Friday 14 November 2014

Wanneer God jou oornooi vir ete - deur Anton Brink

Het jy al foto’s gesien van kindertjies wat ondervoed is?


As jy al ooit beeldmateriaal oor die tweede wêreldoorlog gesien het van volwassenes en kinders in konsentrasiekampe of dalk meer onlangse nuusberigte oor hongersnood iewers in die wêreld dan sal jy presies weet waarvan ek praat.

Dit is glad nie mooi om te sien nie.

Daardie kinders se koppe en oë lyk so groot en hulle lyfies is lank, maer en totaal uitgeteer met sulke vet pensies. Hulle kry nie ordentlike voedingstowwe nie en kan dus nie ordentlik groei en ontwikkel om uiteindelik gesonde volwassenes te word nie.

Daar is té veel gelowiges wat geestelik ook so lyk.

God se woord leer vir ons dat ons gees gevoed moet word sodat ons geestelik sterk en volwasse kan word.

Ongelukkig is daar 'n groot hoeveelheid gelowiges wat hulle net glad nie veel steur aan hierdie geestelike eet program nie. Ons kou hier 'n bietjie en kou daar 'n bietjie, stop so nou en dan by 'n geestelike “drive thru” restaurant om darem net gou weer ietsie in te kry maar op die ou einde is daardie “happies” nie regtig genoeg om vir ons volhoubare geestelike groei en stamina te verseker nie.

Om wasdom in jou gees te bereik verg 'n ordentlike toepassing van 'n porsie dissipline in jou lewe waar jy gereeld tyd by die Here spandeer sodat Hy jou van binne af kan voed, leer en lei.

Iemand het eenkeer gesê “a disciple without discipline becomes a disgrace” of in Afrikaans “'n dissipel sonder dissipline word 'n verleentheid”. Maak seker dat jy vir jou self die (gewoonte) aanleer om op 'n gedissiplineerde wyse tyd in te ruim om saam met God aan tafel te gaan sit.

In Romeine 12: 2 (Boodskap vertaling) staan daar geskryf: “Moenie tuis raak in hierdie wêreld met al sy boosheid nie. Nee, laat God julle van binne af nuut maak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan weet wat Hy van julle verwag. Dan sal julle ook weet wat Sy wil is en hoe julle julle lewe elke dag aan Hom moet oorgee.”

Dit wat daar in Romeine 12: 2 geskryf staan kan net gebeur wanneer jy aan die Here behoort en met Hom tyd bestee.

Paulus verwys na ons lewe hier op aarde as 'n wedloop wat ons moet voltooi.

Hoe wil jy jou wedloop ordentlik hardloop as as jy nie goed en reg geëet het nie? As jou gees honger is, gaan jy begin uitsak.

Wanneer jy die Here se geestelike spys en drank inkry sal jy sien en ervaar hoedat jy al hoe meer begin leef, dink en praat soos wat Hy wil hê dat jy moet en jy sal ook baie makliker kan onderskei tussen reg en verkeerd.

Later sal jý selfs die een word wat die pas kan begin aangee vir ander gelowiges wat raad en ondersteuning nodig het.

Sterkte!

Kom ons bid. Here God voed my asb. elke dag met U spys en drank sodat ek kan groei en sterk word in hierdie wedloop van die lewe. Herinner my Vader om gereeld by U tyd te spandeer en ontmoet my asb. daar waar ons twee saam aan tafel gaan sit.


No comments:

Post a Comment