkig tog) bly meeste van ons plante heeljaar mooi groen en hoef ek die tuin dus nie elke aand te staan en water gee nie. Ek moet sê dit maak darem die werk net baie makliker.

Tog ten spyte van al die groenigheid het ek 'n paar weker gelede agtergekom dat daar ís wel een boom of bossie tussen al die ander is wat net glad nie lyk of dit wil groei nie. Om die waarheid te sê, as jy ’n entjie weg staan lyk dit of dié plant eintlik morsdood is.

Al wat jy kan sien (of ten minste so lyk dit op ’n afstand) is net 'n klomp dooie en dor bruin takkies. Dit lyk soos een of ander geraamte.

Op 'n dag besluit ek dat dié boompie maar liewer moet uit omdat dit die res van my mooi groen tuin ontsuur en omdat dié klomp dooie takke pla my.

In 'n japtrap gryp ek die graaf uit die motorhuis en stap ek flink nader om rondom die plant te begin spit sodat ek hom wortel en tak kan uittrek. Net so voordat ek wil begin grawe vang iets my oog en ek let toe iets snaaks op wat ek nie vroeër raakgesien het nie. As jy mooi kyk, op die boompie se takke, sit die kleinste en fynste ou groen blaartjies wat lyk of hulle net wil-wil uitkom.

Toe ek deeglik begin ondersoek instel kon ek sien dat daar toe eintlik sommer baie sulke blaartjies oraloor dié boom was. Omdat ek nooit van naderby en so deeglik gekyk het nie, het ek nie opgelet dat die arme plant eintlik sy bes probeer om te groei nie.

Omdat hy tussen 'n klomp plante staan wat altyd groen is, het ek nie of kon ek nie verstaan hoekom hy nie ook mooi groen is nie. Ek het nie besef dat dié ou boompie het eintlik spesiale aandag nodig nie, spesiale aandag in die vorm van ekstra water.

Gou-gou neem ek toe die tuinslang en begin hom ordentlik natmaak. Ook nie net een keer nie maar sommer vir ’n paar weke lank elke tweede of derde aand. Om die waarheid te sê, ek het op die ou einde meer aandag aan daardie verwelkte boompie gegee as aan enige ander deel van my tuin net omdat ek so graag wou sien dat hy moet groei.

Dit was ook nie lank nie of die lewe het weer begin bruis deur die takkies van daardie boompie. Die mooiste groen blare het oraloor uitgekom, sommer duisende van hulle en boonop het die allerpragtigste pers blommetjies ook hulle verskyning gemaak.

Dié ou boompie het nog nooit so deftig gelyk nie.

So is dit ook met gelowiges. Party van ons voel ook so, soos daardie droë of verwelkte boompie wat nie gegroei kan kry nie of soos die rokerige ou lamppit wat maar baie dof skyn. Jy dink dat jy is van min nut vir die Here en dat Hy jou dalk selfs nie eens raaksien nie. Dit is nie die waarheid nie, Hy weet van jou en al jou behoeftes.

Net soos ek met daardie boompie in my tuin sal die Here vir jou ook daardie ekstra aandag gee wat jy nodig het net om jou weer gesond en aan die groei te kry. Hy wil en sal jou nie vernietig nie al is jy nou ook soos daardie geknakte riet of die dowwe en rokerige lamppit. Hy wil jou help en nié sien sukkel nie.

Vra vandag die Here om vir jou ook daardie ekstra aandag te gee, vra vir Hom om jou weer nat te maak met Sy lewende water sodat jy sal groei of om Sy Heilige Gees olie by jou lamp te voeg sodat jou rokerige en dowwe lamppit weer helder sal brand. Vra Hom nou.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader ek kom na U toe in die naam van Jesus Christus en ek vra dat U my asb. sal help. Here ek voel soos daardie geknakte riet of die rokerige dowwe lamppit wat nie meer sy lig gee soos dit moet nie. Sal U asb. vandag ook aan my spesiale aandag gee, sal U my asb. vandag oplig en restoureer sodat ek weer kan wees wat U wil hê ek moet wees. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

Thursday, 18 December 2014

Here help ons! - deur Anton Brink

Die Bybel waarsku ons daar wag ellende op die mense wat dít wat verkeerd is reg noem en wat reg is verkeerd.

