Die Bybel is baie duidelik oor die feit dat niemand tot die Vader kan
kom en die ewige lewe kan beërwe behalwe deur die Here Jesus as
persoonlike verlosser te aanvaar nie.
In Johannes 14: 6 staan daar
geskryf: “Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die
lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”
Verlossing en vryspraak van sonde is eksklusief gereserveer vir dié wat
aanvaar het wat Christus vir hom of haar aan die Kruis gedoen het en
niemand anders nie.
Ek nooi jou dus om vandag die onderstaande
gebed te doen en jou hart en lewe vir God die Vader, God die Seun en God
die Heilige Gees te gee. Bely hardop met jou mond dat jy glo Jesus het
die prys namens jou betaal het aan die Kruis van Golgota en dan sál Hy
jou red.
As jy dit klaar gedoen het, kontak dan asb. ons gebed
vriende by Tygerberg 104fm en sê vir hulle wat jy besluit het en laat
toe dat hulle jou verder leiding gee omtrent wat jou nou te doen staan.
Sterkte!
Kom ons bid. Hemelse Vader, vandag weet ek dat ek, soos alle mense wat
gebore word op hierdie aarde, oppad is hel toe. Al lewe ek hoe goed,
tensy ek by ’n punt kom waar ek besef dat ek ’n Verlosser nodig het, kan
ek nooit uit my eie goeie dade of lewe die Ewigheid in U
teenwoordigheid deurbring nie.
Dankie dat U Jesus, vir my
sondes gesterf het, begrawe is en op die derde dag weer opgestaan het en
opgevaar het na die hemel waar U aan die regterhand van God sit en my
Voorspraak is. Ek bely vandag dat U die Seun van God is en dat U my
verlossing duur gekoop het.
Dankie Heilige Gees dat U daagliks
my metgesel is en dat U my leer en lei in die waarheid. Vandag aanvaar
ek Jesus Christus as my Verlosser en Saligmaker en weet ek dat ek in U
alles het wat ek nodig het om die Ewige Lewe te kry, volgens Joh. 3: 17
Ek dank U dat ek nou in ’n lewende verhouding met U kan wees en dat ek
in U ’n Vriend en daaglikse Trooster en metgesel het. Amen