Monday 25 August 2014

Hy het daarom ís ons - deur Anton Brink

Ek onthou nog so goed hoedat ’n baie vriendelike jong man een keer lank gelede homself aan my wou kom voorstel het en sommer net ’n bietjie wou gesels terwyl ek een middag in die ateljee besig was om uit te saai.




Moet my nie nou vra wat sy naam was nie, want dít kan ek wraggies nie meer onthou, maar wat hy vir my gesê het, sal my seker vir altyd bybly.

Net nadat hy my hand geskud het, het hy glimlaggend so bietjie na al die toerusting in die ateljee gestaan en kyk en my (amper kinderlik opgewonde) uitgevra oor al die knoppies en rekenaars en dinge en wou hy ook weet hoeveel mense na ons radiostasie luister.

Nadat ek al sy vra gretig beantwoord het, het hy my so vir ’n paar oomblikke stil en stip in die oë gestaan en kyk terwyl hy sy kop goedkeurend knik en toe sê hy die volgende woord wat my tot vandag toe nog bybly, hy het gesê, “Ek gaan óók nog eendag die Here dien... ek wil net eers ophou rook.”

Hy het my heel onkant gevang!

M.a.w. wat hierdie jong man eintlik vir my probeer sê het is dat sodra hy “goed genoeg” is, dán sal die Here hom aanvaar en kan hy dán eers die Here begin dien, maar solank as wat hy hierdie slegte gewoonte of sonde in sy lewe het, is hy nié goed genoeg nie en sal die Here hom dus nié aanvaar nie en kan hy dan tot tyd en wyl hy sy ongeregtigheid eers laat staan nie die Here dien nie.

Ek moes lag vir sy onkunde want wat hy gesê het, is presiés hoe ek ook op ’n tyd oor God gevoel, gedink en geredeneer het. Ek was ook oortuig daarvan dat God se liefde en aanvaarding vir my afhang van my eie persoonlike prestasies en dat hoe beter en “heiliger” ék leef hoe meer sal ek Sy goedkeuring kry en dat ek dus dan op ’n manier die reg verdien om Hom te mág dien sodat Hy my op Sy beurt dan weer sal kan red.

Gelukkig tog het ek al baie lank gelede besef en verstaan dat God se liefde en genade vir my het geen voorwaardes nie. Hy het my lief nét soos wat ek is, máár gelukkig tog het Hy my ook net té lief om vir my (of enige iemand anders) te los soos wat ek is.

Ek kon dié jong man gelukkig darem toe vinnig reghelp en het ek vir hom verduidelik dat dit is omdat die Here Jesus vir ons almal aan die Kruis gesterf het dat ons elkeen kinders van God genoem kan word en vir géén ander rede nie.

Dit is net so goed my agt jarige seun of ses jarige dogtertjie kom sê vir my, “Pappa, ek gaan nog een of ander tyd in jou arm kom lê terwyl ons “Toy Story” kyk maar ek wil net eers ophou stout wees.” Verstaan jy wat ek bedoel? Ek het my kinders hartstogtelik lief ten spyte van die feit dat hulle soms stout is en kan hulle altyd en enige tyd in my arm kom lê, hulle hoef nie éérs soet te wees of te presteer nie. Ek is vir hulle lief nét soos wat hulle is maar juis omdat ek vir hulle lief is, gaan ek hulle mos grootmaak en leer tot die beste van my vermoë en gaan ek hulle dus nie nou net so los soos wat hulle is nie. Hulle moet mos by my en by hulle Ma goeie maniere ens. leer.

In Johannes 3: 16 staan daar geskryf, “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie, wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.”

Het jy gelees wat daar geskryf staan en verstaan jy dit? Dit sê God het die wêreld so (lief) gehad. Begryp jy wat daardie sin eintlik beteken? Hy het vir my en jou so baie omgegee dat Hy gesê het Ek kan onmoontlik nie toelaat dat my kinders verlore gaan nie, ek het hulle net té lief en gee vir hulle net té veel om, Ek sal iets móét doen om seker te maak hulle is veilig al kos dit ook wat. Ek sal al hulle skuld op myself neem en ek sal hierdie swaar las namens hulle dra en dit ook sommer ten volle betaal.

Hy hét, daarom ís ons...

As jy iemand is wat nog nie die Here Jesus as verlosser aanvaar het nie dalk omdat jy nog altyd gedink het jy is nie goed genoeg nie, dan wil ek jou vra om vandag te besef en te verstaan dat jy deur die bloed van die lam van God geregverdig kan word. Nie omdat jý goed genoeg is nie maar omdat Hy goed genoeg is.

Wil jy nie asb. vandag hierdie onderstaande gebed saam hardop bid nie en dan ook jou hart en lewe vir die Here Jesus gee nie? As jy wél besluit om dit te doen, doen dan asb. ook moeite om met ons beraders en gebed vriende by Tygerberg 104fm in kontak te kom sodat hulle jou kan help en raad gee oor waar jy kan inskakel ens. Die kontak nommer is 0861 104 104.

Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat gebore word op hierdie aarde, op pad is hel toe. Al lewe ek hoe goed, tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U teenwoordigheid deurbring nie.

Dankie dat U Jesus, vir my sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my verlossing duur gekoop het.

Dankie Heilige Gees dat U daagliks my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh17:3

Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen




No comments:

Post a Comment