 
Jesaja.

Hierdie skrifgedeelte kry ons in Jesaja 5: 20. Daar staan geskryf: “Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter.”

By 'n parade.

Ek kyk eenkeer na selfoon beeldmateriaal op die internet van 'n insident wat in Amerika plaasgevind het, dit is afgeneem tydens 'n optog. Op dié beeldmateriaal kan jy sien dat daar 'n hele paar honderd bymekaar is en dat hulle deur die strate loop met baniere.

Hulle het dié optog gehou om fokus te plaas op die pleidooi van die gay gemeenskap in daardie stad en hulle vra dat die gemeenskap in die breë meer verdraagsaam moet wees teenoor mense wat homoseksueel is en dat daar nie teen hulle gediskrimineer moet word nie.

Straat predikante.

Op die video kan jy sien dat eenkant, op hulle eie, staan daar twee jong mans ook met baniere. Hulle het stil-stil probeer aandag trek na dít waarin hulle weer op hulle beurt glo.

Die een banier het net gesê “bekeer julle” en die ander een “die wie sterf sonder Christus kan nie die ewige lewe beërwe nie.” Hulle het m.a.w. die duidelike en ondubbelsinnige waarheid van die Evangelie verkondig.

Vuiste klap.

Skielik kan jy op hierdie video sien hoe 'n man én 'n vrou op hierdie twee Christene afstorm en hulle begin vloek, skel en dreig. Uiteindelik toe hulle sien dat hierdie twee jong mans nie van plan is om weg te gaan nie het hulle gewelddadig geword en hulle aangerand beslis met die doel om hulle ernstig te beseer.

Dubbele standaarde.

Selfs toe dié twee weerlose gelowiges al op die grond lê, het hulle aangehou om hulle te skop en te slaan. Dít alles gebeur by 'n optog waar mense deur dié einste optoggangers gevra word om verdraagsaam te wees, hoe maak dit sin?

Dit gebeur al vir duisende jare.

Moenie verbaas wees as jy deur die wêreld vir hierdie dinge veroordeel word nie. Dit was dieselfde met Jesus se dissipels gewees, van hulle het gereeld in die tronk geslaap en dit nét omdat hulle die waarheid gepraat en verkondig het.

Staan sterk en moenie bang wees nie. God sal jou nié verlaat nie.

Sterkte!

Kom ons bid. Here Jesus help my om altyd U nie veroordelende liefde met ’n verloregaande wêreld te deel. Help my Vader om altyd U ondubbelsinnige waarheid te praat maar om dit nooit maar nooit op ’n liefdelose manier te doen nie. Ek wil hê álle mense moet U leer ken as hulle verlosser maak nie saak wie of wat hulle is of wat hulle gedoen het nie. Mag dit so wees Here. Beskerm my en elke ander gelowige wat standpunt inneem vir U waarheid. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.


Wednesday, 17 December 2014

Die vark in die verhaal - deur Anton Brink

Jy onthou seker die verhaal van die drie varkies wat ons as kinders so graag na geluister het en hoe elkeen van hulle 'n huis gebou het om in te woon?


Boumateriaal.

Die eerste een se huis was van strooi gebou, die tweede een sin van hout en die derde en laaste varkie se huis van bakstene met 'n goeie en sterk dak en ook ’n stewige fondasie. Jy onthou mos darem seker wat in die verhaal gebeur?

Hy kan probeer so hard hy wil.

Die wolf kom en blaas die eerste twee varkies se huise sommer net so onderstebo máár wanneer hy by die derde vark se ordentlik geboude en stewige baksteenhuis aankom kan hy daar net mooi níks regkry nie.

Alles oor.

Uiteindelik probeer hy (die wolf) dan op die dak van dié baksteenhuis klim sodat hy sommer deur die skoorsteen kan kruip en sodoende dan by die varkies kan uit kom om hulle op te eet. Dié varkies is egter slaggereed vir hom en die wolf beland dan in 'n pot kokende warm water en so kom hy dan aan sy einde.

Dis met ons ook so.

Op 'n manier lewe elkeen van ons elke dag hierdie verhaal van die drie varkies uit en afhangende van hoe stewig jóú geestelike huis is, sal dit bepalend wees van of die “wolf” dit gaan regkry om by jóú uit te kom en of hy jóú ook gaan vang en opeet.

Wees sterk in die Here.

Onthou dat die “wolf”, of in ons geval die duiwel, kan regtig eintlik nie veel meer aan jou en my doen as om net te hoes en te proes nie. Dit is slegs wanneer ons geestelike lewens nie is waar dit veronderstel is om te wees nie en ons sodoende as’t ware ’n oop of swak mure in ons lewens het dat hy (die duiwel) by ons kan uitkom en ons verskeur.

Wees op jou hoede.

Hoe maak jy seker dat jy veilig is? Wel, om mee te begin móét jy 'n lewende en opregte verhouding met God hê deur die Here Jesus as verlosser te ken en Hom met jou mond as jou Saligmaker te bely.

Jy kan nie daarsonder nie.

Hierdie lewende, opregte en intieme verhouding met God gaan jy net bereik wanneer jy kwaliteit tyd in gebed by die Here spandeer, daarsonder woon jy eintlik maar in 'n geestelike huis van strooi wat maklik deur die vyand omgeblaas kan word. 'n Sterk gebed lewe is krities belangrik.

Weerstaan die duiwel.

Tweedens. Jy moet moeite doen daarmee om te sorg dat jy géén doelbewuste sonde in jou lewe het nie, onthou, God soek een honderd persent van jou, Hy wil alles van jou hê nie net ’n bietjie nie. Moenie vir Hom 99 % gee nie. As jy wel iemand is wat tans doelbewuste sonde in jou lewe het onthou asb. net dat God sal nou nie verwerp a.g.v. daarvan nie. Hy is lief vir ons nét soos wat ons is máár Hy is gelukkig tog té lief vir ons om ons te los soos wat ons is.

Enige iets in jou lewe, gewoontesonde ens. wat vir jou belangriker is as God noem Hy 'n afgod en verstaan mooi, Hy is nie bereid om jou te deel nie, nie nou nie, nie ooit nie. As jy 'n redelik toegewyde gelowige is maar nog altyd meestal jou eie kop volg en wat steeds ook nie kan of wil breek met sonde in jou lewe nie, ten spyte daarvan dat jy wéét God praat met jou daaroor, is jy soos die varkie in die hout huis.

Jy staan wel 'n bietjie stewiger a.g.v. van jou redelik toegewyde verhouding met die Here maar met net so 'n klein bietjie meer “effort” sal die wolf jou plekkie uiteindelik óók omblaas.

Doelbewuste sonde laat ongelukkig ’n oop deur in jou lewe vir die vyand en gee dit hom eintlik wettige grondgebied in jou lewe waardeur hy jou kan aanval en seermaak. Laat dus liewer toe dat die Here jou van daardie sonde help vrymaak. Dit gaan ongelukkig nie gebeur as jy nie eers gewilliglik daartoe instem nie so maak daai keuse vandag

Derdens. Dis die huis van bakstene met die sterk dak en fondasies. Jy is veilig geanker in jou verhouding met God deur gebed, aanbidding en die woord van die Here wat jy daagliks inneem om jou gees mee te voed. Jy maak moeite om te bid en by die Here se voete te gaan sit en jy het gebreek met jou doelbewuste sonde in jou lewe en jy streef daarna om, en doen ook, elke dag die wil van God soos jy ervaar Hy jou deur die Heilige Gees lei en leer.

Jy het jou offers van die vlees gebring en dit (jou vlees) gekruisig en begeer om meer van die Here in jou lewe te hê. By hierdie huis sal die duiwel dit baie moeilik vind om in te kom, eintlik amper onmoontlik maar dit gaan hom beslis nie keer om nog steeds te probeer nie. Hy sal enige iets uitdink en ook enige mense of enige situasie gebruik om jou te probeer vernietig.

Dit is wanneer ons gereed moet wees met 'n plan. Ek sê altyd, die woord van God leer vir ons dat as enige een van ons wysheid kortkom moet ons dit van God bid en dan sál Hy dit vir ons gee. Wanneer jy dus ervaar dat die duiwel wel besig is om deur jou stewige huis se skoorsteen te probeer glip vra dan God vir daardie wysheid om te weet hoe jy moet optree of wat jy moet doen sodat dié duiwel in jou lewe ook in daai pot kokende warm water sal beland en so aan sy einde sal kom.

Ander mense word daardeur geraak.

'n Laaste ding wat vir my uitstaan omtrent die derde varkie is die feit dat die ander twee onverantwoordelike varkies sáám met die derde een op die ou end in dié (die verantwoordelike varkie) se huis was. M.a.w. my en jou gehoorsaamheid aan God kan 'n beskutting, 'n veilige hawe ook vir ander mense beteken. Net so kan ons ongehoorsaamheid ongelukkig ook die teenoorgestelde effek hê en ander mense se seer en ondergang beteken.

’n Voorbeeld.

'n Pa wat elke oggend vroeg opstaan en bid vir sy vrou en kinders en wat nie toelaat dat sonde deel van sy lewe is nie skep beslis daardie veilige huis vir sy gesin en die seën en beskerming van God rus gevolglik nie net op hom nie maar ook op sy gesin. Hulle is dus veilig omdat hulle Pa verantwoordelik en gehoorsaam is.

In Matheus 7: 24 – 27 staan daar geskryf, “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met 'n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

Bou van vandag af jou geestelike huis op ’n vaste fondasie en met daardie stewige mure en dak sodat die vyand jou nie sal kan verwoes nie.

Sterkte!
Kom ons bid. Here help my om meer te bid, help my om meer tyd by U te spandeer sodat ek ook in 'n geestelike sterk huis sal kan woon en ook aan my familie en vriende die veilige hawe kan bid wat hulle verdien. Here gee asb. vir my wysheid om die aanslae van die vyand raak te sien en effektief teen te staan. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Monday, 15 December 2014

13 Per dag - deur Anton Brink

Vrydagoggend het ons almal wat by Tygerberg 104fm betrokke is oudergewoonte in die kafeteria bymekaargekom.
Soos gewoonlik kon ons luister na ’n getuienis, het ons saam gesing en ook saam gebid. Die bekende kunstenaar Neville D was hierdie keer daar en dit was besonders lekker om te hoor waar hy vandaan kom en hoe die Here hom gebring het tot waar hy vandag is.

Na alles verby is en ons al amper op die punt gestaan het om af te sluit het ons hoof uitvoerende beampte, Hardus Zevenster, ook eers met ons gesels. Hy het gepraat oor die vakansietyd wat voorlê en het gesê dat ons almal ’n welverdiende ruskans verdien en dat ons die af tyd saam met ons geliefdes baie moet geniet.

Hy het ook gepraat oor die afgelope jaar wat verby is en met trots verwys na al die dinge wat ons as ’n span kon regkry en hoe hierdie dinge werklik ’n groot impak ten goede op die gemeenskap in die Kaap maak.

Hy noem toe ook ’n paar interessante statistieke oor Tygerberg 104fm vir die afgelope 12 maande wat my behoorlik stom geslaan het net om dit by ons tuis te bring wat dié radiostasie eintlik vir mense beteken.

Wat vir my die kosbaarste was, was die feit dat Hardus vir ons vertel het dat ons oor die afgelope jaar gemiddeld 13 oorgawes per dag by Tygerberg 104fm gehad het. M.a.w. elke dag van die afgelope jaar wat verby is, was daar dertien mense wat hulle harte vir die eerste keer vir die Here Jesus gegee het en sodoende dus tot bekering gekom het. Is dit nie wonderlik nie?!

Behalwe die oorgawes het ons beraders en gebedsvriende ook gemiddeld 48 gebedsversoeke elke dag hanteer. Dit is interessant om op te let dat die meeste van daardie versoeke gehandel het oor verhoudings of huwelike wat verbrokkel en finansies. Elkeen van hierdie gebedsversoeke is hanteer en aan die Here opgedra.

Ek en al die ander mense wat by Tygerberg 104fm betrokke is kon net weer vir die Here dankie sê dat ons by hierdie wonderlike werk kon betrokke wees, dit is inderdaad ’n voorreg.

Behalwe hierdie wonderlike statistieke wat ek met jou wil deel vandag wil ek ook graag ’n uitnodiging aan jou rig.

As jy iemand is wat nog nie die Here Jesus leer ken het as jou eie persoonlike Saligmaker nie dan gee ek jou nou vandag hier die kans. Jy sal sien aan die onderkant van hierdie boodskap is daar ’n gebed. Ek nooi jou om dit hardop saam te bid terwyl jy dit lees en maak vandag vir Jesus die Koning van jou hart en lewe.

As jy dit klaar gedoen het gee ons asb. ’n luitjie by Tygerberg 104fm. Vra om met een van ons beraders te praat en vertel vir hulle dat jy ’n besluit geneem het om die Here Jesus as verlosser te aanvaar. Hulle sal vir jou verder hulp en raad gee.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 3: 17

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen



Friday, 12 December 2014

Op julle merke - deur Anton Brink

In Efesiërs 6: 12 staan daar geskryf: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.”



Wanneer ons na hierdie skrif kyk verstaan ons en word dit baie duidelik dat daar nie 'n wapen op hierdie aarde bestaan wat weerstand kan bied teen die vyand wat ons elke dag aanval nie.

Neem kennis.

Daar is net een wáre oorlog wat saak maak en daardie oorlog woed daagliks rondom ons. Ongelukkig is dit ook so dat dié stryd vir baie mense ongesiens verbygaan. Die stryd of oorlog waarna ek verwys is natuurlik 'n geestelike een, die stryd tussen die duisternis en die lig.

Moenie moed verloor nie.

Vir my en jou is die oorlog eintlik al klaar gewen. Jesus het dit aan die Kruis kom doen. Wanneer ons die Here Jesus as persoonlike verlosser en Saligmaker aanvaar en ons erken en bely Hom as sodanig kan ons gerus wees daarin dat ons ís gered en ons ís Sy kinders.

Dit beteken egter nie dat ons nou maar ongeërg oor ons geestelike lewens kan wees nie. Om die waarheid te sê moet ons nou juis oplet loop vir aanvalle van die duiwel.

Ek kyk graag (wanneer ek tyd het) na programme op TV oor insidente wat in die regte lewe gebeur het. Insidente wat bv. op kringtelevisie kameras vasgevang is waar misdadigers uitgevang en vasgevat is deur gewone mense of dalk deur die polisie.

Hy kom om te steel.

So kyk ek nou die dag na beeldmateriaal wat op einste so 'n kringtelevisie kamera vasgevang is. Dit is afgeneem in 'n tipe van superette. Op die kamera kan jy duidelik sien hoe 'n jong man agter die toonbank by die kasregister staan.

Hy is besig om op sy selfoon te praat. Die volgende oomblik en soos blits storm 'n ander jong man by dié winkel se deur in met 'n pistool in sy hand gereed om die winkel te beroof.

’n Skoot klap.

Die skurk was nog nie eens by die toonbank waar die kasregister staan nie of 'n skoot gaan af en tref hom reg in die kakebeen. Hy sak net daar in mekaar en lê op die grond terwyl hy krul van die pyn. Nie lank daarna nie ís hy toe darem hospitaal toe geneem en het volkome herstel. Hy is later 'n baie swaar vonnis in 'n kriminele hof voor ’n regter opgelê.

Vinnige reaksie.

Die rede waarom die jong man wat in die winkel werk so vreeslik vinnig kon reageer op die rower se aanval was omdat hy 100 % daarop voorbereid was. Agter die toonbank net links van die kasregister het hy sy eie vuurwapen gehad wat daar gelê het, gereed vir ingeval iets soos dié dalk sou gebeur.

Toe die winkel se voordeur dus oopgaan en hy die dief met die geweer in die hand sien instap was hy blitsvinnig om sy eie wapen te gryp en die skelm net daar in sy spore te stuit.

Ons moet reg wees, nes daai winkelklerk.

Ek en jy wat in Jesus glo moet ook elke dag op ons hoede wees. Ons moet geestelik fiks en flink wees om die aanvalle van die vyand vinnig raak te sien en ons teen hom teen te sit.

Ons moet as’t ware soos atlete wees wat elke dag in ons blokke sak, gereed vir die wedloop of die stryd wat voorlê. Wanneer die ou lewe dan langs die kantlyn skree op julle merke, gereed, weg, dan moet ons dadelik kan reageer.

Wat van jou?

Hoe lyk jou geestelike gereedheid, sal jy gereed wees vir wanneer die vyand skielik by die voordeur van jou lewe inbars of gaan hy jou onkant betrap en dit regkry om jou te besteel?

Die skrifgedeelte in Efesiërs 6 wat ons vroeër gelees het verwys ook ’n paar verse verder na die wapenrusting van God wat elke gelowige daagliks moet aantrek. As jy jouself nie daarmee gaan beklee nie gaan dit vir die duiwel baie maklik wees om 'n slagoffer van jou te maak.

Bly biddend en soek God Sy aangesig soveel as moontlik. Vra dat die Heilige Gees daagliks jou metgesel sal wees en maak seker dat jy vir die Here vra om vir jou wysheid te gee. Hy sal.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader God ek trek vandag die borswapen aan as vryspraak, ek omgord my heupe met die waarheid, ek neem as skoene aan my voete die bereidheid om die Evangelie van Jesus Christus te verkondig, ek plaas die helm van verlossing om my hoof en ek neem die swaard van die gees dis die kennis van die Bybel en die skild van geloof op om my teen die vurige aanvalle van die duiwel te beskerm. Here help my om wakker en gereed te wees vir wanneer die duiwel my aanval sodat hy nie by my sal kán steel en my lewe sal kan verwoes nie. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.



Thursday, 11 December 2014

Een-twee-drie - deur Anton Brink


As jy nooit weer 'n dag in jou lewe wil werk nie doen dan dit waarvoor jy lief is, dié dinge wat vir jou spontaan (waarskynlik al van kleins af) kom.



 
Sy is deur.

Net gisteroggend sit ek met iemand en gesels. Sy het pas gehoor dat haar kind graad 11 geslaag het. Sy en haar man is met reg baie trots daarop. Volgende jaar is dit matriek en dan lê die grootmens wêreld vir hulle dogter voor.

Ek vra toe vir haar of hulle al gedink het aan 'n loopbaan keuse vir haar. Sy sê toe dat hulle hét maar dat hulle glad nie seker is oor wat die beste vir haar sal wees nie.

Haar Wiskunde punte is ook nie so goed as wat hulle dit graag sou wou hê nie en dit bekommer haar omdat dit hulle opsies verminder wanneer dit kom by die kursusse waaruit gekies kan word en dan ook natuurlik die loopbaan waarvoor sy haar self kan beywer beïnvloed.

Dit is tóé dat ons begin gesels oor die talente wat God vir elke mens gee.

Ek vra toe vir haar of sy kan dink aan iets waarin dié dogter van haar goed is. Ek wou weet of daar iets is wat die kind dalk al van kleintyd af doen wat vir haar sonder moeite gekom het, iets wat sy gedoen het wat dit laat lyk het asof sy gebore is daarvoor.

Ja.

Om te sing en musiek te maak, dít was haar antwoord. Hierdie 17 jarige meisiekind is gek na musiek en sy het al selfs die hoogste verering gekry vir die instrumente wat sy bespeel in die musiekskool waar sy betrokke is.

Natuurlik was my volgende vraag toe gewees hoekom hulle dan nie vir haar help met 'n loopbaan in musiek en sang nie. Sou dit dan nie die logies keuse wees nie aangesien dit duidelik is wat die Here vir haar as talent gegee het?

Onseker.

Sy sê toe dat hulle hét dit al vir hulle dogter voorgestel maar dat dié nie wil nie omdat iemand vir haar gesê het dat daar nie juis 'n toekoms daarin is nie omdat kunstenaars in meeste gevalle vir baie jare vreeslik sukkel om suksesvol te wees en dat hulle baie keer maar met min geld moet klaarkom.

God se plan.

Al wat ek vir haar kon sê is dat wanneer dit God is wat vir jou die opdrag gee, sal Hy ook dit voorsien wat jy nodig het. As hulle dus saam met hulle dogter dié se toekoms na die Here toe neem en hulle is oortuig dat dit die Here is wat haar gelei het om 'n liefde vir musiek en sang te hê én dat dit wel Sy plan vir haar is, kan hulle maar gerus wees en weet dat Hy die res vir haar ook sal byvoeg.

In Mattheus 25: 14 – 19 staan daar geskryf: “Verder gaan dit soos met 'n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan. Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en 'n wins gemaak van nog vyf. So ook die een wat twee gekry het: hy het 'n wins gemaak van nog twee. Maar die slaaf wat een gekry het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek. Na 'n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra.”

Hy wil hê ons moet.

God verwag van ons om met ons talente te woeker selfs al het jy nét een gekry. Hierdie talente wat Hy aan ons toevertrou is eerstens om eer aan Hom te bring, om Hom daarmee te verheerlik máár God is ook baie prakties wat dit aanbetref.

Hy gee vir ons talente sodat ons 'n lewe, 'n bestaan daaruit kan maak. M.a.w. om geld daaruit te verdien sodat ons daardie nodige inkomste sal hê om aan ons alle daagse behoeftes te voorsien en dit dan te bevredig.

Wat het jy?
Het jy iets waarin jy weet jy goed is, iets wat jy al van kindsbeen af doen, iets wat spontaan vir jou kom en wat jy regtig baie geniet om te doen? Die kanse is baie waarskynlik dat dit die talent is wat die Here aan jou gegee het en wat Hy wil jy moet gebruik.

Jy kan nog.

Dit is nog nie te laat nie. Al werk jy al jare in 'n ander rigting as dit wat jy eintlik wóú doen vra dan die Here om vir jou die deure oop te maak sodat jy dit kan begin doen. Ek is seker Hy sal jou versoek eer.

Sterkte!

Kom ons bid. Hemelse God en Vader ek bring vandag weer aan U al die lof en aanbidding wat U toekom. Ek wil graag 'n sukses van my lewe maak en ek wil weet dat dit wat ek doen was U keuse vir my. Wys my asb. en gee asb. vir my geleenthede om dit te begin doen en help my om asb. 'n groot sukses daarvan te maak. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

Wednesday, 10 December 2014

Kul jou hier kul jou daar - deur Anton Brink

Lank gelede was daar 'n kulkunstenaar wat gereeld op Suid-Afrikaanse televisie te siene was. Sy naam was Mario en hy kon altyd met die allervreemdste dinge vorendag kom om goed sommerso voor mense se oë te laat verskyn of verdwyn.
Die arme man by die padstal.

Ek sal nooit vergeet hoe hy (Mario) eenkeer in een van Leon Schuster se flieks gespeel het nie. In dié spesifieke toneel het Mario 'n padstal besoek en het hy toe vir hom daar 'n lekker sappige spanspek gekoop om te eet.

Vir die doel van hierdie kulkuns toertjie en om die nodige aandag van die padstal eienaar te trek, sny hy toe sy spanspek sommer net daar oop. Terwyl die kameras rol, en duidelik vir die padstal eienaar om te sien, ontdek Mario dan kamstig 'n opgevoude R20-noot reg in die middel van dié einste spanspek wat hy oop gesny het.

Mario is vreeslik verbaas en jy kan sien die padstal eienaar is omtrent stom. Mario gryp dan nog 'n spanspek en dan nóg een en nóg een en elke keer is daar geld in.

Skielik.

Die padstal eienaar kyk dan na res van die spanspekke wat nog net so op die rak lê en die volgende oomblik raak hy hewig omgekrap en beduie dan met groot gebare aan Mario dat geen spanspekke verder te koop is nie.

Hy gaan mos darem nie geld groeiende spanspekke sommer net so onder sy neus laat uitverkoop nie, my wêreld.

Kom kyk.

Die manr roep dan haastig sy vrou nader en vertel vir haar wat gebeur het. Een vir een begin hulle die spanspekke oopsny op soek na die geld daar binne-in maar, natuurlik, kry hulle niks. Elke spanspek is net vol pitte en lekker soet spanspek vleis.

Uiteindelik.

Na 'n tydjie en met 'n padstal eienaar wat erg omgekrap is kom Mario dan weer op die toneel en verduidelik vir hom dat hulle eintlik besig is om 'n fliek te maak waarin hulle mense uitvang en dat hy een van die mense is van wie hulle nou 'n lekker gek gemaak het.

Op die ou einde lag hulle lekker saam vir dié lawwigheid.

In 2 Korintiërs 11 vers 14 staan daar geskryf: “En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as 'n engel van die lig.”

Die duiwel sal homself altyd aan jou voorhou as een wat eintlik goed is en die dinge wat hy bereid is om vir jou te gee of te doen lyk baie keer wonderlik en reg maar eintlik is hy besig om jou ’n rat voor die oë te draai.

Is jy dalk iemand met wie dit al gebeur het? Geleenthede wat vir jou net te goed lyk om waar te wees het hulle skielik voorgedoen en jy wou graag in jou hart glo dat hierdie kans wat jy kry is van die Here af omdat dit so fantasies lyk?

Nie alles wat skitter is goud nie.

Kyk weer na daardie skrifgedeelte. Dit sê dat die duiwel doen hom self voor as 'n engel van die lig. M.a.w. hy het ten doel om jou te kul om en om jou te laat dink dat wat hy vir jou aanbied is die ware Jacob terwyl dit eintlik glad nie is nie.

Moenie elke geleentheid wat jou pad langs kom sommer net gryp nie. Hoor eers by die Here of dit werklik van Hom af is en of dit Sy plan vir jou is.

Al wat jou gaan help om te onderskei is om elke dag die wapenrusting van God aan te trek en om seker te maak dat jou kennis en veral jou insig van God se Woord groei. Spandeer ook tyd by die Here sodat jou verhouding met Hom sterk word en sal bly sodat jy nie om elke hoek en draai om die bos gelei en verkul word nie.

Sterkte!

Kom ons bid. Vader ek wil nie gekul word deur die duiwel nie. Gee my asb. wysheid, kennis en insig uit U Woord en maak my geestelik sterk om te onderskei tussen die nagemaakte engel van die lig en die ware God van lig. Ek vra dit in die naam van Jesus Christus. Amen.